Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Robert Kotze vereer vir rol in Confucius-instituut by US
Outeur: Engela Duvenage
Gepubliseer: 11/10/2021

​Robert Kotze, senior direkteur van Universiteit Stellenbosch (US) Internasionaal, is gedurende 'n onlangse virtuele geleentheid uit Beijing, China, vereer met 'n langdiensmedalje ter erkenning van sy rol om vir langer as 'n dekade reeds die werk van die Confucius-instituut by die US (“CISU") te ondersteun. CISU onderneem buitekurrikulêre onderrig in Chinees by die US self, sowel as by skole en instellings in die wyer Bolandstreek.

Kotze, wat as plaaslike CISU-direkteur dien, was een van 75 direkteure wêreldwyd wat op dié wyse vereer is. Ander medalje-ontvangers het eweknieë van ander Afrika-universiteite in onder meer Egipte, Madagaskar, Kenia en Rwanda ingesluit.

Die geleentheid is aangebied deur die Chinese Internasionale Onderwysstigting (“CIEF"), 'n internasionale nieregeringsorganisasie wat onlangs oorgeneem het as koördineerder van programme om die Chinese taal en kultuur wêreldwyd te bevorder. Deur die inisiatief voorsien Chinese universiteite onderrig, personeelhulpbronne en bedryfsfinansiering aan meer as duisend Confucius-institute of -klaskamers deur die hele wêreld.

CIEF-voorsitter prof Yang Wei het in sy hoofrede die medalje-ontvangers vir hulle ondersteuning vir Chinese onderrig en leer by hulle onderskeie instellings bedank. Kort video's van die verskillende Confucius-institute se werk is ook vertoon.

CISU is in 2007 gestig. Kotze het die US se Chinese vennootinstelling, die Universiteit van Xiamen, vir hulle volgehoue steun sedert die aanvang van die Stellenbosse instituut bedank, en vir die eer om in dié tyd saam met vyf geesdriftige en toegewyde Chinese mededirekteure te kon dien. Prof Binlan Huang is die huidige Chinese mededirekteur by CISU.

Nadat dit aanvanklik in die US se Sentrum vir Chinese Studie tot stand gebring is, is CISU in 2009 na US Internasionaal verskuif. Dit bied US-studente en lede van die algemene Stellenbosse gemeenskap niekredietdraende taalopleiding op verskillende vaardigheidsvlakke, sowel as geleenthede om meer oor die Chinese kultuur te leer. “Die hoofdoel is om voorsiening te maak vir diegene wat daarin belang stel en gewillig is om die Chinese taal aan te leer en die kultuur te verstaan," verduidelik Kotze.

CISU koördineer ook 'n aantal verrykingsprogramme by 14 skole op en om Stellenbosch en elders in die Boland, waaronder die Sekondêre Skool Kylemore en Worcester Gimnasium. “Ek glo CISU lewer 'n sinvolle bydrae en open nuwe wêrelde vir die leerders," sê Kotze. “Boonop het dit die Universiteit in staat gestel om verhoudings met hierdie plaaslike skole te bou."

Daarbenewens kon die US deur sy betrokkenheid by die Confucius-instituut ook sy akademiese netwerk in China versterk. Die Universiteit het oor die jare etlike somer- en winterkampe vir leerders en studente gefasiliteer, sowel as die verpligte semesteruitruil na China vir honneursstudente in Chinese Taal as deel van hulle nagraadse program. “Die Confucius-instituut se werk is gegrond op breër akademiese samewerkingsprojekte om te sorg dat die bande tussen universiteite altyd in hulle onderskeie wetenskaplike werk veranker is."

Sy werk saam met die Confucius-instituut het hom self ook die geleentheid gebied om persoonlik te groei, sê Kotze. “Ek kon China 'n hele paar keer besoek en verskillende aspekte van die Chinese kultuur en geskiedenis leer ken. Benewens opleidings- en vermoëbougeleenthede, sluit die programme altyd ryk kulturele aktiwiteite in. Om Beijing toe te gaan is altyd 'n belewenis, en my besoeke aan Zhangjiajie en die Terracottakrygers in Xi'an sal my ook altyd bybly."

  • Vir verdere inligting oor die Confucius-instituut by die US, gaan na www.sun.ac.za/cisu.