Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Toegang tot geregtigheid: Mense met intellektuele en ontwikkelingsgestremdhede
Outeur: Jenna-Lee de Beer-Procter
Gepubliseer: 03/12/2021

​Dit is welbekend onder diegene in die intellektuele gestremdheidsdienste en die gestremdheidsregtebeweging dat Suid-Afrika 'n “wet op kwesbare volwassene-sorg" benodig wat in die unieke behoeftes van diegene met intellektuele en ontwikkelingsgestremdhede (IOG) voorsien. Alhoewel die afwesigheid van sodanige wetgewing dit moeilik maak om die regte en verantwoordelikhede van volwassenes met IOG te bevorder en te beskerm, is daar ander wetsbepalings wat vir die ontwikkeling van protokolle gebruik kan word om die skeiding tussen die wet en die praktyk te oorbrug.

Die land se Geïntegreerde Nasionale Gestremdheidstrategie van 1997 het die weg gebaan vir broodnodige maatskaplike en wetgewende verandering. In 2007 het Suid-Afrika die Verenigde Nasies se Konvensie oor die Regte van Persone met Gestremdhede (UNCRPD) bekragtig en die Witskrif oor die Regte van Persone met Gestremdhede (WPRPD, 2016) ontwikkel om die domestikering van die UNCRPD af te handel. Die Witskrif bied nege “Strategiese Pilare[1]" wat “aan posbkleërs die verantwoordelikheid opdra om die volgehoue, stelselmatige diskriminasie en uitsluiting wat persone met gestremdhede ervaar, uit te wis."[2] Die WPRPD maak dit baie duidelik dat persone met gestremdhede toegang tot geregtigheid moet hê en dat hulle, in ooreenstemming met die Handves van Menseregte, die reg het op die volle beskerming en voordeel van die wet.

Maar, soos ons weet, is daar kritiese gebreke in die Suid-Afrikaanse strafregstelsel wat persone met IOG se toegang tot geregtigheid belemmer.[3] Dit is nie as gevolg van hulle beperkte vermoë om as getuies betroubare getuienis te lewer of om hul kennis van die regstelsel aan te wend nie, maar eerder as gevolg van die tekortkominge van die stelsel. 'n Voorvereiste vir toegang tot geregtigheid is betroubare beleid wat die grondslag vir protokolle en effektiewe dienslewering kan lê, onder meer geïndividualiseerde aanpassings vir mense met IOG, om gelyke deelname te verseker. Boonop is daar 'n geweldige behoefte aan kundige en ingeligte regsdienaars wat sensitief vir die behoeftes van persone met IOG is.

Suid-Afrika se nasionale strategiese plan vir gender-gebaseerde geweld en vrouemoord (GBVF-NSP)[4] beklemtoon die beginsels van inklusiwiteit, interseksionaliteit, asook aktiewe en betekenisvolle deelname wat betref die aanpak van die besondere behoeftes van kwesbare bevolkings, soos dié met IOG. Terwyl die GBVF-NSP heelwat aandag aan die strafregstelsel bestee, kan dieselfde nie gesê word van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) en die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se Strategiese Planne vir 2020-2025 nie.

Nie een van die twee bevat strategieë oor hoe om die growwe ongeregtighede wat persone met IOG en kwesbare volwassenes ly, aan te spreek nie.[5] Nóg die NVG nóg die SAPD beskik oor nasionale beleide oor gestremdhede, en in my navorsing en psigo-regspraktyk kon ek nog nie protokolle en riglyne opspoor oor hoe om klaers (en verweerders) met IOG behulpsaam te wees nie. Die enigste uitsondering is dat die hof 'n tussenganger kan aanstel vir 'n persoon met 'n “geestesgestremdheid" en 'n “geestesouderdom" van onder 18 jaar. Dit is wanneer getuienis tot “onbehoorlike geestelike spanning" kan lei en wanneer die aanklaer of die magistraat dit versoek.[6]

Tog ervaar persone met IOG buite verhouding hoër mishandelingsyfers as neurotipiese persone en hulle word aan ingesteldheidsvooroordeel, benadeling en diskriminasie onderwerp.

Hulle is ook meer geneig om mishandeling vir langer tydperke te verduur, meer dikwels en in hewiger mate as niegestremde persone. Hulle afhanklikheid van ander vir ondersteuning en sorg maak hulle veral kwesbaar vir dwang, beheer en misbruik deur ander. Boonop loop vroue met IOG 'n buitengewoon hoë risiko van seksuele aanranding – selfs meer so onder mense van kleur (MVK).

“Dit spruit uit die gekombineerde kulturele devaluasie van vroue en persone met gestremdhede, oorbeskerming, sosiale isolasie en die ontkenning van seksualiteit in vroue met gestremdhede. Persone met gestremdhede word ook beskou as persone met 'n gebrek aan geloofwaardigheid en seksuele afwykings, en ontvang dikwels nie seksualiteitsopvoeding nie. Oortreders meen dat daar 'n laer risiko vir opsporing bestaan. Hierdie mites, persepsies en stigma verhoog die waarskynlikheid dat 'n slagoffer met 'n gestremdheid 'n teiken vir geweld word, en maak dit minder waarskynlik dat sy dit sal kan uitwys, daarop reageer en dit rapporteer."[7]

Ons aanvaar dit as vanselfsprekend dat persone met IOG nie maklik toegang tot hul regte het nie. Dit kan moeilik genoeg wees vir 'n neurotipiese persoon om toegang tot hul regte te kry, wat nog te sê 'n persoon met IOG, Ons regte word as inherent beskou, maar heelwat werk moet nog gedoen word om te verseker dat dié regte deurgaans gehandhaaf word.

