Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Aferese: ’n effektiewe behandeling vir lang-Covid?
Outeur: Media & Communication, Faculty of Science
Gepubliseer: 09/11/2021

'n Groep navorsers van die Universiteit Stellenbosch (US) se Departement Fisiologiese Wetenkappe is op pad na Mulheim in Duitsland. Hulle gaan vir opleiding en om saam met Dr. Beate Jaeger, 'n mediese dokter wat baanbrekeerswerk doen in die gebruik van aferese in die behandeling van individue met lang-Covid, te werk.

Dit maak deel uit van 'n internasionale navorsings- en samewerkingspoging oor die behandeling van lang-Covid. Net in Suid-Afrika word geskat dat ten minste 45% van die 2,7 miljoen Suid-Afrikaners wat die SARS-Cov-2-infeksie oorleef het, voortslepende Covid-simptome wat langer as 90 dae duur, ervaar. Dit beteken dat meer as 1,2 miljoen Suid-Afrikaners moontlik verdere mediese sorg kan benodig vir hierdie toestand waaroor tot dusver nog min bekend was.

Prof Pretorius, die hoof van die US se Departement Fisiologiese Wetenskappe, sê die sosiale en ekonomiese las van hierdie toestand sal verreikende gevolge inhou indien effektiewe behandelings nie ontwikkel word nie. “Ons sal saam met Dr. Jaeger werk om die doeltreffendheid en uitvoerbaarheid van H.E.L.P. aferese te ondersoek vir die behandeling van individue met lang-Covid en verdere maniere om Covid-stollingspatologie te ondersoek, toelig," sê sy.

Aferese is in wese die skeiding van plasma van bloedselle ten einde patogene stowwe uit die bloed te verwyder in die behandeling van chroniese metaboliese siektes. H.E.L.P. aferese (waar H.E.L.P. staan vir Heparin-induced Extracorporeal Lipoprotein/fibrinogen Precipitation - oftewel heparien-geïnduseerde lipoprotein-/fibrinogeen-presipitasie (afsakking) wat buite die liggaam plaasvind - bestaan uit vier stappe: plasmaskeiding, presipitasie met daaropvolgende filtrasie, heparienadsorpsie en ultrafiltrasie.

Dr. Jaeger gebruik reeds sedert 1985 H.E.L.P. aferese in die behandeling van pasiënte met metaboliese siektes in samewerking met die uitvinder van die masjien. Tans gebruik sy die B Braun H.E.L.P. aferesemasjien in die behandeling van individue wat ly aan lang-Covid om die mikrostolses, stollingsfaktore, cholesterol, fibrinogeen, sitokiniene, die Covid-piekproteïen en outo-antiliggaampies uit die bloed te filtreer.

Dit was egter eers nadat Prof Pretorius bewyse gevind het van 'n oorlading van onoplosbare inflammatoriese mikrostolsels wat in die bloed van individue met lang-Covid sirkuleer, dat aferese as 'n potensiële behandelingsopsie na vore gekom het. Hierdie verskynsel is nie voorheen opgemerk nie, aangesien normale stollingstoetse nie 'n ware weerspieëling van die hiperstolbaarheidstoestand in akute Covid-pasiënte was nie. Normaalweg word laboratoriumpatologietoetse ook slegs op plasma gedoen, sonder sellulêre materiaal soos die bloedplaatjies.

Prof. Pretorius sê die samewerking sal van onskatbare waarde wees ten opsigte van die evaluasie van die tegnologie en die opstel van 'n behandelingsprotokol vir die behandeling van lang-Covid. Gegrond op hierdie deurlopende navorsingspoging, het sy en Dr Chantelle Venter, met die hulp van Dr Jaco Laubscher, 'n graderingsisteem van mikrostolsels en bloedplaatjies ontwikkel, wat sal help met die interpretasie van resultate en die meer verpersoonlikte behandeling van individue wat aan lang-Covid ly.

Dr. Chantelle Venter, 'n tegniese beampte en hoof van die bloed lab, in die US se Departement Fisiologiese Wetenskappe, en Esté Burger en Simoné Turner (wat beide hulle nagraadse studies in 2020 aan die US voltooi het en tans by die US se aanvangsonderneming, BioCODE Technologies werksaam is) sal Prof. Pretorius na Duitsland vergesel.

In Suid-Afrika werk Prof Pretorius ook nou saam met Dr. Maré Vlok, 'n senior proteonomika-analis by die US se Sentrale Analitiese Fasiliteite, sowel as Dr. Jaco Laubscher en Dr. Johan Lourens wat albei as interniste by die Stellenbossse Mediclinic praktiseer. Hulle bestudeer stollings- en plaatjiedefekte by pasiënte met onderskeidelik akute of lang-Covid.

Die ander internasionale medewerkers is:

  • Prof Patrick Moriarty, verbonde aan die Departement Interne Geneeskunde by die Universiteit van Kansas se mediese sentrum en direkteur van Kliniese Farmakologie en die sentrum vir aterosklerose-/lipied-aferese;
  • Dr. Ilene Ruhoy, 'n  neuroloog en mediese direkteur van die EDS/Chiari Sentrum by die Mount Sinai South Nassau Hospital;
  • Dr. David Lee, 'n nooddiensdokter and georuimtelike epidemioloog by die New York Universiteit se Grossman mediese skool;
  • Dr Amy Proal, 'n mikrobioloog by die PolyBio navorsingstigting;
  • Dr. Susan Levine, geneeskundige by die Sentrum vir verswakkende neuro-immuunsiektes by Cornell Universiteit;
  • Dr. Asad Khan, 'n respiratoriese konsultant van Manchester Universiteitshospitale;
  • Dr. Anna Brooks, 'n sellulêre immunoloog en direkteur van die Universiteit van Auckland;
  • Dr. David Putrino, direkteur van rehabilitasie-innovasie vir die Mount Sinai gesondheidstelsel en assistentprofessor in rehabilitasiegeneeskunde by die Icahn mediese skool by Mount Sinai; en
  • Dr. Anne Maitland, assistentprofessor by die Icahn skool vir geneeskunde by Mount Sinai en mediese direkteur van omvattende allergie- en asmasorg.

Die samewerking word geadministreer deur Anne McCloskey, 'n voormalige lang-Covid-pasiënt van Dr. Jaeger en kampvegter vir die vind van 'n effektiewe behandeling.

Die Stellenbosch groep vertrek op Donderdag 11 November 2021.

Op die foto bo, van links na regs, Simoné Turner en Esté Burger van Biocode Technologies, en Prof Resia Pretorius en Dr Chantelle Venter van die Departement Fisiologiese Wetenskappe by die Universiteit Stellenbosch. Foto: Anton Jordaan

 

Medianavrae

Prof. Resia Pretorius

Sel: +27 (0)82 929 5041

E-pos: resiap@sun.ac.za