Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
TB-navorser ontvang gesogte genootskap van EDCTP
Outeur: FMHS Marketing & Communication / FGGW Bemarking & Kommunikasie – Susan Erasmus
Gepubliseer: 04/01/2022

Dr Suventha Moodley, 'n TB-navorser aan die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW), het onlangs ʼn drie jaar lange Loopbaanontwikkelingsgenootskap van die Europese- en Ontwikkelende- Lande Kliniese Proewe Vennootskap (oftewel European and Developing Countries Clinical Trials Partnership, of EDCTP) ontvang.

Moodley is 'n nadoktorale navorsingsgenoot by die Kliniese Mikobakteriologie en Epidemiologie (CLIME) navorsingsgroep van die afdeling Molekulêre Biologie en Mensgenetika by die FGGW.

Die EDCTP-program ondersteun kliniese navorsing, die ontwikkeling van navorsingskapasiteit en die daarstelling van internasionale netwerke ten einde die kliniese ontwikkeling te bespoedig van doeltreffende, veilige, toeganklike, geskikte en bekostigbare mediese intervensies vir armoede-verwante aansteeklike siektes wat Afrika suid van die Sahara affekteer.

Die doel van die Loopbaanontwikkelingsgenootskap is om vroeë- tot middel-loopbaannavorsers te ondersteun deur aan hulle 'n geleentheid te bied om hul kliniese navorsingsvaardighede te verskerp en te ontwikkel.

Teen die einde van 2021 het die EDCTP meer as 40 miljoen euro bestee om 201 soortgelyke genootskappe toe te ken as die een wat Moodley ontvang het.

Moodley doen navorsing oor die rol van die mikrobioom, mikrobioom-geassosieerde metaboliete en antimikrobiese weerstand in die verskeie stadiums van die TB-siektespektrum. Haar doel is om 'n bydra te maak in die stryd teen armoede-verwante siektes, soos TB, in Afrika suid van die Sahara. Uiteindelik is die doel om die sosiale en ekonomiese las wat met hierdie siektes geassosieer word, te verlig, of te verminder.

Sy is gebore en het grootgeword in KwaZulu-Natal, en het haar voor- en nagraadse studies in Mediese Mikrobiologie aan die Universiteit van KwaZulu-Natal voltooi. Haar MSc- en PhD-grade het albei op die onderwerp van TB gefokus.

Sy het na die Kaap verhuis om haar nadoktorale navorsing as deel van die CLIME-groep aan die Universiteit Stellenbosch voort te sit.

Oor die jare het sy talle beurse en toekennings ontvang, insluitende die NNS se Innovation and Scarce Skills-beurs, die Professional Provident Fund (PPS)-beurs en 'n toekenning van USAID. In haar vrye tyd geniet sy fotografie, en verken sy graag die Kaapse Wynlande.

"Die EDCTP se Loopbaanontwikkelingsgenootskap sal my die geleentheid bied om my rekenaar- en tegniese opleiding te verbeter (via internasionale opleidingsbesoeke) met die hoofdoel om die voorkoms van antimikrobiese weerstand (AMW) onder ESKAPE ('n versamelnaam vir ses hoogs virulente en antibiotika-weerstandige patogene) bakterieë in mense met tuberkulose, te help ondersoek," sê Moodley.

Die belangrikheid van hierdie navorsing kan nie oorbeklemtoon word nie, gegewe die uitdagings wat beide AMW en TB daarstel.

"Dit is 'n belangrike openbare gesondheidskwessie, want dit verteenwoordig die sameloop van twee groot uitdagings wat globale gesondheid in die gesig staar: AMW, wat aangewys is deur internasionale agentskappe as die grootste toekomstige gesondheidsorg kwessie, en TB, die mees algemene aansteeklike oorsaak van dood," voeg Moodley by.

TB was die grootste oorsaak van sterftes in Suid-Afrika vanaf 2016 tot 2018, volgens Stats SA. Suid-Afrika se hoë MIV-infeksiesyfer speel ook 'n beduidende rol in die hoë aantal TB-sterftes.

Sy voeg by dat die EDCTP-genootskap haar die geleentheid sal bied om bestaande samewerking met ander navorsers te ontwikkel en nuwe bande met ander genote te smee.

“Ek was baie opgewonde oor hierdie geleentheid om samewerking en opleiding in my gekose veld uit te brei," volgens Moodley.