Hierdie artikel is op 14 Desember 2021 op Netwerk24 gepubliseer. Klik hier vir daardie weergawe of lees die volledige teks hieronder.
Die hersiene taalbeleid wat die Raad van die Universiteit Stellenbosch vandeesmaand goedgekeur het, bied geleentheid om 'n samehorigheidsgevoel op kampus te bevorder, skryf Deresh Ramjugernath*.
Gesprekke oor taal by en oor die Universiteit Stellenbosch (US) is dikwels vurig. Taal is immers deel van ons identiteit, herkoms en kultuur, en speel 'n groot rol in hoe ons sin maak van die wêreld om ons.
By 'n hoëronderwysinstelling word hierdie kwessies onder 'n vergrootglas geplaas namate jong volwassenes met die kernvrae van die lewe begin worstel en hulleself voorberei vir professionele werksomgewings. Hoe skep 'n mens dus by 'n universiteit 'n omgewing waar waardering vir kultuur- en herkomsverskille gevier word, en waar dit nie as struikelblokke beskou word nie?
Die US se hersiene Taalbeleid is juis daarop gemik. Ons wil graag 'n gemeenskap op ons kampusse skep wat toegerus is om Suid-Afrika se behoeftes te hanteer, en gegradueerdes lewer wat aktief 'n verskil maak in die samelewing.
'n Leergeleentheid
Reg deur my professionele lewe as 'n ingenieur en akademikus in Suid-Afrika het ek met verskeie tale in aanraking gekom. In die mynbedryf, waar ek dekades gelede gewerk het, is daar beslis nie net een taal gepraat nie. Ek het onder meer daar geleer om in Afrikaans oor die weg te kom. Later in my loopbaan, aan die Universiteit van KwaZulu-Natal, was Zoeloe, naas Engels, die taal wat 'n mens die meeste gehoor het. In jou onderbewuste bou 'n mens 'n woordeskat op wat ver buite die grense van jou eerste taal strek.
Ek het vanjaar Afrikaanse klasse begin geneem en beplan om volgende jaar met isiXhosa-lesse te begin. Een van die dinge wat ons graag by die Universiteit deur middel van ons Taalbeleid wil bevorder, is om mense aan te moedig om ander tale te leer. Om net jou huistaal – ook as dit Engels is – te gebruik en daarmee te volstaan is om 'n kans op 'n ryker studente-ervaring te verspeel.
'n Meertalige ingesteldheid
Die toepassing van ons hersiene Taalbeleid, wat in Januarie 2022 in werking tree, is veelvlakkig, maar ek lig graag 'n paar kernpunte uit.
Die beleid maak voorsiening vir die gebruik van Afrikaans, Engels en isiXhosa in leer en onderrig aan die US én in ons kommunikasie. Dit beskryf ook die mate waarin elke taal in verskillende situasies gebruik behoort te word. Afrikaans en Engels is as die US se primêre leer- en onderrigtale aangewys, maar transtaligheid in veelvuldige tale word aangemoedig om leer te ondersteun en te verryk. IsiXhosa as akademiese taal sal besondere aandag geniet met die doel om dit na gelang van studentebehoeftes geleidelik in verskeie dissiplines bekend te stel, waar dit redelikerwys doenlik is. Die US dra deur middel van sy eie inisiatiewe en 'n vennootskap met ander universiteite en entiteite by tot die bevordering van isiXhosa as 'n bykomende akademiese taal.
Die beleid is eerstens toegespits op die mag van taal om mense te verenig. Tweedens bevorder die beleid billike toegang en derdens ondersteun dit studentesukses.
Suid-Afrikaners se kennis en vaardighede word internasionaal hoog op prys gestel. Ons multikulturele en diverse agtergrond en vermoë om vir verskillende kulture voorsiening te maak dra hiertoe by.
