Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Magnesium: ‘n onderwaardeerde mineraal-aanvulling vir beter slaap en geestesgesondheid
Outeur: Hanél Sadie-Van Gijsen
Gepubliseer: 23/11/2021

'n Daaglikse magnesiumaanvulling kan help om ʼn verskeidenheid slaapversteurings aan te spreek en ook jou lewenskwaliteit en geestesgesondheid te verbeter. Só skryf dr Hanél Sadie-Van Gijsen van die Sentrum vir Kardio-metaboliese Navorsing in Afrika in ʼn meningsartikel vir Health24 (22 November 2021).

  • Lees die vertaalde weergawe van die artikel hieronder.

​Hanél Sadie-Van Gijsen*

Baie van ons ken die frustrasie van sukkel om aan die slaap te raak, of om aan die slaap te bly, of om 'n lewensmaat of kind te hê wie se slaapprobleme snags die hele huishouding wakker hou. 'n Gebrek aan goeie gehalte slaap kan elke aspek van ons daaglikse lewe beïnvloed, insluitende professionele funksionering en persoonlike verhoudings, en kan selfs jou risiko vir gesondheidsprobleme soos vetsug, hoë bloeddruk en hartaanvalle, asook angs en depressie, verhoog. 

Wat dalk met slaapprobleme verwant hou, is die toename in geestesgesondheids- en neurobiologiese versteurings soos angs, depressie en aandag-afleibaarheid/hiperaktiwiteit (AA/HA) onder beide volwassenes en kinders. Ons ken waarskynlik almal iemand wat deur hierdie toestande geaffekteer word. Almal is egter nie ewe gemaklik met die idee om psigo-aktiewe middels te neem vir die behandeling van hierdie toestande nie, en mense voel dikwels gefrustreerd en teleurgesteld wanneer hierdie middels nie baie effektief werk nie, of onaangename newe-effekte het. Die goeie nuus is dat daar sterk wetenskaplike bewyse is dat magnesium-aanvulling uitstekende ondersteuning kan bied om heelwat van hierdie probleme aan te spreek.

Magnesium verrig vele noodsaaklike funksies in elke sel in ons liggame, maar ongelukkig kom magnesiumtekorte baie algemeen voor. Magnesium kom voor in baie plantgebaseerde kosse soos grane, sade, groen blaargroentes en selfs kakao, maar die magnesium-inhoud van hierdie gewasse het oor die afgelope dekades afgeneem weens die grootskaalse landboupraktyke wat benodig word om 'n groeiende bevolking te voed. Daarmee saam verwyder voedselverwerking dikwels dié dele van die plant met die hoogste magnesium-inhoud, en dus bevat verwerkte kosse lae vlakke van magnesium (en ander voedingstowwe). Die kombinasie van hierdie twee faktore kan maklik tot 'n magnesiumtekort lei.  

Magnesium word in baie verskillende seltipes en weefsels in die liggaam gestoor, asook in bloedselle en bloedplasma. As gevolg hiervan is dit dikwels moeilik om te bepaal of 'n persoon 'n magnesiumtekort het, aangesien magnesiumvlakke in die bloed nie verteenwoordigend is van magnesiumvlakke elders in die liggaam nie. Magnesium-inname kan egter beraam word deur middel van voedingsvraelyste, en die gesamentlike resultate van vele studies het aangedui dat lae magnesium-inname met depressie verband mag hou. Dis ook al bevind dat kinders met AA/HA oor die algemeen laer magnesiumvlakke het as kinders sonder AA/HA.

Een van magnesium se vele funksies in die liggaam is die impak daarvan op neuro-oordragstowwe in die brein. Die neuro-oordragstof glutamaat, wat deur middel van NMDA-reseptore seine in die brein oordra, vorm 'n belangrike deel van leer en geheue, maar hierdie seine word ook beskou as oorstimulerend. Magnesium help om glutamaat-seine onder beheer te hou, en tree ook op as 'n nabootser van die kalmerende neuro-oordragstof GABA. 

So, beteken dit dus dat magnesium-aanvulling dalk depressie en angs kan verlig? Daar is beslis goeie bewyse om hierdie idee te ondersteun. Magnesium is 'n mineraal (metaal) en moet dus met ander molekules gebind word sodat dit deur die liggaam opgeneem kan word. Vele studies het al bevind dat verskillende vorme van magnesium-aanvullings positiewe uitkomste in terme van geestesgesondheid kan hê.