 Probleme met kognitiewe en aanpasbare funksionering kan persone met IOG se kennis en waardering van die wet beperk, met die gevolg dat hulle nie hul regte begryp of weet hoe om dit uit te oefen nie. Hulle is nie net afhanklik van ander vir ondersteuning met daaglikse lewenstake, opvoeding en 'n beroepslewe nie, maar ook wat hul deelname aan die samelewing en die administratiewe en praktiese aspekte van die “lewe" betref. Die persone van wie hulle afhanklik is, is tegelyk diegene wat hulle moet help om toegang tot geregtigheid te verkry. En soos ons weet, is dit meestal die mense naaste aan ons wat ons waarskynlik sal misbruik.

Om toegang tot geregtigheid vir persone met IOG te verseker strek wyer as die tekortkominge in die wetgewing en die regspraktyk, verder as die ineenstorting van die regering se infrastruktuur en beleid betreffende gesondheid, maatskaplike dienste en regspleging, en verder as akademiese en opleidingsinstellings se onoplettendheid wat toeganklike opvoeding en betekenisvolle navorsing betref, dit is met die morele waardeskatting van die wêreld om ons verweef. Die opvatting dat persone met IOG op die een of ander manier “minder is as" en gevolglik nie die basiese menseregte verdien wat deur die Grondwet verleen word nie. Dit is 'n weerspieëling van die samelewing se “sorgeloosheid", ons minagting van die lewe van persone met IOG.

Jenna-Lee de Beer-Procter (Engelse voornaamwoord they/them ) is 'n Kaapstadse kliniese sielkundige en navorser. Hulle bied identiteitsgerigte, trauma-ingeligte en genderbevestigende geestesgesondheidsorg met gebruikmaking van 'n eklektiese benadering wat psigodinamiese terapieë met interseksionele feminisme integreer. Voor hulle hul meestersgraad in kliniese sielkunde voltooi het, het Jenna-Lee as 'n geregistreerde berader in die veld van seksuele gesondheid en trauma gewerk, en 'n organisasie sonder winsoogmerk, genaamd Rape Outcry, gestig. Sedert 2014 werk hulle op die gebied van intellektuele en ontwikkelingsgestremdhede in die openbare sektor, vir die regering- én die NRO-sektor. Hulle werk fokus op aanpassingsterapieë vir trauma-oorlewendes met intellektuele en ontwikkelingsgestremdhede, asook psigo-regswerk met die beskuldigdes en klaers in seksuele aanrandingsake. Hulle is 'n gereelde beoordelaar vir die African Journal of Disabilities en 'n lid van die Professional Association for Transgender Health South Africa.​


[1] Strategic Pillar 1: Removing Barriers to Access and Participation

Strategic Pillar 2: Protecting the Rights of Persons at risk of Compounded Marginalisation

Strategic Pillar 3: Supporting Sustainable Integrated Community Life

Strategic Pillar 4: Promoting and Supporting the Empowerment of Children, Women, Youth and Persons with Disabilities

Strategic Pillar 5: Reducing Economic Vulnerability and Releasing Human Capital

Strategic Pillar 6: Strengthening the Representative Voice of Persons with Disabilities

Strategic Pillar 7: Building a Disability Equitable State Machinery

Strategic Pillar 8: Promoting International Co-operation

Strategic Pillar 9: Monitoring and Evaluation

[2] WPRPD (2016) pp. 9

[3] Viljoen, Erna & Bornman, Juan & Tönsing, Kerstin. (2021). Interacting with Persons with Disabilities: South African Police Officers' Knowledge, Experience and Perceived Competence. Policing: A Journal of Policy and Practice. 15. 10.1093/police/paaa084.

[4] National Strategic Plan on Gender-Based Violence and Femicide: Human Dignity and Healing, Safety, Freedom & Equality in our Lifetime. See,   https://www.justice.gov.za/vg/gbv/NSP-GBVF-FINAL-DOC-04-05.pdf

[5] National Prosecuting Authority South Africa. Strategic Plan 2020-2025. See https://www.npa.gov.za/sites/default/files/New%20NPA%20Strategic%20Plan%202020_2025.pdf

South African Police Service. (2020). Strategic Plan 2020-2025. See https://www.saps.gov.za/about/stratframework/strategic_plan/2020_2021/saps_strategic_plan_2020to2025.pdf

[6] South African Government. FAQs >> Justice and crime prevention. How can a child or person with mental disability testify in court? Accessed, 22 September 2021. https://www.gov.za/faq/justice-and-crime-prevention/how-can-child-or-person-mental-disability-testify-court

[7] Holness, Willene. (2021). Hate crime based on disability in South Africa. Lessons for law reform. SA Crime Quarterly, (70), 2-11. https://dx.doi.org/10.17159/2413-3108/2021/vn70a5597