Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US-geoloog vereer vir leeftydbydrae tot geologiese wetenskap
Outeur: Faculty of Science (Wiida Fourie-Basson)
Gepubliseer: 15/11/2021

​Prof Alex Kisters, 'n strukturele geoloog in die Departement Aardwetenskappe by die Universiteit Stellenbosch (US), is 2021 se ontvanger van die gesogte Draper Gedenkmedalje, die Geologiese Vereniging van Suid-Afrika (GSSA) se hoogste wetenskapseerbewys.

Die toekenning gaan jaarliks aan 'n lid van die GSSA vir loopbaanlange uitsonderlike bydraes tot geologiese wetenskap, met spesifieke verwysing na die bevordering van Suid-Afrikaanse geologie. Die Draper Gedenkmedalje is in 1932 ingestel ter ere van Dr David Draper, wat in 1895 die hoof dryfveer tot die stigting van die GSSA was.  

Prof Kisters is vereer vir die betekenisvolle bydraes wat hy gedurende sy loopbaan tot nou gelewer het tot die begrip van die korsargitektuur van Suider-Afrika, in 'n aantal tektoniese domeine, en vir 'n loopbaanlange verbintenis tot die onderrig van en leiding aan studente.

Sy navorsing fokus op die vorming van die aardkors, wat soms 2,5 tot 4 miljard jaar terug dateer, ten einde die prosesse te verstaan wat gelei het tot die vorming van van die oudste gesteentes op aarde en die samestelling of opbreek van die kontinentale kors. In 2006 byvoorbeeld, was die navorsing in staat om die samesmelting (3,2 miljard jaar gelede) van duidelike korsblokke in die suidelike gedeelte van die Barberton-groensteengordel, wat die kern van Suider-Afrika vorm, te demonstreer. Hierdie werk het gelei tot 'n onderhoud met Prof Kisters vir die dokumentêr getiteld “When continents collide" op die kanaal Naked Science.

Sy werk het hom reg oor die wêreld geneem: deur Suider-Afrika, Wes- en Oos-Afrika, Asië, Europa en Groenland. Soms het hy tot ses maande van die jaar veldwerk gedoen.

“Party mense voer aan dat geologie nie 'n presiese wetenskap is nie," verduidelik hy. “Wat ons in rotse behoue vind, is slegs 'n momentopname van 'n proses wat miljoene tot biljoene jare gelede en met baie herhalings plaasgevind het. Wanneer ons na 'n terrein kyk, het ons te doen met baie groot datastelle wat dikwels uiteenlopend, onakkuraat en onvolledig is. Boonop verskil dit ook ten opsigte van skaal, maar dit moet nogtans op 'n sinvolle manier geïntegreer word om sin te maak. Dit is miskien wat ek die meeste van geologie geniet - om uit te vind watter prosesse tot die vorming van 'n streek en terrein gelei het, hoe dit gevorm is, wat dit moes verduur en geniet het".

Dit is ook hoekom van sy nagraadste studente uiteindelik by groot banke of versekeringsmaatskappye werk, waar laterale denke en die integrasie van onsekerhede in werkbare oplossings, noodsaaklik is.

Behalwe dat hy groot klem op veldgebaseerde opleiding vir aspirantgeoloë geplaas het, het hy oor die jare ook studieleiding verskaf aan meer as 65 Hons-, 20 MSc- en 10 PhD-graduandi. Tans is hy op enige gegewe tydstip die studieleier van tussen vyf tot tien nagraadse studente op honneurs-, meestersgraad- en PhD-vlak.

As hoof van die US se Departement Aardwetenskappe, bestee hy dalk minder tyd in die veld as vroeër in sy loopbaan. Tog is hy net volgende week weer op pad Baberton toe saam met 'n groep PhD-studente en kollegas as deel van 'n Suid-Afrikaanse, Franse navorsingsamewerking oor die stabilisering van die vroegste kontinente.

Die toekening is op Saterdag 13 November 2021 tydens die middagete vir GSSA genote aangekondig. 

Op die foto bo, Prof Alex Kisters. Foto: Stefan Els