Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Akademiese omgewing kan beleid in Suid-Afrika beïnvloed, sê SPL-dosent
Outeur: Daniel Bugan
Gepubliseer: 17/11/2021

'n PhD wat deur die Universiteit Stellenbosch se dr Harlan Cloete ontwikkel is, het 'n belangrike rol in die ontwikkeling van die nuwe munisipale personeelregulasie gespeel wat onlangs deur die minister van samewerkende regering en tradisionele sake, Nkosazana Dlamini-Zuma, gepubliseer is.

Die regulasies, wat handel oor hoe munisipaliteite hul personeel moet werf, in stand hou en ontwikkel, sal op 1 Julie 2022 in werking tree.

Cloete, 'n buitengewone dosent aan die Skool vir Openbare Leierskap, het sy PhD-tesis, Menslikehulpbronontwikkeling in Plaaslike Regering – 'n bestuursperspektief in 2016 onder leiding van prof Frederick Uys voltooi. Daarna het hy 'n navorsingspan gelei om die uitdagings wat fasiliteerders van vaardigheidsontwikkeling ondervind wanneer hulle intervensies in Suid-Afrikaanse munisipaliteite implementeer, te ondersoek. Dit is opgevolg deur die ontwikkeling van die MHB-ontwikkelingskursus vir goeie munisipale bestuur in 2017 en 'n handboek, Guide to Effectively Manage Human Resource Development in South African Local Government (2019).

Die MHB-ontwikkelingskursus is in 2019 vir sy innoverende benadering by die Achiever-toekennings gedurende die spitsberaad van die Nasionale Vaardigheidsontwikkeling erken. Dit is suksesvol in munisipaliteite in al nege provinsies deur die munisipale kapasiteitsbouprogram van die Sektorale Opleidingsowerheid vir Plaaslike Regering geïmplementeer. Tot dusver is meer as 1 100 munisipale amptenare opgelei, waaronder fasiliteerders van vaardigheidsontwikkeling, MHB-amptenare, vakbondlede, opleidingskomiteelede en raadslede. Cloete het ook infografika ontwikkel, asook 'n wolkgebaseerde stelsel in 2021 om MHB-implementering in munisipaliteite te bestuur en te meet.

Cloete sê die meeste van die nuwe munisipale personeelregulasies is gebaseer op die model wat hy in sy tesis (hoofstuk 7) en sy boek (hoofstuk 4, bladsy 102-136) voorgestel het, nl. die Geïntegreerde Bestuursraamwerk vir Menslike Hulpbronontwikkeling. Volgens Cloete bewys dit hoe die akademiese omgewing beleid in Suid-Afrika kan beïnvloed.

“My werk verleen erkenning aan die feit dat amptenare in munisipaliteite staatsamptenare is wat 'n kollektiewe verantwoordelikheidsin het. Ek brei ook uit op etiese waardes in my tesis en my boek. Verder pleit ek dat beleide daarop gemik moet wees om 'n algehele MHB-plan in werking te stel. Dit is nou deel van die nuwe regulasies.

“Waar menslike hulpbronontwikkeling tans gesentraliseer word, het ek voorgestel dat as jy regtig MHB-ontwikkeling wil meet, moet jy seker maak dat dit op 'n gedesentraliseerde manier georganiseer word. Die regulasies neem dit in ag, aangesien ons nou na departementele en individuele behoefte-ontleding en -ontwikkeling verwys. Dis 'n benadering wat meer staat maak op bewyse. Ek het in my tesis aanbeveel dat bestuurders nie hul verantwoordelikheid kan abdikeer nie en dat MHB hulle bloot moet ondersteun. Ek noem dit die drietal-benadering. Die regulasies stel nou voor dat vaardigheidsontwikkeling 'n belangrike prestasiearea van senior bestuur is, en dat bestuurslede maandelikse verslae asook jaarlikse vaardigheidsverslae indien. Ek het ook voorgestel dat bestuurders prestasiegesprekke met hul personeel moet hê. Dit is nou in die regulasies aangebring.

“Alhoewel opleiding die gewildste opsie vir ontwikkeling is, argumenteer ek in my tesis dat leer in die werksplek – waaronder indiensopleiding, werkrotasie, beroepsafrigting en mentorskappe – ook erken word as opsies vir mense om hulself te ontwikkel. Dit is nou by die regulasies ingesluit.

“Ek het voorgestel dat individue verantwoordelikheid vir hul eie ontwikkeling moet neem deur middel van 'n persoonlike ontwikkelingsplan. Hulle behoort inspraak te hê. Die regulasies bepaal nou dat individue verantwoordelikheid sal aanvaar vir hul eie en hul loopbaan se ontwikkeling.

“Ek het voorgestel dat interne en eksterne belanghebbendes geïdentifiseer word en dat hul rolle uitgeklaar word. Die regulasies maak nou dié rolle en verantwoordelikhede duidelik."

Jasper van der Westhuizen, senior adviseur by die Suid-Afrikaanse Plaaslike Regeringsvereniging (SALGA) in die Wes-Kaap, het die volgende oor Cloete en sy rol in die formulering van die nuwe Munisipale Personeelregulasies gesê: "SALGA erken en loof die werk van dr Cloete op die gebied van menslike hulpbronontwikkeling. Sy tesis en sy invloedryke boek het die geïntegreerde bestuursraamwerk voorgestel as 'n wyse waarop dit in munisipaliteite bestuur en gemeet kan word. Ons is verheug dat die nuwe munisipale personeelregulasies 'n groot deel van dr Cloete se kursusinhoud oor die afgelope vyf jaar bevat. Ons sien daarna uit om saam met hom te werk om 'n nuwe bestuursraamwerk vir menslike hulpbronne in munisipaliteite daar te stel."

Die waarnemende munisipale bestuurder van Newcastle, Vish Govender, was vol lof vir Cloete se kursus oor menslike hulpbronontwikkeling vir goeie munisipale bestuur.

“Dr Cloete se sessies met ons senior en lynbestuurders het belangstelling in menslike hulpbronontwikkelingsprogramme aangewakker. Dit het terselfdertyd steun vir hierdie programme en die daaglikse inisiatiewe verseker. Dit op sigself sal 'n dramatiese verandering in vaardigheidsontwikkeling in die Newcastle Munisipaliteit meebring en vir die nodige finansiële, fasiliteits- en mensekapitaalondersteuning sorg."

Cloete het al verskeie referate by nasionale en internasionale konferensies gelewer en verskyn gereeld op nasionale radio en televisie. Hy is ook 'n rubriekskrywer wat plaaslike bestuurskwessies bespreek. Hy werk tans aan sy derde boek met die titel Guide to effectively implement human resource development in South African local government – the eight non-negotiables.

“Ek kry my inspirasie en motivering van wyle prof Bongani Mayosi, wat gesê het dat dit sinloos is om  referate te publiseer as dit nie tot beter behandeling, oorlewing, lewensgehalte en 'n langer lewe vir die mense van Suid-Afrika lei nie. Ek wil hê my werk moet 'n verskil maak en my navorsing moet relevant genoeg wees om werklike samelewingsprobleme op te los. Ek wil voortgaan om bewysgebaseerde MHB-bestuurstelsels – wat die doeltreffendheid van prosesse en resultate sal verbeter – in plaaslike regering te ondersoek."

Cloete het onlangs die weeklikse Great Governance ZA-potgooi begin om verhale van uitnemendheid in plaaslike regering te vertel sodat dit ander kan motiveer om Suid-Afrikaanse gemeenskappe eties te lei en te transformeer.

  • ​​Foto verskaf