Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Drie PhD-kandidate ontvang die gesogte Bongani Mayosi-toekenning
Outeur: FMHS Marketing & Communications / FGGW Bemarking & Kommunikasie – Susan Erasmus
Gepubliseer: 07/12/2021

Drie PhD-kandidate aan die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe het onlangs die Bongani Mayosi-toekenning ontvang, wat hulle in staat sal stel om hulle doktorsgrade te voltooi.

Dr Donald Simon van die Afdeling Molekulêre Biologie en Mensgenetika ontvang die Professor Bongani Mayosi Netcare Clinical-studiebeurs.

Die titel van sy PhD is 'Validation of mRNA signatures and PET-CT biomarkers to predict tuberculosis treatment'.

"Ek was verstom en besonder dankbaar oor die toekenning van hierdie gesogte beurs. Dit het my in staat gestel om my tyd in die geheel aan my navorsing te wei. Dit sal my verder toerus met die vaardighede wat my in staat sal stel om 'n meer ervare navorser te word, na afloop van die voltooiing van my PhD," sê Simon.

Hy som die vraagsstukke wat hy met hierdie navorsing ondersoek, soos volg op: “Die wetenskap wat positiewe kliniese uitkomste onderlê, word steeds nie goed begryp nie. Die huidige meting van reaksie op behandeling wat deur die WGO aanbeveel word, is steeds gebaseer op sputum-mikroskopie, ondanks die bewese tekortkominge van hierdie metode. Nuwe tegnologie word dringend benodig om die reaksie van die behandeling by individuele pasiënte te monitor, en om nuwe terapieë te evalueer. Dit kan, op sy beurt, veel vinniger lei tot die aanbeveling van ander behandelingsmetodes vir pasiënte wat nie op die standaardbehandeling gereageer het nie. Dit het weer die potensiaal om die evaluering van nuwe behandelings te bespoedig. Positron-emissie-tomografie (PET) -rekenaartomografie (CT) (PET -CT), sitokiene en RNA-geenpatrone toon almal belofte in hierdie verband.

Sy hoofdoel is om beter metodes te identifiseer om die reaksie op TB-behandeling met behulp van gasheer bloed en beelding te evalueer.

"My passie is geneeskunde wat op die individu gerig is. Daarom hoop ek dat hierdie PhD in molekulêre biologie die grondslag sal lê wat my in staat sal stel om voort te gaan met navorsing in Suid-Afrika vanuit hierdie oogpunt oor longsiektes," sê hy oor sy planne vir die toekoms.

Gakeemah Inglis-Jassiem, voorheen 'n senior lektor aan die Universiteit Stellenbosch (tot einde Januarie 2019), het 'n groot belangstelling en kliniese ervaring in neurologiese fisioterapie en rehabilitasie. Sy is tans ingeskryf as 'n PhD-kandidaat - die onderwerp van haar PhD fokus op tegnologie om kontekstueel-relevante beroerteversorging en ondersteuning in Suid-Afrika te probeer verbeter.

"Toe ek die nuus oor die beurs ontvang het, kon ek dit byna nie glo nie," sê Inglis-Jassiem. "Ek was opgewonde, het besonder geëerd gevoel, en ook baie dankbaar oor die geleentheid om reg te laat geskied aan hierdie projek. Ek bly voortdurend bewus van die hoë koste van navorsingsaktiwiteite."

Sy noem dat hierdie beurs haar in staat sal stel om haar PhD te voltooi, wat fokus op navorsing met betrekking tot haalbare en gepaste beroerte-ondersteuning met behulp van digitale intervensie vir ons plaaslike konteks.

In die toekoms beplan sy om na die voltooiing van haar PhD verbonde te bly aan die Departement Gesondheids- en Rehabilitasiewetenskappe. Sy is van voorneme om haar navorsing voort te sit in 'n nadoktorale navorsingskapasiteit, en sal fokus op die ingebruikneming en die toetsing van die bruikbaarheid van digitale ondersteuningsmeganismes vir pasiënte met beroerte.

Berte van der Watt het 'n MA-graad in Sielkunde werk tans aan haar PhD, wat die volgende titel het: 'The trauma of non-marital romantic relationship breakups among emerging adults: Associations with posttraumatic stress symptoms and underlying neural circuitry'.

"Ek was verheug om die goeie nuus te hoor dat my aansoek suksesvol was," sê Van der Watt. "Ek het onmiddellik meer hoop gehad vir die toekoms."

Sy beskryf haar toekomsplanne soos volg: "Na die voltooiing van my PhD in Psigiatrie wil ek die omvang van my navorsingsgebied uitbrei, deur byvoorbeeld nouer betrokke te raak by bewysgebaseerde behandelingspraktyke deur 'n meestersgraad in kliniese sielkunde te doen."

Haar studie het ten doel om te bewys dat die ervaring van trauma subjektief is, en dat sommige verhoudingsbeëindigings onder ongetroude mense as ernstige risikofaktore vir geestesgesondheid beskou behoort te word.

Die Bongani Mayosi-toekenning

Die Bongani Mayosi Nasionale Gesondheidstoekenningsprogram (Bongani Mayosi National Health Scholars Programme, oftewel BM-NHSP) is van stapel gestuur deur die Nasionale Gesondheidsnavorsingkomitee (NHRC) en 'n vennootskap tussen die volgende drie instellings:

  • Die Nasionale Departement van Gesondheid
  • Die Fonds vir die Bevordering van Openbare Gesondheid (Public Health Enhancement Fund- PHEF)
  • Die Suid Afrikaanse Mediese Navorsingsraad (SAMNR)

Die doel van hierdie toekenning is om die voltooiing van 1 000 doktorsgrade in gesondheids- en kliniese navorsing oor die volgende dekade te finansier. Die beurse word vir die volle graadperiode vir voltydse studie aan die kandidate beskikbaar gestel. Die waarde van die beurs is gelykstaande aan wat die salaris na alle aftrekkings van die aansoeker sou gewees het volgens die salarisskale van die openbare gesondheidsdiens. Hierdie bedrag word vasgestel vir die duur van die beurs, wat tot drie jaar lank kan aanhou.

Die program is geïnspireer deur professor Bongani Mayosi, die voormalige dekaan van die Fakulteit Gesondheidswetenskappe aan die Universiteit van Kaapstad, wat 'n erfenis van uitnemendheid in navorsing en akademiese ontwikkeling nagelaat het, en ook 'n enorme bydrae gelewer het om lewens en instellings in Afrika ten goede te verander.

Die doel van hierdie program is om kapasiteit te bou op die volgende vier gebiede:

  • Geestesgesondheid
  • Geweld, beserings en trauma
  • Digitale gesondheid
  • Landelike gesondheid


Onderskrif: Gakeemah Inglis-Jassiem, Donald Simon en ​Berte van der Watt.