Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
‘Hou vas aan jou lewensoortuiging en moet dit nooit prysgee nie’
Outeur: Sandra Mulder
Gepubliseer: 14/02/2022

“Vind jou lewensoortuiging – daardie ding waarvoor jy onthou wil word; hou daaraan vas en moet dit nooit prysgee nie."

Met haar eie lewe in gedagte waarin sy nooit haar oortuiging prysgegee het om die probleme op te los wat klimaatsverandering in Afrika veroorsaak nie, het me Vere Shaba – een van die top 100 sakevroue in Afrika – verlede week hierdie stukkie lewenswysheid met ons nuwelingstudente gedeel. Shaba was die geleentheidspreker by die Universiteit se jaarlikse sosiale impak-oggend op 10 Februarie 2022. In haar toespraak, getiteld Driving social impact through social entrepreneurship, het sy die nuwelingstudente by die Universiteit aangemoedig om hul spesifieke saak in die lewe te vind wat die wêreld 'n beter plek sal maak. 

Die sosiale impak-oggend se tema was #EKSIEN en is deur Maties Gemeenskapsdiens, die Afdeling vir Sosiale Impak en die Sentrum vir Studentegemeenskappe in die Afdeling vir Studentesake aangebied om nuwe studente van die Stellenbosch- en Tygerberg-kampusse aan die Universiteit se betrokkenheid by sosiale impak bekend te stel. Die hibridiese geleentheid het 'n virtuele simposium met personeel en studente ingesluit en is gevolg deur praktiese aktiwiteite waaraan die studente fisies kon deelneem.

Die vernaamste fokus was om die nuwelinge die Universiteit se verbintenis tot sosiale impak en dat dit 'n institusionele strategiese prioriteit is, te laat “sien". Studente het ook die werklike maatskaplike uitdagings wat met die regering se volhoubare ontwikkelingsdoelwitte (VOD'e) verband hou en die krag van 'n netwerk van belanghebbendes wat saamwerk om om maatskaplike euwels op te los “gesien", sê me Renee Hector-Kannemeyer, Adjunkdirekteur: Sosiale Impak en hoof van Matie Gemeenskapsdiens.

Shaba se loopbaan die afgelope 12 jaar is 'n bewys van hoe sosiale impak deur sosiale entrepreneurskap kan plaasvind. Sy het deur haar volharding, passie en toewyding om Afrika 'n beter plek te maak, 'n kwalifikasie in meganiese ingenieurswese behaal en toe 'n multinasionale ingenieurskonsultasiefirma, Greendesign Africa, gestig. Die firma bring groen geboue, sonkrag en groen ingenieurswese na Afrika.

Shaba se lewensoortuiging is gebore nog lank voordat sy haar maatskappy gestig het. Die wete dat Afrika die vasteland is wat die meeste deur hoë temperature en klimaatsveranderinge geraak word en boonop baie min groen tegnologiese ontwikkeling het, het haar passie laat vlam vat. “En dit is die rede waarom ek hierdie rigting ingeslaan het: Ek het besef en verstaan dat ek my baie klein bydrae in my lewe kan lewer deur eenvoudig met groen geboue en groen ingenieurswese te werk."

Om die nuwe studente te inspireer om ook hul deel by te dra deur maatskaplike uitdagings op te los, het Shaba die studente verseker dat “elke liewe een van hulle kan by al die bestaande geleenthede betrokke raak om sommige van ons grootste uitdagings op te los". “Al wat dit vra, is om jou oortuiging te vind, asook die probleem wat jy wil oplos en die sosiale impak wat jy wil maak, en besluit dan hoe jy dit gaan oplos," het Shaba gesê. Sy het ook bygevoeg dat “elkeen van julle het ten minste een ding wat jy in jou tyd op Stellenbosch en daarna sal kan oplos terwyl jy voortgaan om 'n verskil op ons vasteland te maak."

Hector-Kannemeyer het ter ondersteuning van die gedagte dat elke student hul talente, vaardighede en kennis tot voordeel van die samelewing moet aanwend, verduidelik die Universiteit het 'n verantwoordelikheid om “betrokke studente en gegradueerdes die wêreld in te stuur om ingewikkelde werklike uitdagings in die wêreld op te los".

“Universiteite het 'n sosiale verantwoordelikheid om hul talente aan te wend tot voordeel van diegene in die samelewing wat nie so bevoorreg soos ons is nie en om goedafgeronde denkleiers te ontwikkel wat dít wat hulle geleer en ervaar het, weer kan terugploeg in die samelewing.

Shaba het ter afsluiting gesê: “Die vraag waarmee ek wil afsluit, is: 'Wat is die sosiale impak waarvoor julle elkeen onthou wil word?' Hopelik sal hierdie vraag julle aanmoedig om 'n sosiale impak te hê. Ek het myne gelewer deur maatskaplike entrepreneurskap. Julle sal met die verloop van tyd sien hoe julle as studente van 'n universiteit in Afrika 'n sosiale impak kan hê wat die vasteland sal verander."

Me Precious Nhamo, voorsitter van die portefeulje vir Sosiale Impak en Ontwikkeling op die Studenteraad(SR), het die nuwelingstudente ingelig dat sosiale impak 'n prioriteit vir die SR is en het hulle aangemoedig om betrokke te raak. “Laat ons hier, aan die begin van ons reis by die US, nie net met ons oë kyk nie, maar ook met ons harte sodat ons kan sien waar daar 'n behoefte is en hoe ons kan bydra. Dit is ons plig om terug te ploeg in ons samelewing. Maatskaplike verantwoordelikheid moet die kern van medemenslikheid wees," het sy beklemtoon.

Ter afsluiting van die oggend het al die nuwelingstudente van die Stellenbosch- en Tygerberg-kampusse aan verskeie inisiatiewe saam met die toepaslike gemeenskapsvennote deelgeneem. Dit het gewissel van die maak van ekostene, die versorging van verwaarloosde honde by 'n diereskuiling en die aanplant van spekbome tot die skoonmaak van die Strand se strand en die maak van toebroodjies vir die nagskuiling en omliggende gemeenskappe.

 

 

Fotograwe: Stefan Els, Chevaan Peters en Sandra Mulder