Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Gesogte medalje vir US-alumnus en sakeleier
Outeur: Naude van der Merwe
Gepubliseer: 17/12/2021

Die Universiteit Stellenbosch (US) se gesogte Pro Bene Merito-medalje is vandeesweek aan Mnr Desmond Smith oorhandig vir sy bydrae tot die Universiteit. Hy het dit op Woensdag 15 Desember tydens gradeplegtigheidsweek by die Kanseliersete by Lanzerac ontvang.

Die Pro Bene Merito-medalje word uitgegee aan persone vir hul uitsonderlike diens en bevordering van die US se algemene belange op plaaslike en internasionale vlak.

Smith, die voormalige besturende direkteur van die Sanlam-groep, het 'n betekenisvolle invloed op die Suid-Afrikaanse finansiële sektor oor die afgelope paar dekades gehad.

As 'n alumus van die US het Smith, 'n aktuaris van beroep, verskeie innovasies by Sanlam in werking gestel waarvan baie vandag steeds gebruik word. Hy het Sanlam se makelaarsafdeling tot stand gebring, wat 'n belangrike bydrae tot die maatskappy se verspreidingsvoetspoor lewer. Hy het ook aan die voorpunt van belangrike mylpale gestaan soos die posisionering van die maatskappy vir demutualisering wat in 1998 suksesvol plaasgevind het. Sanlam het op hierdie wyse bygedra tot die ontsluiting van welvaart en die verdeling van die maatskappy se eienaarskap onder alle Suid-Afrikaners.

Tydens die dinee het Smith gesê hy is werklik geëerd om die medalje te ontvang en dat sy betrokkenheid by die US 'n groot deel van sy professionele en persoonlike lewe uitmaak.

“Sover was dit 'n ongelooflike reis, en daar was verskeie hoogtepunte en uitdagings. Ek nou al, in een of ander rol, vir ongeveer 30 jaar by die Universiteit betrokke."

Tydens hierdie tyd, en deur die loop van sy professionele loopbaan, het Smith besef hoe belangrik dit is om terug te gee. “Ek het besef ek is nie net iets aan die aktuariële professie verskuldig nie, maar ook aan my alma mater," het hy gesê. Hy het sy kundigheid met die bedryf en die hoëronderwyssektor gedeel.

Hy het vir 12 jaar – waarvan ses jaar as voorsitter – in die US Raad gedien. Hy is ook sedert 1999 'n trustee van die Stellenbosch Trust en lewer sedert 2003 'n waardevolle bydrae as lid van die adviesraad van die Universiteit van Stellenbosch Bestuurskool. Hy is ook voorsitter van die raad van die Stellenbosse Instituut vir Gevorderde Navorsing (STIAS) en dien as voorsitter van Innovus.

Sy onafhanklike denke dwing groot respek af, en hy is deur die destydse president van Suid-Afrika, Thabo Mbeki, aangestel om in die Kommissie vir die Vergoeding van Openbare Ampsdraers te dien. Die kommissie moes 'n raamwerk vir die bepaling van die salarisse, toelae en voordele van openbare ampsdraers daarstel.

Smith het sy toespraak afgesluit met 'n herinnering dat alle lede van die samelewing moet nadink oor die rol wat hulle kan speel. “Die feit is dat ons almal aan iets of iemand verskuldig is – aan ons professies, ons universiteite en die samelewing.

“Ek het baie geleenthede gehad wat my kant toe gekom het. En dit is ons almal se plig – veral nou – om 'n bydrae te maak en te dink oor hoe ons 'n verskil kan maak," het hy gesê.