Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Universiteit Stellenbosch bring hulde aan wyle dr Desmond Tutu
Outeur: Corporate Communication and Marketing | Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
Gepubliseer: 26/12/2021

​Hy was ʼn groot morele gesagsfiguur, en ook iemand wat eindelose empatie met alle mense gehad het. Hy het sy tyd en energie ruimskoots gegee om ander se lewens te verbeter," het prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier van die Universiteit Stellenbosch (US), gesê in reaksie op die nuus dat emeritus-aartsbiskop dr Desmond Tutu (90) op 26 Desember 2021 oorlede is.

Dr Tutu het in 2002 'n eredoktorsgraad van die Universiteit Stellenbosch ontvang ter erkenning van sy rol “as leier in die stryd om geregtigheid en versoening in Suid-Afrika" (klik hier vir commendatio). Hy was ook die beskermheer van die Desmond Tutu TB-sentrum in die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe te Tygerberg.

Dr Tutu is op 7 Oktober 1931 op Klerksdorp gebore, en het in die 1980's 'n internasionale ikoon van geregtigheid geword weens sy sterk standpuntinname teen apartheid. Hy was die eerste swart biskop van die Anglikaanse Kerk van Suider-Afrika en het later die Aartsbiskop van Kaapstad geword. Hy het ook as die algemene sekretaris van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke (SARK) sowel as voorsitter van die Waarheids-en-Versoeningskommissie (WVK) gedien. Dr Tutu is wêreldwyd met verskeie pryse vereer, waaronder die Nobelprys vir Vrede in 1984.

Kampvegter in stryd teen TB

Dr Tutu was 'n kampvegter in die stryd teen tuberkulose (TB) nadat hy self dié siekte op 15-jarige ouderdom opgedoen en twee jaar in die hospitaal deurgebring het. Hy het sy naam verleen aan die TB-sentrum, 'n toonaangewende navorsingseenheid in die Universiteit Stellenbosch se Departement Pediatrie en Kindergesondheid, nadat dit in 2003 tot stand gebring is.

Die Desmond Tutu TB-sentrum het sedertdien internasionale erkenning ontvang vir baanbrekernavorsing oor TB by kinders, waaronder van die mees gevorderde navorsing ter wêreld op die gebied van middelweerstandige kindertuberkulose.

Prof Nulda Beyers, voormalige direkteur en stigter van die Sentrum, het gesê almal in dié eenheid is “ongelooflik dankbaar vir die Arch se betrokkenheid en ondersteuning, en vir die wonderlike rolmodel wat hy was". Haar opvolger en huidige direkteur, prof Anneke Hesseling, het gesê dr Tutu “se erflating is ʼn lewende een wat ons daagliks inspireer".

'Hy het die klas opgehelder', en so ook die verhoog

Dr Tutu het in 2013 gevra of hy ook kon ervaar hoe dit sou wees om geneeskunde te studeer. Hy het gesê sy tyd in die hospitaal as kind het hom geïnspireer om 'n dokter te word, maar sy lewe het toe 'n ander rigting ingeslaan. Die nodige reëlings is getref, en dr Tutu het vir 'n paar maande stilweg net nog 'n lid van die klas in die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe geword. Hy het saam met die studente lesings bygewoon, en geleer hoe om die simptome van kindersiektes te herken.

Dr Marlene Morkel, ʼn dosent, sê sy was baie beïndruk met haar nuwe student. “Hy was baie goed daarmee om na die borskas te luister en na abnormale tekens by die simulasiepop op te let. Hy het 'n natuurlike aanvoeling gehad. Vir 'n nuweling was hy fantasties. Hy was ook entoesiasties en het goeie vrae gevra."

Annika Roux, destyds 'n vyfdejaarstudent in geneeskunde, sê dit was wonderlik om dr Tutu te ontmoet. “Hy het die klas opgehelder wanneer hy begin lag en vrae vra. Dit was so lekker om te sien hoe hy ander ondersteun. Dit het almal opnuut bewus gemaak van ons jong pasiëntjies."

Teen die einde van sy kursus is dr Tutu as “ere-geneesheer" aangewys, en het hy 'n stetoskoop ontvang met sy naam daarop gegraveer. Dit is geborg deur die Tygerberg-kinderhospitaaltrust, wat broodnodige geld insamel vir dié hospitaal, waar jaarliks 16 000 babas en kinders opgeneem word.

Dr Tutu was ook ’n beskermheer van die Stellenbosse Internasionale Kamermusiekfees, en het in 2013 in die Endlersaal opgetree as verteller van ʼn werk van die Suid-Afrikaanse komponis Péter Louis van Dijk tydens die tiende herdending van die totstandkoming van dié Fees.

Vreesloos

Wyle president Nelson Mandela het dr Tutu eens beskryf as “soms vurig, dikwels teer, nooit bang nie, en selde sonder humor". En toe dr Tutu in 2012 'n spesiale prys van die Mo Ibrahim-stigting ontvang as “uitsonderlike kampvegter vir die burgerlike samelewing in Afrika" het die destydse Rektor en Visekanselier van die Universiteit Stellenbosch, prof Russel Botman, gesê sy bereidwilligheid om vreesloos standpunt in te neem vir waarheid en geregtigheid, ongeag politieke korrektheid, is wat hom 'n navolgingswaardige leier maak.

