Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
​ US-wynnavorser ontvang Franse ridderskap
Outeur: Corporate Communication and Marketing/Afdeling Korporatiewe Kommunikasie - Sandra Mulder and/en Engela Duvenage
Gepubliseer: 08/11/2021

Die Franse regering het die wynmikrobioloog prof Benoit Divol van die Universiteit Stellenbosch (US) met 'n seremoniële ridderskap, die Chevalier dans l'Ordre du Mérite Agricole (of Ridderskap in die Orde vir Landbou), vereer.

Die Orde is die eerste keer in 1883 in plek gestel. Die Parysgebore Divol is die enigste persoon met Suid-Afrikaanse bande wat in 2020 dié Franse merietetoekenning ontvang het. Dit erken sy wetenskaplike bydraes en sy suksesvolle pogings om samewerking tussen navorsers in Suid-Afrika en Frankryk op die gebied van wingerd- en wynkunde te bewerkstellig.

Die Franse ambassadeur in Suid-Afrika, Aurélien Lechevallier, het by die oorhandiging wat onlangs (3 November 2021) by die US plaasgevind het, gesê Divol se prestasies is 'n bewys van uitnemendheid, toewyding, omgee en solidariteit.

“Ons wil ons innige dankbaarheid uitspreek vir u pogings en toewyding aan Frankryk en Suid-Afrika."

Lechevallier het gesê die titel van Ridder is nie net aan Divol toegeken vir sy merkwaardige navorsing oor die kuns van wynmaak nie, maar ook die akademiese en professionele band wat hy tussen Suid-Afrika en Frankryk geskep het.

Sedert Divol in 2005 by die US aangesluit het, is hy aktief betrokke in navorsingsvennootskappe, interaksie in nagraadse studieprogramme, personeel- en studentebeweeglikheid en gesamentlike PhD-studies tussen die US en die Universiteit van Boergondië, die Nasionale Politegniese Instituut van Toulouse, die Universiteit van Bordeaux en die Universiteit van Montpellier. Hy het ook geldelike steun vir sy navorsing van bedryfsvennote in Frankryk ontvang.

Prof Divol award-92.jpg

D​ivol het gesê hy voel diep geëerd met die ridderskap.

“Die Franse chemikus en bioloog, Louis Pasteur, was in 1883 een van die eerste ontvangers van hierdie onderskeiding. Ek kan beslis nie voorgee dat ek in dieselfde spore as so 'n merkwaardige wetenskaplike en humanis loop nie. Dit is regtig vleiend en 'n eer om dieselfde prestasie te behaal, veral omdat Pasteur as die vader van mikrobiologie, wat ook my navorsingsveld is, beskou word."

Divol het gesê dit maak hom persoonlik gelukkig om brûe tussen Frankryk en Suid-Afrika te bou.

“Nadat ek 'n akademikus geword het, was dit bloot natuurlik om vennootskappe en samewerking met Frankryk aan te gaan en te bevorder tot voordeel van die wetenskap, van wynkunde, vir myself en vir my studente. So lief as wat ek vir Suid-Afrika is, voel ek ongelooflik trots om Frans te wees. Ek sal aanhou om vir samewerking tussen Frankryk en Suid-Afrika te veg ter bevordering van  wetenskaplike uitnemendheid en goeie wyne."

Prof Nico Koopman, die US se Viserektor: Sosiale Impak, Transformasie en Personeel, het hulde gebring aan Divol se reusebydrae tot wetenskaplike navorsing en uitgebreide navorsingsamewerking tussen Frankryk en Suid-Afrika.Prof Divol award-94.jpg

“Ons voel geëerd om hom as deel van die Universiteitsgemeenskap te hê. Baie dankie, mnr die ambassadeur, dat u erkenning gee aan een van u landsburgers en een van ons professors," het Koopman gesê. 

Divol het in 2004 sy PhD in Wynkunde aan die Nasionale Politegniese Instituut van Toulouse verwerf, en in 2010 'n DSc van die Universiteit van Bordeaux.

