Hierdie artikel is op 12 Desember 2021 in Rapport gepubliseer. Klik hier vir daardie weergawe of lees die volledige teks hieronder.
Die Universiteit Stellenbosch se nuwe taalbeleid het van onder af boontoe ontwikkel, skryf Leslie van Rooi*.
Die Raad van die Universiteit Stellenbosch het voorverlede week dié instelling se nuwe taalbeleid goedgekeur. Meertaligheid in die konteks van ons land is ingewikkeld. Jy moet daarmee worstel, maar dit is wat 'n diverse land soos Suid-Afrika van sy mense vra. En dit is 'n kern deel van die rol wat 'n universiteit hier behoort te speel.
My kantoor op die Stellenbosch-kampus van die Universiteit Stellenbosch (US) kyk uit oor 'n gedeelte van die bekende Rooiplein. Ek verluister my soms aan die veelvoud van stemme en aksente van studente wat voor my venster verbystap klas toe – mense uit verskillende agtergronde en taalgemeenskappe wat hier is om saam te leer, maar ook saam te leef.
Die US se nuwe taalbeleid wil hierdie konteks verder stimuleer en bevestig. Die nuwe taalbeleid het tot 'n groot mate van onder af boontoe ontwikkel en is 'n beleid vír die kampusgemeenskap déúr die kampusgemeenskap. Immers is dit 'n beleid wat hiér prakties toegepas moet word.
Hoe het die beleid sy beslag gekry?
Die nuwe taalbeleid is die resultaat van 'n omvattende, deursigtige en oorlegplegende hersieningsproses in die vyfde toepassingsjaar van die vorige beleid. 'n Beleid aan 'n openbare universiteit word nie deur 'n enkele persoon of 'n groepie individue opgestel en goedgekeur nie. Behalwe vir die eksterne konsultasieproses was daar ook verskeie rondtes van interne oorlegpleging. 'n Taakspan met verteenwoordiging vanuit alle fakulteite en verskeie ander US-omgewings, wat ook studente ingesluit het, het in 24 werksessies die taalbeleid hersien, met bykomende kundigheid gekoöpteer soos nodig.
Die taakspan het ook via twee openbare deelname-prosesse meer as 600 kommentare ontvang wat vir insluiting oorweeg is. Dié, sowel as die taakspan se terugvoering, is vervat in reaksieverslae wat saam met ander relevante dokumente op die US se taalbeleidshersieingswebblad (www.sun.ac.za/taal) vir die publiek beskikbaar is.
Hoewel die US se taalbeleid 'n gebruiksdokument is vir personeel en studente, is universiteite deel van 'n land en sy gemeenskappe. Vir die US om sy rol in die samelewing ten beste te vervul, doen hy dit in vennootskap met ander rolspelers. As 'n openbare instelling met verskeie belanghebbendes is dit daarom gepas dat die US wyd gekonsulteer het en dat die inligting deurgaans op ons webblad beskikbaar was. Intern was daar ook drie rondtes van konsultasie met fakulteitsrade, die Institusionele Forum, die Senaat en die Raad.
Die Taalbeleid (2021) is dus die kulminasie van twee doelbewuste openbare deelname-prosesse sowel as kritiese interne gesprekke wat gemik is op die daarstel van 'n beleid wat binne die konteks van 'n veranderende US prakties toegepas moet word.
'n Veranderende universiteit
Die nuwe taalbeleid is natuurlik meer as net 'n dokument van 18 bladsye. Dit moet verskeie dinamiese prosesse aan die US rig. So waar gaan die beleid dan uitgeleef word?
Oor dekades heen het baie dinge aan die US verander: Die kampusgemeenskap is veel meer divers, die getal studente is beduidend meer, ons impak plaaslik en vennootskappe internasionaal is aansienlik meer en die US is met reg 'n navorsingsintensiewe universiteit op 'n wêreldverhoog. Dit is dus 'n nasionale bate met plaaslike en internasionale impak – een van die topuniversiteite in die wêreld.
Hiermee saam is dit ook 'n plek waar studente en personeel saam kan leer en leef, saam soek na relevante antwoorde gemik op vrae in die samelewing wat aan gegradueerdes die nodige kennis en vaardighede bied om die uitdagings van hul tyd te hanteer.
