Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Meer inklusiewe werksplekke moet vir mense met gestremdhede geskep word
Outeur: Armand Bam
Gepubliseer: 06/12/2021

Vrydag (3 Desember) was die Internasionale Dag van Persone met Gestremdhede. In ʼn meningsartikel vir News24 skryf dr Armand Bam van die Universiteit van Stellenbosch Bestuurskool dat organisasies meer inklusiewe werksplekke vir mense met gestremdhede moet skep.

  • Lees die gedeeltelik vertaalde weergawe van die artikel hieronder.

Armand Bam*

Die mislukking van ons Suid-Afrikaanse demokrasie is regdeur alle sfere van ons samelewing sigbaar met die voortgesette uitsluiting van mense met gestremdhede (MMG). Hul bydrae tot Suid-Afrika se radikale stryd vir burgerregte tussen 1990 en 1994 het ons regering in die rigting van 'n strategie van integrasie en insluiting gelanseer en tot die Witskrif oor 'n Geïntegreerde Nasionale Gestremdheidstrategie (1997) gelei. Volgens Danny Sing en Vasi Govender was dit prakties gesproke die regering se voertuig om die volle deelname van MMG aan die hoofstroom-arbeidsmark en staatsdiens te verseker. 

Ons sien egter vandag nog die toenemende werkloosheid en onderindiensneming van mense met gestremdhede wat konserwatief gesproke 7,5% van ons bevolking (Stats SA, 2011) uitmaak. Hoewel ons Grondwet wêreldwyd bewonder word vir die omvattende benadering om wat Karel Vasak die “drie generasies" van menseregte (politieke en burgerregte; sosio-ekonomiese regte; en “groen regte") genoem het, te fasiliteer, is ons vandag geensins beter daaraan toe om die insluiting van MMG in ons samelewing te verseker nie. Terwyl ek voorspraak maak vir hoërvlakdenke oor die insluiting van alle gemarginaliseerde groepe in die samelewing, is een van Suid-Afrika se vernaamste uitdagings die gebrek aan 'n spesifieke en uitvoerbare wet om die beleide wat MMG raak, te ondersteun. Dit is iets wat ons in gedagte moet hou wanneer ons oor die Internasionale Dag van Persone met Gestremdhede (3 Desember) nadink.

Die insluitingsdenkfout

In 'n land soos Suid-Afrika is ons diversiteit gewaarborg net op grond van wie ons as 'n volk is – 11 amptelike tale (die aanvaarding van Suid-Afrikaanse Gebaretaal sal dit 12 maak), pragtige kulturele nuanses, rasse, geloofsbelydenisse, etnisiteit en soveel meer. Diversiteit is nie ons uitdaging nie, insluiting is! Terwyl ons die idee van 'n reënboognasie en die filosofie van Ubuntu vier, kan ek ook te maklik sien hoe ons trots op diversiteit in vergetelheid wegraak namate dinge warm raak. Die insluitingsdenkfout tree in wanneer ons diversiteit met dít wat dit beteken om inklusief te wees, laat saamsmelt. Die vermoë om die menslikheid in elkeen raak te sien en ons verbondenheid ongeag ons 'skynbare verskille' ontwyk die meeste van ons. Dit word maklik in werkplekbeleide gesien wat nie die strukturele, ingesteldheid-, ekonomiese en omgewingshindernisse afbreek wat vir MMG voortduur nie.

Dit is tyd om die regte ding te doen

Diversiteit en insluiting in die werksplek moet in die eerste plek as 'n etiese noodsaaklikheid beskou word. Ek sê nie daar is 'n een-pas-almal-model om die insluiting van MMG te verseker nie. Wat ek wel voorstel is dat organisasies daagliks moet doen wat goed is. Ek en Linda Ronnie stel in 'n onlangse hoofstuk in Human Centred Organizational Cultures: Global Dimensions (2021) die toepassing van 'n virtuele raamwerk voor wat die voortgesette nastrewing van morele imperatiewe aanmoedig. Ons stel voor dat “die doel van etiek nie net is om kennis te hê van wat goed is nie, maar om die gewoonte te hê om goeie dade te verrig wat tot die voordeel van die polis [gemeenskap] strek". In regverdige organisasies word daar aanvaar dat om die regte ding te doen, van die konteks afhang, eerder as die blote toepassing van 'n wet.  

Die is 'n toenemende behoefte in ons samelewing vir moraliteit in die sakewêreld. Wanneer ons die Internasionale Dag van Persone met Gestremdhede gedenk, moet ons ook 'n beroep op sakeleiers doen om 'n meer prominente rol te speel in die herstrukturering van die werksomgewing en om die toestande waaronder MMG genooi word om in die werksplek om te gaan, te verbeter.

  • Klik hier om die res van die geplaasde artikel te lees.

*Dr Armand Bam is die Hoof: Sosiale Impak by die Universiteit van Stellenbosch Bestuurskool.