Pasiënte met gediagnoseerde depressie het 'n vermindering in hul depressie-simptome ervaar nadat hulle ʼn aanvulling met magnesiumchloried of magnesiumoksied geneem het. Volwassenes met klinies-gediagnoseerde stres, angs en depressie het ook 'n vermindering in hul simptome ervaar met 'n magnesiumlaktaat-aanvulling, en die resultate was selfs nog beter toe magnesium gekombineer was met vitamien B6, veral in individue met uiters hoë stresvlakke.

'n Kombinasie van magnesiumoksied en vitamien B6 het ook self-gerapporteerde angsverwante premenstruele simptome soos gemoedskommelings en irriteerbaarheid verlig, en 'n kombinasie van magnesiumoksied en sinksulfaat het depressie en angs verlig in volwassenes met tipe 2-diabetes en hartsiektes. Daarmee saam is studies wat bevind het dat binne-aarse toediening van magnesiumorotaat of magnesiumsulfaat kan help om depressie te verlig, wat andersins nie gereageer het op konvensionele farmaseutiese behandeling nie, van groot belang.

Vir individue met AA/HA is daar ook hoop op die horison. Dit is al in 1997 reeds bevind dat ses maande van magnesium-aanvulling verskeie simptome van hiperaktiwiteit in kinders met AA/HA kon verlig. In 'n meer onlangse studie is bevind dat 'n kombinasie-aanvulling bestaande uit omega-3 en omega-6-vetsure, sink en magnesiumsitraat simptome van hiperaktiwiteit en impulsiwiteit, asook emosionele probleme en slaaploosheid in jong kinders met AA/HA kon verlig, terwyl 'n ander studie bevind het dat 'n vitamien D/magnesium-aanvulling ook heelwat van die emosionele en gedragsprobleme van kinders met AA/HA kon verlig. Die magnesium-aanvulling L-TAMS (L-treoniensuur-magnesiumsout) is ook al bevind om AA/HA simptome in volwassenes te verminder.     

Magnesium-aanvullings mag ook help om 'n verskeidenheid slaapversteurings wat tussen ons en 'n goeie nagrus staan, aan te spreek. Kliniese proewe op bejaarde pasiënte met primêre slaaploosheid het aangetoon dat 'n aanvulling bestaande uit melatonien, magnesium en sink beter gehalte slaap, asook verbeterde funksionering en lewensgehalte gedurende die dag, tot gevolg gehad het (alhoewel melatonien op sy eie ook voorgeskryf word vir slaaploosheid).

Dit is egter ook al bevind dat magnesiumoksied-aanvulling ouderdomsverwante slaapversteurings, wat ontstaan as gevolg van veranderinge in breingolf-aktiwiteit en die neuro-endokriene stelsel (aksies van neuro-oordragstowwe in die brein, sowel as sirkulerende hormone), kan omkeer. 'n L-TAMS-gebaseerde aanvulling is ook in een kliniese proefstudie bevind om kognitiewe agteruitgang in ouer persone te verminder of selfs om te keer, en saam bied hierdie studies die moontlikheid dat magnesium-aanvulling 'n verskeidenheid gesondheidsvoordele kan hê soos ons ouer word.   

ʼn Magnesiumoksied-aanvulling kan ook “rustelose bene"-sindroom verlig en sodoende beter gehalte slaap meebring. Ongelukkig het een studie bevind dat hierdie aanvulling nie die voorkoms van beenspierkrampe in die nag kon verlig nie, maar twee ander studies het getoon dat magnesiumsitraat wel nagtelike beenspierkrampe in die algemene bevolking sowel as in swanger vroue kon verlig.

In die meeste van hierdie studies kon positiewe effekte binne 'n kwessie van weke gemeet word, in mans, vroue en kinders. Magnesium-aanvullings is algemeen beskikbaar in apteke en supermarkte, en word beskou as veilig wanneer dit teen die voorgeskrewe dosis gebruik word. En terwyl ek beslis nie sal aanbeveel dat enigiemand hul voorskrifmedikasie moet staak sonder om dit met hul dokter te bespreek nie, kan 'n daaglikse magnesiumaanvulling 'n gerieflike en bekostigbare manier wees om meer voordeel uit sulke medikasie te put, of dit mag net iets eenvoudigs wees om tuis te probeer om jou en jou gesin se lewenskwaliteit en geestesgesondheid te verbeter.

*Dr Hanél Sadie-Van Gijsen is verbonde aan die Sentrum vir Kardio-metaboliese Navorsing (CARMA) in die Afdeling Mediese Fisiologie by die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch.