Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US se voorste navorsers ontvang NNS-toekennings
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Alec Basson]
Gepubliseer: 08/11/2021

Sewe vooraanstaande navorsers by die Universiteit Stellenbosch (US) is pas deur die Nasionale Navorsingstigting (NNS) vereer by die jaarlikse NNS-toekennings. Die toekennings gee erkenning aan en vier Suid-Afrika se navorsingsuitnemendheid wat die wetenskap tot voordeel van die samelewing bevorder.

Proff Dieter Heiss (Fisika), Andries Engelbrecht (Bedryfsingenieurswese / Rekenaarswetenskap), Elmi Muller (Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe), Cornelius van der Merwe (Privaatreg) and Oonsie Biggs (Sentrum vir Volhoubaarheidsoorgange) het almal 'n A-gradering ontvang by die geleentheid wat op 2 November 2021 gehou is. Dr Nicholas Spaull (Ekonomie) is met 'n P-gradering vereer en dr Isobel Brink (Siviele Ingenieurswese) het 'n toekenning vir navorsingsuitnemendheid as 'n vroeë loopbaan-/ontluikende navorser ontvang. Die US spog nou met 493 gegradeerde navorsers waarvan 15 ʼn A-gradering het.

Navorsers met 'n A-gradering word onomwonde deur hul eweknieë as rigtinggewende internasionale navorsers in hul onderskeie vakgebiede erken vir die uitstaande gehalte en impak van hul onlangse navorsing. 'n P-gradering is die hoogste moontlike gradering vir navorsers jonger as 35 jaar wat die potensiaal het om hulself binne vyf jaar ná evaluasie as internasionale navorsers in hul vakgebied te vestig. Volgens die NNS is sy graderingstelsel 'n waardevolle instrument om die gehalte van navorsing van Suid-Afrikaanse wetenskaplikes teen die beste in die wêreld te meet.

MEER OOR DIE ONTVANGERS

Heiss is 'n teoretiese fisikus wie se navorsing op uitsonderingspunte (singulariteite wat in nie-Hermitiese fisika voorkom) fokus, terwyl Engelbrecht se werk op rekenaarintelligensie en datawetenskap fokus. Laasgenoemde word tans erken as die US-navorser wat die tweede meeste aangehaal word.

Muller het as 'n baanbreker klinikus en oorplantingchirurg 'n belangrike rol deur haar werk in die Verklaring van die Istanboelse Bewaargroep gespeel om praktyke wêreldwyd aan te pas om orgaanskenkers teen uitbuiting en kommersialisering te beskerm. Sy het ook onlangs die eerste vrou geword om as Dekaan van die US se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe aangestel te word.

As een van 'n uitgelese aantal internasionaal-bekende skrywers wat 'n bydrae tot die gesaghebbende Encyclopedia of Comparative Law gelewer het, het Van der Merwe hom onderskei op die vakgebied van eiendomsreg uit 'n historiese en vergelykende perspektief met 'n spesifieke fokus op Suid-Afrikaanse, Skotse en Europese eiendomsreg.

Biggs is 'n vrugbare skrywer en ook een van die US se navorsers wat die meeste aangehaal word. Sy werk op die gebied van Volhoubare Wetenskap, waar sy haar daarop toespits om maatskaplike en ekologiese volhoubaarheidsuitdagings aan te spreek.

Spaull se P-gradering is geen geringe prestasie nie, aangesien hy tans die enigste ekonoom in die land is wat met hierdie gradering spog. Hy doen navorsing oor onderwysbeleid in Suid-Afrika en fokus op ongelykheid en vroeë-graadse geletterdheid en syfervaardigheid.

Brink het die Navorsingstoekenning vir Vroeë loopbaan- / Ontluikende Navorsers ontvang wat uitmuntende navorsingsuitnemendheid by huidige Thuthuka-beurshouers erken. Sy is vereer vir haar werk oor lae-impak en volhoubare tegnologieë in die verbetering van watergehalte, insluitende gebruikspunt-drinkbare waterbehandeling, groen infrastruktuur vir die gehalteverbetering van afval- en stormwaterafloop; en vir gehaltemodellering van rivierwater.

Dr Therina Theron, Senior Direkteur: Navorsing en Innovasie by die US, het in reaksie op die prestasies gesê: “Die NNS se graderingsproses bly 'n baie belangrike aanwyser van die internasionale erkenning van die US se navorsers en die gehalte van hul navorsingsuitsette soos beoordeel deur hul akademiese eweknieë van regoor die wêreld.

“Ons is uiters trots op al die US se gegradeerde navorsers, en veral op ons nuwe P- en A-gegradeerde navorsers. Hulle lewer 'n reusebydrae tot die US se visie om Afrika se voorste navorsingsintensiewe universiteit te wees. Ons vereer en vier hulle, want ons weet wat dit verg om op hierdie vlak te presteer."