Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
STIAS-genoot Abdulrazak Gurnah slaan Nobelprys vir Letterkunde los
Outeur: Corporate Communication and Marketing | Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
Gepubliseer: 13/10/2021

​Die Nobelprys vir Letterkunde in 2021 is aan die Tanzaniese romanskrywer en genoot van die Stellenbosse Instituut vir Gevorderde Navorsing (STIAS), Abdulrazak Gurnah, toegeken “vir sy vasberade en deernisvolle binnedringing van die uitwerking van kolonialisme en die noodlot van die vlugteling in die draaikolk tussen kulture en vastelande".

Gurnah is die eerste Tanzaniese skrywer wat die prys wen en die eerste swart Afrika-skrywer sedert Wole Soyinka in 1986 om dit te ontvang.

Gurnah sluit by 'n groep STIAS-genote aan wat almal Nobelpryswenners is (sien lys aan die einde). STIAS​ is 'n outonome navorsingsorganisasie wat deur die Universiteit Stellenbosch (US) by sy geskiedkundige Mostertsdrift-landgoed gehuisves word. Dit is gestig ingevolge 'n besluit deur die US Raad in 1999, en is in 2007 as 'n artikel 21-maatskappy (maatskappy sonder winsoogmerk) met sy eie raad van direkteure geregistreer.

Gurnah is in 1948 in Tanzanië gebore en het op die eiland Zanzibar grootgeword. Hy het in die sestigerjare ná die Zanzibar-rewolusie na Engeland gevlug. Gurnah het eers aan die Christchurch-kollege Canterbury gestudeer en is tans professor-emeritus in Engels en Postkoloniale Letterkundes by die Universiteit van Kent.

Sy eerste roman, Memory of Departure, het in 1987 verskyn. Sedertdien het hy tien romans en 'n aantal kortverhale die lig laat sien. Sy romans sluit in Paradise (1994), wat in koloniale Oos-Afrika gedurende die eerste wêreldoorlog afspeel. Dit het die kortlys vir beide die Booker- en die Whitbread-prys gehaal. Nog 'n roman, By the Sea (2001), het op die aanvanklike lys vir die Bookerprys verskyn en het die kortlys vir die Los Angeles Times-boekprys gehaal.

Gurnah is in 2006 as 'n genoot van die Koninklike Vereniging vir Letterkunde verkies. Hy word as een van die “belangrikste kontemporêre postkoloniale romanskrywers wat vandag in Brittanje werksaam is", beskryf en die temas van ontwrigting, om te behoort, kolonialisme, verplasing, herinneringe en migrasie kom algemeen in sy werk voor.

Gurnah het in 'n kort onderhoud na afloop van die Nobel-aankondiging op 7 Oktober 2021 die vreugde beskryf wat hy ervaar wanneer hy 'n projek voltooi – “… baie daarvan is uiteraard iets kompulsief, dwingend, jy weet, iets wat skrywers vir dekades lank aanhou doen – jy kan dit nie doen as jy dit haat nie. Maar dit is … ek skat dit is beide die plesier om iets te skep, iets te bewerk, om dit reg te kry, maar dit is ook die plesier daarvan om oor te bring, … om plesier te verskaf, om 'n saak te stel, om te oorreed, en al daardie soort goed."

Die STIAS-konneksie

Gurnah was gedurende 2018 die residensiële kunstenaar by STIAS en het 'n openbare lesing (klik hier) aangebied waarin hy die uitdagings beskryf het om ware “wêreldletterkunde" te lewer. “Ons begeerte vir 'wêreldletterkunde' moet deur die gedagte van mensheid sonder grense geïnspireer word," het hy gesê.

Hy het sy mees onlangse roman, Afterlives, begin skryf terwyl hy by STIAS was en dit is in 2020 gepubliseer.

“Ons is regtig baie bly en geëerd om hierdie wonderlike en welverdiende prestasie saam met Abdulrazak te vier," het die direkteur van STIAS, Edward K Kirumira, gesê. “Sy werk het 'n diepgaande invloed op ons begrip van wat dit beteken om in 'n ware geglobaliseerde wêreld te lewe."

Ander STIAS-genote wat Nobelpryswenners is:

  • Kip Thorne, STIAS-genoot in 2010, het in 2017 die Nobelprys vir Fisika ontvang vir sy bydraes tot die Laser Interferometer-gravitasiegolf Observatoriumopspoorder en die waarneming van gravitasiegolwe;
  • Harald Zur Hausen, STIAS-genoot in 2013, was in 2008 die gesamentlike wenner van die Nobelprys vir Fisiologie of Geneeskunde vir sy ontdekking dat menslike papilloomvirusse servikale kanker veroorsaak;
  • Joseph Stiglitz, STIAS-genoot in 2017, het die 2001 Nobelprys vir Ekonomie gewen vir sy navorsing oor inligtingasimmetrie;
  • JM Coetzee, STIAS-genoot in 2015, het die 2003 Nobelprys vir Letterkunde gewen; en
  • Sydney Brenner, STIAS-vennoot in 2005 en 2010, het in 2002 die Nobelprys vir Fisika gewen vir sy werk oor die genetiese regulering van orgaanontwikkeling en geprogrammeerde selsterfte. 

Foto: Stellenbosse Instituut vir Gevorderde Navorsing (STIAS)