Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Baanbrekende navorsingsprojek in digitale formaat gelewer
Outeur: Sue Segars
Gepubliseer: 22/12/2021

Na ’n “intense” en “moeilike” PhD-reis, het die kontemporêre kunstenaar, Nicola Deane, die eerste student by die Universiteit Stellenbosch geword om ’n PhD-graad in sy geheel in digitale formaat aan te bied. Dié baanbrekerswerk baan die weg vir studente in ander studierigtings om ook hierdie formaat te gebruik.  

Deane, wat oor veelvoudige platforms en media werk, ontvang vandeesweek haar PhD-graad in Visuele Kunste. Dit is getiteld Decentering the Archive: Visual Fabrications of Sonic Memories. Sy maak in haar interdissiplinêre praktykgebaseerde navorsingsprojek van argiefmateriaal van die Dokumentasiesentrum vir Musiek, of DOMUS, gebruik om oudiovisuele media vir ’n konseptuele kunsinstallasie te skep.  

Toe COVID-19 “’n stok in die wiele steek” en ’n uitstalling van haar werk onmoontlik maak, het sy ’n virtuele tentoonstelling van haar proefskrif en uitstalling aangebied. Sy het sodoende ’n PhD-formaat geskep wat volgens haar toesighouer, Prof Stephanus Muller, by uitstek vir die kunste geskik is, maar waarskynlik ook vir ander studierigtings waar praktiese werk en nie-teksgebaseerde werk deel uitmaak van die navorsingswerk. Deane het die digitale platform, herri, ’n kultuurjoernaal en projek van die Africa Open Instituut (AOI) vir Musiek, Navorsing en Innovasie wat vrylik toeganklik is, in haar werk gebruik.  

Muller, Direkteur van die AOI, het haar meestersgraaduitstalling gesien en voorgestel dat sy die DOMUS-argief gebruik om visuele reaksies vir die musiekverwante materiaal te ontwikkel. Haar navorsing was ’n visueel-gebaseerde verkenning van die klankargiewe van die DOMUS. In haar werk, wat deur  Muller as ’n “kragtige feministiese teks” beskryf word, het sy ooreenkomste geïdentifiseer tussen die “toesluit” van vroue in huishoudelike ruimtes en die kategorisering en ordening wat ’n argief kenmerk.  

“Sedert ek die reis in die nasleep van die studentebetoging in 2015 begin het, wou ek dekoloniale teorieë en dekoloniseringspraktyke vir my navorsing in beslag neem. Daarom het ek met die titel, Decentering the Archive: Visual Fabrications of Sonic Memories, vorendag gekom met die doel om die objek van my studie te desentreer of te destabiliseer. Dit het egter ontwikkel toe ek besef hoe groot die gaping tussen my ‘rustige, huislike plattelandse lewe’ en die raserige polities ontevrede stedelike werklikheid is. Ek moes diep besin oor my marginale posisie tot die stryd van die gemarginaliseerdes,” sê Deane.   

Die Skotsgebore Deane wat op tweejarige ouderdom na Suid-Afrika verhuis het, het haar voorgraadse studies aan die Michaelis School of Fine Art aan die Universiteit van Kaapstad gedoen. Sy het tien jaar later teruggekeer om haar meestersgraad te doen nadat sy ma geword het. In 2012 is haar meestersgraad in die Kunste met onderskeiding aan haar toegeken voordat sy na Greyton verhuis het. Sy is ’n nagraadse studiebeurs in 2016 toegestaan om haar PhD in Visuele Kuns aan die Universiteit Stellenbosch te doen.  

Dit voel wonderlik om die eerste student te wees wat ’n PhD-graad in digitale formaat aan die US voltooi, veral ná die uitdagings wat COVID-19 gebied het. Ek moes my aanvanklike planne om ’n installasie vir die eksamen te doen, heroorweeg en my verbeelding eerder op ’n virtuele aanbieding fokus. Gelukkig het die geleentheid hom voorgedoen om die digitale platform herri te gebruik wat my teleurstelling uit die weg geruim het. Ek was baie opgewonde om die digitale domein vir die aanbieding van my navorsing uit te werk, waar die kunswerke meer volledig mee omgegaan kon word tydens die lees van die proefskrif.  

“Met die ontwerp van die proefskrif vir die webwerf het ek meer beheer gekry oor die manier waarop dit gelees kon word. Dit het die verband tussen die tekstuele en kreatiewe uitkomste van die navorsing blootgestel. Die verskillende kenmerke van herri het my in staat gestel om visuele opwip-verwysings en skakels te skep, my eie filmwerke sowel as YouTube-video’s waarna ek verwys, vas te lê en om die teks met oudiolêers of beeld-carrousels te onderbreek. Die doel was om teorie met die praktyk te integreer en die leeservaring meer interaktief en multimodaal te maak. Ek was baie gelukkig om hierdie noukeurig ontwerpte webwerf te hê om mee te speel, asook die briljante raad en tegniese ondersteuning van sy voorent-ontwerper, Andrea Rolfes, wat onvermoeid gewerk het om my te help om dit uit te voer,” sê Deane.  

Oor haar toekomsplanne hoop Deane om ’n genootskap of ’n opleidingsperiode in ’n ateljee te doen wat haar in staat sal stel om verder oor die breër konteks van die doktorale projek te reflekteer, “en om ’n paar kreatiewe en refleksiewe uitsette te laat realiseer”.