Hierdie uitdagings vra juis van ons gegradueerdes om hulself ten volle te kan uitleef in 'n multikulturele, meertalige wêreldkonteks – iets wat in die kleine reeds op ons kampusse ervaar kan word.
Wat wil die US met die bereid bereik?
Soos met enige ander beleidsdokument is dit belangrik om te bepaal deur watter lense die beleid geïnterpreteer moet word. Die beleid wil veral drie aspekte, in verhouding tot ander beleide en prosesse aan die US, bereik. Dit is naamlik toegang en sukses, sosiale kohesie op ons kampusse en die bevordering van 'n meertalige ingesteldheid.
Die beleid maak voorsiening vir die gebruik van Afrikaans, Engels en isiXhosa in sowel leer en onderrig as kommunikasie aan die US. Afrikaans en Engels is as die Universiteit se primêre leer- en onderrigtale aangewys, maar transtaligheid in veelvuldige tale word aangemoedig om leer te ondersteun en te verryk. IsiXhosa as akademiese taal sal na gelang van studentebehoeftes geleidelik in verskeie dissiplines bekendgestel word.
Die beleid het dus ten doel om meer studente van diverse agtergronde tuis te laat voel op ons kampusse en om uiteindelik die US as afgeronde gegradueerdes te verlaat. Sosiale kohesie is iets wat ons land en samelewing van ons vra. Verskeie taalgemeenskappe moet hulself hier kan uitleef en ons moet saam met mekaar die leefwêrelde agter ons tale en dialekte kan deel. Daarom meen die US 'n taalbeleid wat meertaligheid ook as 'n ingesteldheid bevestig, is nodig.
Die nuwe beleid plaas dus groter klem op meertaligheid – waaronder 'n meertalige ingesteldheid – en selfs transtaligheid – die gebruik van tale in onderrig en sosiale ruimtes waarin mense verskillende tale kan gebruik en spontane en informele tolking plaasvind te midde van wedersydse respek en verdraagsaamheid vir verskillende taalvaardighede.
Leer en onderrig aan universiteite het baie verander, so daar is 'n sterker klem op die gebruik van bykomende hulpbronne in die klaskamer, maar ook buite die klaskamer – in persoon en aanlyn. Dus kan die grondbeginsels van die beleid tereg gesien word as die daarstel van meertaligheid as 'n hulpbron binne en buite die klaskamer, die verbreding van toegang met sukses vir nog meer studente sowel as pedagogies verantwoordbare leer en onderrig.
Wat word bedoel met redelikerwys doenlik?
In hierdie diskoers moet ek nog 'n aspek uitlig waaroor baie geskryf word. Soos met die taalbeleid van 2016 is daar weer vrae oor wat presies met die term redelikerwys doenlik bedoel word.
Kortom, om op 'n regverdige en tegemoetkomende manier verskeie aspekte van die taalbeleid toe te pas. Wat redelikerwys doenlik is, word bepaal op meriete en aan die hand van kontekstuele faktore, soos die getal studente wat by 'n bepaalde metode sal baat vind, die taalvaardigheid van personeel en studente, en hulpbron-, rooster- en lokaalbeperkings.
Die samestelling van studente kan van jaar tot jaar onder meer wat taalvaardigheid en taalvoorkeur betref drasties verskil, kampuswyd maar ook in bepaalde omgewings. Die oogmerk met die beleid en die toepassing daarvan is om aanpasbaar te wees en vinnig te kan reageer op personeel en studente se veranderende behoeftes.
Die pad vorentoe
Oor meer as 12 maande het die US 'n doelbewuste proses van konsultasie gevolg om 'n omvattende en duidelike beleid daar te stel wat uitvoerbaar is in die konteks van die US – in die klaskamer, in interne en eksterne kommunikasie en in die leefwêreld van studente. Nou moet ons werk maak daarvan om die beleid in ons fakulteite, ondersteuningsdienste en studentegemeenskappe toe te pas.
Dit sal beslis nie 'n taak sonder uitdagings wees nie en ons sal op verskeie punte lesse moet inoefen wat reeds geleer is. En ons sal nóg lesse leer. Maar dit is die pad wat die US kies omdat ons daarvan oortuig is dit sal die Universiteit werklik vestig as 'n nasionale bate wat toegang met sukses wil verseker.
- Dr. Leslie van Rooi is Senior Direkteur: Sosiale Impak en Transformasie en die US se taalwoordvoerder.