Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Besighede het rol te speel in verligting van maatskaplike spanning en konflik
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Alec Basson]
Gepubliseer: 16/11/2021

Besighede is geneig om wen- en verloorgroepe in verdeelde gemeenskappe te verskans en sodoende wrywing tussen groepe, spanning, konflik en maatskaplike inkohesie te laat toeneem.

Só het prof Brian Ganson van die Universiteit van Stellenbosch Bestuurskool onlangs (9 November) in sy intreerede gesê. Die onderwerp van sy toespraak was Is it a private sector? The impact of business actors on social conflict.

 

  • ​Selfoongebruikers klik hier vir video.

Volgens Ganson is die meganismes waarmee rolspelers in die sakewêreld maatskaplike verdelings verhoog, dikwels gekoppel aan roetes van privatesektorontwikkeling en die bevoordeling van 'n paar terwyl baie uitgesluit word.

​“Privatesektorontwikkeling wat nie uitdruklik ongelykhede tussen groepe en magstryde aanspreek en daaroor in gesprek tree nie, blaas maatskaplike verdeling aan en ondermyn menslike ontwikkeling.

“Baie individuele sakestrategieë, leiers se optrede en bedryfsbesluite skep spanning wat maatskaplike verdeling vererger en burgers se pogings om byeen te kom, ondermyn. Dit gebeur wanneer 'n maatskappy munt slaan uit slegte of afsydige verhoudings tussen verskillende groepe in die samelewing. Hulle hanteer dikwels verskillende belanghebbers afsonderlik om beter ooreenkomste vir hulleself te beding.

“In Suid-Afrika sien ons hoe mynmaatskappye afsonderlik met nasionale, provinsiale, plaaslike en tradisionele owerhede onderhandel. Hierdie strategieë vererger konflik tussen burgers en hul regering en tussen verskillende groepe in die samelewing."

Ganson het ook bygevoeg dat maatskappye hulle dikwels skaar by diegene wat reeds mag het, terwyl hulle die armes en diegene sonder 'n stem ignoreer.

“Om uniforms effe goedkoper in die buiteland aan te koop spaar geld vir die maatskappy, maar verhoog plaaslike ekonomiese onsekerheid op maniere wat wedywering en spanning tussen sukkelende groepe verhoog. Ons sien dit in die xenofobiese geweld in die townships.

“Deur oplossings vir lank-uitstaande grondeise uit te rek, laat mense wat daar gewoon het, sonder 'n betroubare voedselbron en laat hulle net meer op die misdaad-ekonomie staat maak. Deur kontrakte en voordele aan simpatieke plaaslike leiers te gee, verhoog spanning in gemeenskappe."

Volgens Ganson kry maatskappye dikwels hul sin deur hierdie tipe optrede, maar hulle verdeel samelewings net nog meer op maniere wat konflik laat toeneem en maatskaplike probleme nog moeiliker maak om op te los.

“Die som van sakestrategieë en -optrede – in konflik-geaffekteerde kontekste in elk geval – mag vir die betrokke maatskappye werk, maar lewer sub-optimale uitkomste uit die hoek van maatskaplike kohesie en mense se vermoë om probleme oor die grense van identiteitsgroepe op te los."

Ganson meen maatskappye is selde gewillig om in vaardighede en vermoëns wat hulle moet verstaan, te belê en om inkohesie aan te spreek. Hulle is ook dikwels onwillig om ander toe te laat om hul strategieë en bedryfsbesluite te beïnvloed.

Hy het gesê maatskappye wat rig-geen-skade-aan-raamwerke, konflik-sensitiewe sakepraktyke en behoorlike omsigtigheid met menseregte toepas, het 'n baie kleiner waarskynlikheid om 'n negatiewe invloed op die samelewing te hê.

“Om vinnig te beweeg en goed te breek, is nie 'n strategie vir maatskaplike kohesie en vreedsame verandering nie. Dit sal baie beter vir die res van ons wees indien maatskappye alle partye byeenbring om 'n spesifieke situasie saam te ontleed en gemene delers op 'n pad vorentoe te vind.

“Te veel groot sakespelers op wie die plig rus, wil dit eenvoudig nie doen nie, en met hul huidige sakemodelle sal hulle nie kan oorleef in 'n wêreld waar die res van ons bymekaarkom om regverdige en vreedsame ontwikkeling vir almal te eis nie," het Ganson bygevoeg.