Hy is reeds sedert 2005 aan die US verbonde, nadat hy as nadoktorale navorser by die destydse Instituut vir Wynbiotegnologie aangesluit het. Sedertdien het hy reeds as voorsitter van die Departement Wingerd- en Wynkunde gedien, en is in 2017 tot medeprofessor bevorder.


As 'n mikrobioloog en ook 'n gekwalifiseerde wynmaker fokus Divol op verskillende giste en ensieme wat in die wynmaakproses gebruik word.

Saccharomyces gis word veral in die voedsel- en drankbedryf gebruik omdat dit suikers maklik omsit na koolstofdioksied en alkohol, en terselfdertyd 'n wye reeks geurkomponente produseer. Saccharomyces cerevisiae gis word tipies in die fermentasieproses gebruik.

Divol se navorsing fokus egter op ander soorte giste wat nie in die Saccharomyces-groep val nie. Hy bestudeer hoe hulle voedingstowwe gebruik en die komposisie van wyn kan beïnvloed. Saam met sy studente bestudeer hy ook hoe ander soorte giste op 'n sellulêre en molekulêre vlak reageer wanneer hulle aan druiwesap of wyn blootgestel word. Sy navorsingspan probeer hidrolitiese ensieme en selwandproteïene identifiseer wat van waarde in die wynmaakproses kan wees. Hulle bekyk ook maniere hoe om nie-Saccharomyces giste te verbeter deur ander tegnieke buiten genetiese modifikasie te gebruik.

“Die bestudering van nie-Saccharomyces giste het wêreldwyd maar eers sowat twee dekades gelede begin," vertel Divol. “Hierdie soorte giste is geneig om nie so goed soos Saccharomyces cerevisiae aangepas te wees om die hele fermentasieproses te oorleef waartydens druiwesap in wyn omgeskakel word nie. Tog bly dit belangrik om hulle te bestudeer, omdat hulle ook belangrike eienskappe bevat."

Hy glo dit kan gebruik word om Saccharomyces-lyne in die wynmaakproses te ondersteun, en dat die gebruik van hierdie bykomende opsies die geleentheid bied om nuwe wynmaakstyle te ontwikkel wat deur liefhebbers geniet kan word. Die gebruik van nie-Saccharomyces gisspesies kan dalk ook help om die wynmaakproses meer omgewingsvriendelik te maak, en selfs die gebruik van chemikalieë beperk.

Oor die jare is talle soorte gis reeds gekommersialiseer danksy navorsing wat by die Universiteit Stellenbosch gedoen is. Divol en sy span verwag dat nog een, wat danksy hul werk geïdentifiseer is, binne die volgende jaar of wat kommersieel vir gebruik deur die bedryf beskikbaar sal wees.

Hooffoto:

Die Franse regering het vir prof Benoit Divol van die Departement Wingerd- en Wynkunde en die Suid-Afrikaanse Druiwe- en Wynnavorsingsinstituut aan die Universiteit Stellenbosch met 'n seremoniële ridderskap, die Chevalier dans l'Ordre du Mérite Agricole, vereer.

Tweede foto:

Die Franse ambassadeur in Suid-Afrika, Aurélien Lechevallier en prof Benoit Divol gee mekaar 'n armgroet.

Derde foto:

Teenwoordig by die oorhandiging was prof Nico Koopman, die US se Viserektor: Sosiale Impak, Transformasie en Personeel, Aurélien ​Lechevallier, prof Benoit Divol en prof Danie Brink, Dekaan van die Fakulteit AgriWetenskappe.

Fotograaf: Anton Jordaan

Kontakbesonderhede:
Prof Benoit Divol
Departement Wingerd- en Wynkunde en die Suid-Afrikaanse Druiwe- en Wynnavorsingsinstituut
Universiteit Stellenbosch
divol@sun.ac.za
072 325 5428

 

 

​