Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US kondig jongste lys van ontvangers van eredoktorsgrade aan
Outeur: Corporate Communication and Marketing/Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking - Sandra Mulder
Gepubliseer: 10/11/2021

Die Universiteit Stellenbosch (SU) kondig graag die name aan van ses uitgelese individue wat eredoktorsgrade ter erkenning van hul uitmuntende en waardevolle bydraes op hulle onderskeie gebiede sal ontvang.

Hul onwrikbare verbintenis daartoe om mense se lewens ten goede te verander, vind sterk aansluiting by die US se visie om nie net uitnemendheid, inklusiwiteit en innovasie te bevorder nie, maar ook maatskaplike betrokkenheid en wedersydse kennisuitruiling tot voordeel van die samelewing aan te moedig.

Die ontvangers is:

  • Regter Frederick Daniël Jacobus (Fritz) Brand sal die graad Doktor in die Regsgeleerdheid (LLD) honoris causa ontvang vir sy voortreflike bydraes op regsgebied. Hierdie vermaarde US-alumnus word erken vir sy hoogs invloedryke uitsprake as regter van die hooggeregshof en die Hoogste Hof van Appèl, en vir sy betrokkenheid by die akademieskap van die regte en die opleiding van 'n nuwe geslag regters, plaaslik sowel as internasionaal.
  • Die ingenieur en inspirerende sakeleier mnr Andries Carel (Andy) Calitz sal die graad Doktor in die Ingenieurswese (DIng) honoris causa ontvang. Calitz, ook 'n US-alumnus, vervul 'n prominente rol in die internasionale energievoorsieningsektor. In sy hoedanigheid as die sekretaris-generaal van die Internasionale Gasunie sedert Augustus 2021, bevorder hy voortgesette politieke, tegniese en ekonomiese vooruitgang in die gasbedryf wêreldwyd.
  • Die Suid-Afrikaanse skrywer, digter en aktivis me Diana Ferrus sal die graad Doktor in die Wysbegeerte (DPhil) honoris causa ontvang. Ferrus word plaaslik en internasionaal erken en geloof vir haar poësie, wat die politiek beïnvloed en die apartheidstryd 'n stem gegee het. Sedert sy op 14-jarige ouderdom begin skryf het, verskyn haar persoonlike ervarings en die politieke, historiese en maatskaplike kwessies van die gemeenskappe waar sy al gewoon en gewerk het as gereelde temas in haar poësie.
  • Dr Patrice Matchaba sal die graad Doktor in die Natuurwetenskappe (DSc) honoris causa ontvang vir sy uitmuntende bydraes tot die farmaseutiese en kliniese wetenskap, en sy leiersrol om ongelykhede in gesondheidsorg en navorsingsvermoë wêreldwyd reg te stel. Hy dien tans as voorsitter van die Novartis-stigting in die Verenigde State, gerugsteun deur 20 jaar se ervaring as 'n geneesheer op die gebied van internasionale geneesmiddelontwikkeling en openbare gesondheid.
  • Die US-alumna me Nicky Newton-King sal die graad Doktor in die Regsgeleerdheid (LLD) honoris causa ontvang vir haar bydrae tot die ontwikkeling van die Suid-Afrikaanse finansiële reg en regulering, en die versterking van die Johannesburgse Aandelebeurs (“JSE"), synde 'n hoeksteen van die Suid-Afrikaanse ekonomie, deur haar leierskap oor meer as 23 jaar. Sy het in 2012 die eerste vroulike uitvoerende hoof van die JSE in die 125-jarige bestaan van dié instelling geword. As prokureur lê sy haar toe op korporatiewe finansiële en effekteregulering, en lewer 'n blywende bydrae tot die reg en die handel.
  • Prof Vikram Patel, 'n psigiater en internasionaal gerekende geestesgesondheidskenner, sal die graad Doktor in die Wysbegeerte (DPhil) honoris causa ontvang. Hy is 'n toonaangewende figuur in die internasionale geestesgesondheidsbeweging, 'n kernbydraer tot die bevordering van geestesgesondheid en die voorkoming van geestesongesteldheid, en 'n kampvegter vir kinderontwikkeling in lae- en middelinkomstelande. Hy word as een van die invloedrykste mense ter wêreld gereken.

Die US se eredoktorsgrade is 'n manier om erkenning te verleen aan die merkwaardige werk van individue wat as rolmodelle en 'n inspirasie vir studente, personeellede en gegradueerdes van die Universiteit beskou word.

Die eredoktorsgrade sal by die gradeplegtighede van 2022 verleen word, buiten Newton-King, en Brand, wat hul grade by die Desember-plegtigheid in 2021 sal ontvang.

Desember-gradeplegtigheid 2021

Daarbenewens sal nog vier eredoktorsgrade saam met Newton-King en Brand by die Desember-gradeplegtigheid verleen word. Die aankondiging oor hierdie ontvangers is reeds vroeër gemaak. 

Die ontvangers is:

  • Dr Marlene le Roux sal die graad Doktor in die Opvoedkunde (DEd) honoris causa ontvang vir haar werk om minderbevoorregte groepe te bemagtig en te ondersteun om vervullende loopbane in die kunste te beklee. Haar uitreikprojekte wissel van teaterwaarderingswerkswinkels en opvoedkundige teater tot die skep van volledige teaterproduksies en werkswinkels in landelike gebiede en gemeenskappe waar kuns- en kultuurgeleenthede beperk is.
  • Prof Marlene van Niekerk ontvang die graad Doktor in die Wysbegeerte (DPhil) honoris causa vir haar omvangryke invloed op die Afrikaanse letterkunde en literêre landskap, nie net deur haar poësie, letterkunde en filosofiese werke nie, maar ook deur bekende skrywers en wenners van literêre toekennings te onderrig. Van Niekerk geniet erkenning vir haar uitmuntende intellektuele bydrae tot die literêre kuns en kultuur deur digkuns, literatuur en filosofiese werk.
  • Die graad Doktor in die Opvoedkunde (DEd) honoris causa sal aan prof John David Volmink toegeken word vir sy uitstaande bydrae tot die onderwys, veral tot kurrikulumhervorming, bevordering van wiskunde-onderrig en gehalteversekering van onderwys in die post-apartheid tydperk in Suid-Afrika.
  • Die graad Doktor in die Handel (DCom) honoris causa sal aan prof Leonard Wantchekon toegeken word vir die bevordering van navorsing op die gebiede van politieke ekonomie, ekonomiese geskiedenis en ontwikkelingsekonomie, asook die daarstelling van volhoubare opvoedkundige platforms vir die jeug in Afrika.
Twee ander eredoktorsgrade wat reeds in 2019 en 2020 aangekondig is, sal in 2022 toegeken word:

Prof Agnes Binagwaho is 'n Rwandese pediater wat merkwaardige bydraes gelewer het om die gesondheid en welstand van mense in Afrika te verbeter. As 'n voormalige minister van gesondheid in Rwanda was Binagwaho aan die voorpunt van die stryd teen MIV/VIGS en MPV, die menslike papillomavirus wat byna alle gevalle van servikale kanker veroorsaak. Sy sal die graad Doktor in die Natuurwetenskappe (DSc) honoris causa ontvang.

Dr Uma Lele, gebore in Maharashtra, Indië, word met die graad Doktor in die Natuurwetenskappe (DSc) honoris causa vereer vir haar leierskap in die teorie en praktyk van landelike ontwikkeling wêreldwyd. In 'n loopbaan van byna vyf dekades word haar werk gekenmerk deur haar ywer om met streng empiriese navorsing openbare beleid te beïnvloed.