Net tien maande gelede was Suid-Afrikaners desperaat om toegang tot die Covid-19-entstowwe te verkry, en daar was ʼn gevoel van hopeloosheid dat die land nie betyds entstowwe sal ontvang om die derde en vierde golwe van die pandemie teen te staan nie. Maar teen October 2021 was daar slegs ongeveer 10,8 miljoen mense (18,1%) wat ten volle ingeënt is.
Hoekom is dit dat Suid-Afrikaners wat 10 maande gelede so desperaat was om ingeënt te word nou huiwerig is om die entstof te neem?
Hierdie vraag is gestel tydens ʼn 'Vuurherd-klets' webinaar wat op 20 Oktober gehou is om Wêreld Bewysgebaseerde Gesondheidsorg Dag 2021 te herdenk.
Hierdie geleentheid, wat deur die Sentrum vir Bewysgebaseerde Gesondheidsorg (SBBG) aangebied is, het gefokus op die behoefte vir toegang tot feitlike-, bewysgebaseerde inligting tydens die 'infodemie' wat ontstaan het weens ʼn oorvloed van inligting – waarvan baie vals of misleidend was – wat mense oor die virus en die entstof ontvang het.
Die doel van die gesprek was om verskeie perspektiewe byeen te bring om te verstaan watter rol die infodemie gespeel het in die skuif van entstof-desperaatheid tot -huiwerigheid in Suid-Afrika, en om te kyk hoe verskeie rolspelers gehelp het om mites te verdryf en ʼn beter begrip te bevorder.
Zengeziwe Msimang, die hoof skakelbeampte by Harambee Youth Accelerator, wat die geleentheid gemodereer het, het gesê dat entstofhuiwerigheid nie uniek aan Suid-Afrika is nie – slegs ongeveer 36% van die wêreld is tans ingeënt, al is entstowwe gratis beskikbaar is in baie lande. Sy het gesê dat mense reg oor die wêreld ʼn “tsunami van inligting" ontvang het “wat bestaan uit ʼn kombinasie van feite en mites, wat dit moeilik maak om feite van fiksie te onderskei".
“Watter stappe kan ons neem om soveel opname van die entstof as moontlik te kry in ʼn era waar vals nuus en alternatiewe feite aan die orde van die dag is," het Msimang gevra.
Farai Mzungu, programbestuurder by Youth Health Africa, wat die nasionale departement van gesondheid ondersteun het in sy strategie vir Covid-19 en inentings, het gesê sy glo ʼn "armoede van mediese inligting" by die algemene publiek het grootliks daartoe bygedra dat Suid-Afrika van “entstof-desperaatheid tot entstof-huiwerigheid, apatie en teenstand" gegaan het. “Hierdie gaping is gevul deur verkeerde inligting, nie net oor die entstof nie, maar vroeg tydens die Covid-19-uitbreking was daar ook verskeie samesweringsteorieë oor Covid-19 se oorsprong. Daar was ʼn groot toename in hierdie soort inligting wat gelei het tot dit wat ons nou die infodemie noem."
Mzungu het gesê dat die land se hoë werkloosheidskoers, tesame met die probleem van duur data, tot gevolg gehad het dat jong mense nie toegang kon kry tot die feite wat hulle benodig het om inligting te verifieer nie, wat die infodemie by hierdie groep vererger het.
Mia Malan, die stigter-redakteur van Bhekisisa Sentrum vir Gesondheidsjoernalistiek, het verduidelik hoe dié media-organisasie die vinnige toevloei van inligting tydens Covid-19 hanteer het en die inligting wat hulle ontvang het, gefilter het om te verseker dat die feite korrek was voordat hulle dit gepubliseer het.
“By Bhekisisa het ons voor Covid hoofsaaklik eweknie-beoordeelde studies gebruik – dus sou ons studies vergelyk het en seker maak dat joernaliste die metodologie verstaan. Maar Covid het alles verander aangesien daar meer voorgedrukte studies as eweknie-beoordeelde studies uitgekom het. ʼn Voorgedrukte studie is nog nie deur die eweknie-beoordelingsproses nie en dit maak dit moeiliker vir joernaliste om te weet of studies geloofwaardig is," het Malan gesê.
“Dus het ons meer as ooit tevore op wetenskaplikes staat gemaak om ons stories se feite na te gaan."
“As jy iets verkeerd kry tydens ʼn pandemie kan dit letterlik die verskil tussen lewe en dood wees, en daar is tans baie onwaarhede wat tans in die media verskyn."
Malan het gesê die openlike rusie tussen die Ministeriële Advieskomitee en die regering in die tydperk toe Suid-Afrika gewag het vir entstowwe om ingevoer te word, het ook bygedra tot entstof-huiwerigheid.
“Dit het ʼn impak gemaak op die mate van vertroue wat mense in die regering het om entstowwe te verkry en om beleide te ontwerp en te implementeer. Mense se vertroue in ʼn entstof is grootliks afhanklik van die verskaffer van die entstowwe, en as jy nie baie vertroue in die verskaffer het nie, neem opname af."
Prof Hassan Mahomed, ʼn openbare gesondheidspesialis by die Wes-Kaapse Departement van Gesondheid het gesê dat provinsiale departemente ook op wetenskaplikes staat gemaak het om die effek van die infodemie teen te staan.
Hulle het ook gebruik gemaak van inligting van betroubare bronne, soos die Wêreldgesondheidsorganisasie en die Amerikaanse Sentrum vir Siektebeheer (Centre for Disease Control, CDC), asook die Suid-Afrikaanse Nasionale Instituut vir Infeksiesiektes (National Institute for Communicable Disease, NICD).
“Ons moes seker maak dat ons te alle tye op hoogte was van die beste bewyse wat beskikbaar was." Mahomed het gesê dat verskeie nasionale en plaaslike opnames getoon het dat daar nie baie vertroue in die regering as ʼn bron van inligting was nie, tog vertrou baie mense steeds hul plaaslike dokter of verpleegster en hul gemeenskap se godsdienstige leier.
“Deur ons opnames het ons bevind dat dit eintlik ʼn klein aantal mense is wat heeltemal teen die entstof gekant is – ongeveer 10 tot 15%. ʼn Groter aantal mense is net onseker. Hulle soek meer inligting van ʼn betroubare bron.
“Die antwoord is vertroue – vertroue in wetenskap, vertroue in die regering, vertroue in plaaslike leiers. Dit is iets wat verder ontwikkel moet word, en dit neem tyd. Dit is iets waarmee die regering sukkel."
Yaseen Theba, voorsitter van die Moslemvereniging van Suid-Afrika, ʼn organisasie sonder winsbejag wat suksesvol met die owerhede in Gauteng saamgewerk het om bystand te lewer vir die inentingsveldtog, het gesê dat die pandemie die probleem van inligtingoorvloed beklemtoon het.
Hy was dit eens dat die kwessie van vertroue belangrik is vir die bevordering van entstofopname. “As wyksraadslede, gemeenskapsleiers en godsdienstige leiers die inentingsveldtogte gedryf het, het baie mense inentings laat doen omdat hulle daardie mense vertrou. Byvoorbeeld, as mense inentings ontvang het by ʼn gemeenskapsentrum soos ʼn moskee, het dit hulle persepsie verander en was hulle meer ontvanklik vir inenting aangesien dit ʼn bekende plek is waar hulle die gemeenskapslede geken en vertrou het."