Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nuwe boek wil kommunikasie oor gesondheid in Afrika help verbeter
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Alec Basson]
Gepubliseer: 08/12/2021

Gesondheidsinligting- en -kommunikasiestrategieë in Afrika kan meer doeltreffend wees indien mense se godsdienstige, tradisionele en kulturele oortuigings, asook hul sosio-ekonomiese omstandighede in ag geneem word.

Dít is een van die sleutelboodskappe in 'n nuwe boek waarvan Drr Bankole Falade en Mercy Murire die redakteurs is. Falade is 'n navorsingsgenoot by die Suid-Afrikaanse Navorsingsleerstoel in Wetenskapkommunikasie aan die Universiteit Stellenbosch en Murire is 'n senior navorser verbonde aan die Wits Instituut vir Voortplantingsgesondheid aan die Universiteit van die Witwatersrand.

Die boek, getiteld Health Communication and Disease in Africa: Beliefs, Traditions and Stigma (Palgrave Macmillan, 2021), bevat 17 hoofstukke oor verskillende onderwerpe soos konsepsuele benaderings tot verandering, stigma en gesondheid, risikopersepsie en gesondheid, voortplantingsgesondheid, tradisies en oortuigings, geestesgesondheid, Westerse en inheemse kommunikasie, godsdiens in gesondheid en die hoë koste van gesondheid. Dit bevat bydraes van skrywers van regoor Afrika (Kenia, Nigerië, Suid-Afrika, Zimbabwe, Uganda, Malawi en Marokko), Europa en so ver as Japan.health information book.jpeg

Aangesien gesondheidkommunikasie nie voldoende is vir gedragsverandering nie, sê Falade hierdie sleutelkwessies moet oorweeg word wanneer die gapings in gesondheidsdienste en die uitdagings verbonde aan die begrip van gesondheidsinligting oor oordraagbare en nie-oordraagbare siektes in Afrika aangespreek word.

Hy verduidelik: “Om byvoorbeeld gedragsverandering ter voorkoming van MIV te verstaan, moet ons eerstens die rol wat stigma, openbare skande en self-beskaming speel, verstaan. Ons moet ook agentskap, armoede, gesondheidstelsels en sosiale en kulturele waardes ten opsigte van seks, wie kan en wie kan nie seks hê nie en wanneer kan hulle seks hê, verstaan. Al hierdie goed dryf mense na onveilige seks in die geheim."

Falade sê verder: “Om mense wat aan Alzheimer se siekte ly, te integreer, moet ons die siekte, die oorsprong daarvan en die stigmatisasie van lyers verstaan. Ons weet ook dat verskillende sosiale groepe risiko verskillend sien – terwyl vetsug miskien 'n kliniese kwessie is, is dit in baie Afrika-samelewings die norm om vet te wees. Ons moet geestesgesondheid, die oorsake daarvan, die sosiale plek daarvan in die samelewing en waarom mense eerder na tradisionele genesers gaan as om kliniese hulp of albei te soek, verstaan."

Hy sê navorsing het getoon dat gesondheidsgedrag nie net deur wetenskaplike faktore bepaal word nie.

“Ons moet Afrika-gebruike, tradisies en sosio-kulturele praktyke by bestaande gesondheidstelsels insluit as deel van die proses om sosiale norms wat mense medies ongeskik maak te verander. Ons moet ook die Afrika-konteks en Westerse benaderings integreer.

“Dit kan help om gesondheidskommunikasie in Afrika te verbeter, veral vir mense wat in landelike gebiede woon en wat baie min toegang tot koerante en televisie het."

Falade sê die boek kon nie op 'n beter tyd verskyn het nie, aangesien die kwessies wat hulle aanspreek, op die voorgrond is gedurende die pandemie.

“Ons sien hoe sosiale groepe die risiko van entstowwe verskillend beskou, asook die voortgesette stigmatisasie van diegene wat weier om ingeënt te word, die rol van samesweringsteorieë en sosiale bewegings in gesondheidsgedrag, die reusekoste verbonde aan die uitwissing van die siekte en ongelykhede tussen ontwikkelde en ontwikkelende lande."

Volgens Falade toon die boek dat wetenskapkommunikasie 'n sosiale en kulturele proses is en nie net die oordrag van kennis van wetenskaplikes na 'n onkritiese publiek behels nie.

“Die publiek het gesonde verstand, 'n kennisstelsel op sy eie, wat hulle sal gebruik om boodskappe van wetenskaplikes te interpreteer. Die twee stelsels van weet moet ontmoet en saamwerk."

Hy sê die uitdagings rakende gesondheidskommunikasie en siekte in Afrika is niks nuuts nie; ons het net nie die regte keuses gemaak en die regte beleidsprioriteite daargestel nie.

Falade voeg by dat gesondheidspraktisyns, beleidsvormers, navorsers en studente by die boek sal baat vind.

SLEGS VIR MEDIANAVRAE

Dr Bankole Falade

Suid-Afrikaanse Navorsingsleerstoel in Wetenskapkommunikasie

Sentrum vir Navorsing oor Evaluasie, Wetenskap en Tegnologie (CREST)

Universiteit Stellenbosch

E-pos: bfalade@sun.ac.za

UITGEREIK DEUR

Martin Viljoen

Bestuurder: Media

Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking

Universiteit Stellenbosch

Tel: 021 808 4921

E-pos: viljoenm@sun.ac.za