Deur middel van ons Taalbeleid wil die US 'n omgewing kweek wat, deur taal, verskillende kulture omarm en waardeer. Ons wil hê studente moet bewus wees van hoe hulle met taal omgaan, en 'n meertalige ingesteldheid ontwikkel in hul interaksies met ander.
Daar is dalk 'n verwagting dat die Taalbeleid 'n enkelpad moet wees waarop almal ewe vinnig ry, haastig op pad na die eindbestemming. In die praktyk is dit egter 'n hoofweg met verskeie bane waar almal verskillende aansluitings gebruik, teen hul eie spoed ry, maar wel na 'n gemeenskaplike eindpunt op pad is.
'n Universiteitsgemeenskap is 'n mikrokosmos van die samelewing. Gegewe dat Suid-Afrika ryk is aan diversiteit, behoort 'n beleid wat die belangrikheid van meertaligheid beklemtoon, sosiale samehang te ondersteun en bevorder.
Wat dan van Afrikaans?
Ons Taalbeleid het ten doel om almal wat aan die US werk en studeer gemaklik en ingesluit te laat voel. Dit geld ook vir studente, kollegas en besoekers wat Afrikaans praat.
Dit is al voor die US se deur gelê dat die Universiteit eintlik eksklusief Engels wil wees en aktief probeer om die gebruik van Afrikaans te verminder. Dit is egter gewoon onwaar.
Ek waardeer en verstaan die vrese van die Afrikaanssprekende gemeenskap en hulle bekommernis dat 'n bepaalde identiteit en kultuur gaan sneuwel indien Afrikaans uit die prentjie verwyder gaan word. Ons Taalbeleid skep egter juis die ruimte om Afrikaans te bewaar en voortdurend te gebruik.
Om aktief 'n veeltalige omgewing te skep waarin alle studente en personeel verskeie tale waardeer en gebruik, sal op die langtermyn die volhoubaarheid van daardie tale bevorder.
Hoe is die beleid opgestel?
Die US se Taalbeleid moet elke vyf jaar hersien word. Tydens die jaar lange proses om die vorige Taalbeleid (2016) te hersien, is wyd oorleg gepleeg deur die aangewese taakgroep. Daar was twee openbare geleenthede vir insette, en die taakgroep het alle kommentaar oorweeg.
Dié taakgroep, wat verantwoordelik was vir die hersieningsproses, het uit verteenwoordigers van ál tien die US se fakulteite en sy professionele en administratiewe steundienste sowel as studenteverteenwoordigers bestaan, en tegniese kenners is op grond van spesifieke kundigheid betrek. Hulle het altesaam 24 vergader.
Interne liggame van die US – waaronder die Institusionele Forum, Senaat en Raad – is drie keer geraadpleeg en alle insette het die beleid voortdurend gevorm.
Groeipyne en uitdagings
Natuurlik gaan 'n taalbeleid gepaard met groeipyne en leerkurwes. Maar daar is stelsels beskikbaar om sulke uitdagings die hoof te bied.
Die Taalbeleid maak voorsiening vir meganismes om akademiese toesig, doeltreffende bestuur en behoorlike oorsigbestuur ten opsigte van taal-implementering te verseker. Dít vind plaas binne 'n raamwerk wat fakulteite in staat stel om taalimplementeringsplanne op te stel en prosedures te ontwikkel vir verantwoordbaarheid en verslagdoening aan tersaaklike strukture.
Die US Taalsentrum verleen steun, en die beleid beskryf ook terugvoer-, monitering- en konflikbeslegtingsmeganismes, wat klagteprosedures insluit.
'n Belangrike vraag bly: Hoe bou ons 'n beter samelewing waar studente met nuwe oë na mekaar en die wêreld kyk, en eindelik 'n beter Suid-Afrika en wêreld skep?
Ek glo die US se nuwe Taalbeleid dui in die regte rigting om hierdie doel te help verwesenlik.
*Prof Deresh Ramjugernath is die Viserektor: Leer en Onderrig aan die Universiteit Stellenbosch.
Die artikel het op Netwerk24 verskyn.