In Desember 2011 het dr Tutu ʼn toekenning van die Universiteit Stellenbosch se Afrika-sentrum vir MIV/vigs-bestuur ontvang vir sy “onverpoosde werk om die las van almal wat geraak word deur MIV en vigs te verlig". Die toekenning is deur prof Botman oorhandig by ʼn galakonsert in Kaapstad ter herdenking van Wêreldvigsdag.

Toe prof Botman in 2014 oorlede is, het dr Tutu voor die amptelike begrafnisdiens saam met bedroefde familie en vriende by die gesinshuis gebid. Hy het prof Botman beskryf as 'n “moedige jong kerkleier wat sy tyd ver vooruit was en wat te midde van die mense se stryd teen apartheid in die 1980's na vore getree het om druk op ouer kerkleiers te plaas".

In 'n toespraak by die Universiteit Stellenbosch op 25 Maart 2015 het dr Tutu gesê die verwoestende impak van TB op so baie Suid-Afrikaners is skandelik. “Ons kan dit nie aanvaar nie. TB is 'n behandelbare siekte. Ons het 'n nuwe stel gereedskap nodig om die siekte te diagnoseer en te behandel. TB moet ons volgende vryheidstryd wees, naas die stryd teen armoede."

Nalatenskap

Dr Tutu was ten nouste verbonde aan die Universiteit Stellenbosch se Beyers Naudé-sentrum vir Publieke Teologie. Hy het die openingsrede gelewer toe die Sentrum in 2002 in die lewe geroep is, en het later aan baie van hul konferensies en seminare deelgeneem, waaronder ʼn simboliese herbelewenis in 2014 van die WVK-verhore vir die geloofsgemeenskap. Hy was ook 'n spreker by die Internasionale Calvyn Konferensie in 2009, wat deur die Universiteit Stellenbosch aangebied is om die Fakulteit Teologie se 150ste bestaansjaar te gedenk.

“Hy het vir waarheid, vryheid en hoë morele waardes opgekom, maar altyd met nederigheid. Ons moet sy nalatenskap lewend hou deur sy bydrae tot voordeel van toekomstige geslagte na te vors en te bespreek," het prof Christo Thesnaar van die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Teologie gesê.

Volgende geslag

Marius Louw, ʼn nagraadse teologiestudent, het dr Tutu ontmoet toe die aartsbiskop in 2013 ʼn groep Maties by sy Nagmaaltafel in die St. George-katedraal in Kaapstad verwelkom het. Hy beskryf dié ontmoeting in ʼn bydrae tot die boek Diskoerskafee, uitgegee deur die Universiteit Stellenbosch se Frederik Van Zyl Slabbert (FVZS) Instituut vir Studenteleierskapsontwikkeling in 2015.

“Kort voor ons vertrek het een van die studente hom gevra of sy 'n drukkie kon kry. Hy het opgestaan en ons almal ʼn drukkie gegee. Dit het gelyk of hy tevrede was in die wete dat hy in sy lewe gedoen het wat hy kon. Ek sal so ver gaan as om te sê dat daar vir hom 'n soort bevryding daarin was om te weet dat die volgende geslag die fakkel by hom sal oorneem," skryf Louw.

Dr Leslie van Rooi, die vorige hoof van die FVZS Instituut aan die Universiteit Stellenbosch, meen “Die ideale van Desmond Tutu is die inspirasie van 'n nuwe generasie leiers wat glo in die moontlikhede van ons land en sy mense. Sy egtheid, passie, geloof en vaste oortuigings stel ander in staat om verder te sien, meer te doen en om uit te styg bo die hier en nou. Niemand kan dit vergeet of uitdoof nie."

Mag van bemiddeling

Dr Tutu het by geleentheid ʼn werksessie met kinders uit benadeelde gemeenskappe bygewoon waar hulle portuurbemiddelingsvaardighede aangeleer het. Dít was in sy hoedanigheid as beskermheer van die Afrika-sentrum vir Geskilbeslegting by die Universiteit Stellenbosch Bestuurskool (USB).

“Hy het geweet die vermoë om mense dieselfde oor iets te help dink en verskille regverdig en doeltreffend te bestuur, is noodsaaklike vaardighede vir die toekoms van ons land," het prof Brian Ganson, hoof van die Sentrum, gesê.

“Hy was ʼn sprekende bewys van die mag van bemiddeling om mense, verhoudings en stelsels te transformeer. Maar in die oorgang tot demokrasie in Suid-Afrika, sowel as in sy latere werk op die nasionale en internasionale verhoog, het hy enige benadering tot konflikbeslegting wat op 'n 'kompromis' toegespits was, vermy. Hy was eerder onwrikbaar oor kernbeginsels – soos om almal as medemenslik te behandel, selfs die moeilikste onderhandelingsvennoot. Hy het ʼn ganse geslag gewys dat om volhoubare oplossings te vind, ons kampvegters vir geregtigheid sowel as versoening moet wees."

“Ons sal hom baie mis, maar ons is dankbaar vir sy nalatenskap," het prof Wim de Villiers gesê.

DODEMIS

'n Dodemis ter nagedagtenis aan emeritus aartsbiskop Desmond Tutu is op Woensdag 29 Desember 2021 in die All Saints-kerk, Somerset-Wes, gehou. Vir 'n opname van die diens, wat regstreeks op Facebook uitgesaai is, klik hier.

 
VIDEO'S
 
Vir video's van dr Desmond Tutu op die Universiteit Stellenbosch se nuusplatforms, klik op die skakels hieronder.

ONDERSKRIF: Wyle dr Desmond Tutu, afgeneem in 2018. Foto: Stefan Els, Universiteit Stellenbosch