Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Geskiedkundige week vir 3 studente van WOW-skoolprojek
Outeur: Corporate Communication and Marketing/Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking - Sandra Mulder
Gepubliseer: 15/12/2021

Drie eerstegenerasiestudente van die WOW 50-skoolwerwingsprojek het vandeesweek gedurende die Universiteit Stellenbosch se Desember hibridiese gradeplegtigheidsweek gegradueer nadat hulle verskeie hindernisse moes oorkom om hul droom om 'n tersiêre kwalifikasie te behaal, te verwesenlik.

Rudy-Lee Booyse (Baccalaureus-graad in Opvoedkunde), Shaznay Bernardo (Nagraadse Onderwyssertifikaat of NOS) en Charlton Davids (Baccalaureus-graad in Teologie) het die geskiedenisboeke herskryf deur die eerste persoon in hul gesinne te word om 'n universiteitskwalifikasie te verwerf.

Die WOW-skoolprogram, 'n bemagtigingsinisiatief van die US Woordfees, het hulle geïdentifiseer en vir universiteitstudie gewerf terwyl hulle nog op hoërskool was. Die program werf voornemende studente in minderbevoorregte gemeenskappe. WOW se personeel gee dan leiding en ondersteuning aan hierdie verdienstelike leerders wat graag wil verder studeer van hul skooldae af totdat hulle gradueer.

Toe hulle gevra is om hul verhale te vertel, het al drie hul gradeplegtigheid as een van die wonderlikste ervarings nog ooit beskryf en volgens hulle maak dit al die harde werk en swaarkry wat hulle moes deurstaan, die moeite werd.

Rudy-Lee Booyse

“Ek is vandag 'n trotse gegradueerde – die eerste van vyf kinders om te gradueer. Ek is veral trots op hierdie prestasie omdat ek van die Kaapse Vlakte af kom waar sosio-ekonomiese omstandighede mense laat stagneer. Ek is baie opgewonde oor die toekoms en oor wat ek met hierdie graad kan bereik," sê Booyse.

Toe hy aan die Atlantis Sekondêre Skool op die Kaapse Vlakte gematrikuleer het, was hy deel van die WOW-skoolprojek wat hom gehelp het om in 2017 met sy studies vir 'n B-graad in die natuurwetenskappe te begin.

Later daardie jaar is sy wêreld heeltemal aan flarde geruk toe sy pa skielik oorlede is. “Die omstandighede van my pa se dood is iets wat ek my nooit sou kon indink nie. Dit het 'n negatiewe invloed op my studie gehad."

Gedurende hierdie traumatiese tyd het Booyse baie nagedink oor sy lewe en sy lewensdoel, asook oor sy oorlede pa se wense dat hy 'n onderwyser moes word. “Ek het baie aan my pa se woorde gedink. Hy het altyd gesê ek is 'n 'gebore onderwyser' en dat ek opvoedkunde moes studeer," vertel Booyse.

Hy verander toe sy studierigting in 2018, skryf in vir die BEd-program, en behaal die kwalifikasie by die 2021 Desember gradeplegtigheid.

Shaznay Bernardo

Bernardo, wat van Atlantis afkom, glo 'n mens hoef nie deur jou swaarkry gedefinieer te word nie, maar dat jy eerder krag daaruit kan put.

Met hierdie siening as haar lewensopvatting, het sy vir twee kwalifikasies gestudeer terwyl sy swanger was en sy moes 'n noodkeisersnit gedurende haar eindeksamen in 2019 ondergaan. Daarna moes sy die rolle van moederskap en studentwees vervul terwyl sy probeer het om al haar verantwoordelikhede na te kom.

Danksy harde werk en deursettingsvermoë het sy in Maart vanjaar haar BA-graad in Internasionale Studies behaal en vandeesweek het sy haar NOS met onderskeiding ontvang. Sy is nou 'n gekwalifiseerde onderwyser. “Ek hoop ek kan 'n invloed hê as onderwyser en die lewens van die jeug van Suid-Afrika verander."

Afgesien van haar studies, was sy ook by Die Matie-studentekoerant en die Saxonsea Sekondêre Skool se WOW-skoolkoerantprojek betrokke en 'n lid van studenteverenigings soos Adam Tas, Maties se Rasieleiers en Maties PAW.

Sy beplan om aanstaande jaar haar nagraadse studie voort te sit in Opvoedkundige Ontwikkeling en Demokrasie, terwyl sy ook haar tweejarige dogter grootmaak.

Charlton Davids

“Ek is superopgewonde oor my graad in Teologie. Al die harde werk was die moeite werk en ek is baie trots daarop om die eerste persoon in my familie te wees om universiteit toe te gaan en 'n graad te verwerf," sê Davids.

“Die feit dat ek weet waarheen ek in die lewe op pad is en dat ek nie alleen is nie – daar is honderde ander studente wat soortgelyke moeilikhede ondervind – het my op koers gehou. My vriende en familie het my die hele tyd, veral in die moeilikste tye, aangemoedig en onderskraag," vertel Davids. 

Die belangrikste bron van hoop en aanmoediging was sy vertroue en geloof in God en sy beloftes. “Hy het vir my die krag gegee," sê Davids.

Hy is een van vier kinders en het in 2017 aan die Luckhoff Senior Sekondêre skool gematrikuleer, waarna hy in 2019 met sy akademiese program begin het.

“Ek het n paar uitdagings ondervind. Een daarvan was leed, want ek het dit gehaat om te lees. Die program het vereis dat ek baie moes lees. Ek moes soms artikels van tien bladsye of meer lees. Dit het my angsbevange gemaak," sê Davids.

Hy moes ook die meeste van sy studeerwerk en werkopdragte op kampus voltooi, aangesien daar bedags teveel geraas by die huis was. “Wanneer ek nie al my werk op kampus kon klaarkry nie, moes ek laat in die nag werk om dit te voltooi en dan ook vir die volgende dag se klas, toets of eksamen voorberei," vertel hy.

Om dinge nog erger te maak, het sy skootrekenaar gedurende die grendeltyd onklaar geraak en het hy omtrent al sy akademiese werk wat hy op sy rekenaar gestoor het, verloor. “Ek moes aanlyn eksamen skryf en al die akademiese werk weer van voor af lees," onthou hy.

Hy beplan om aanstaande jaar nagraads verder te studeer.