Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Kort voorkomingsprogram kan SA-kinders met angs help
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Alec Basson]
Gepubliseer: 11/10/2021

'n Studie by die Universiteit Stellenbosch (US) het gevind dat 'n kort voorkomingsprogram in geestesgesondheid kan help om angs by kinders uit semi-landelike gebiede met 'n gebrek aan hulpbronne in die Wes-Kaap te verminder.

Die studie het op die ontwikkeling van 'n innoverende program gefokus wat vir hierdie kinders geskik is, gegewe die feit dat daar in 'n land met uiterste sosio-ekonomiese ongelykhede en 'n tekort aan geestesgesondheidhulpbronne nog nie aan die behoefte vir toeganklike geestesgesondheidintervensies voldoen is nie. Die belangrikste bevindings deur dr Naomi Myburgh en prof Helen Loxton van die US se Departement Sielkunde en prof Peter Muris van die Maastrict-universiteit in Nederland het onlangs in Child Care in Practice verskyn.

I am BRAVE-program

Die kort program, getiteld I am BRAVE (“Ek is dapper" in Afrikaans), bestaan uit agt sessies van 45 minute elk wat in slegs twee weke voltooi kan word. Dit is ontwerp om spesifieke Kognitiewe Gedragsterapie- (KGT) vaardighede by kinders tussen nege en 13 jaar te ontwikkel.

Die eerste vier sessies leer kinders om angstige gevoelens en gedagtes en gedrag wat nie help nie, te identifiseer wanneer hulle bedreig voel. Daarna word hulle ontspanningsvaardighede, kognitiewe herstruktureringtegnieke soos hanterings-selfgesprek en probleemoplossingsvaardighede geleer om hulle te help om hul angstigheid te oorkom. Die program sluit nog vier sessies in wat kinders help om hul nuwe vaardighede te oefen ten einde hulle te bemagtig om hul angstigheid te kan hanteer.

Volgens die navorsers, het die program “die potensiaal om kinders te help om te onderskei tussen die vermyding van onrealistiese vrese en die alledaagse, beskermende en nodige vermyding van gevare wat met baie Suid-Afrikaanse kontekste geassosieer word".

Resultate

Hulle sê die resultate het 'n baie belowende afwaartse neiging in angstigheid by die kinders getoon tot by wat as normale vlakke beskou word ná deelname aan die I am BRAVE-program.

“Ons het gevind die program het die kinders gehelp om meer veerkragtig te wees en het hulle geleer hoe om te ontspan wanneer hulle angstig raak. Dit het ook hul hanterings-, kommunikasie- en probleemoplossingsvaardighede verbeter.

“Die kinders het aangedui dat die intervensie hulle gehelp het om uitdagende interpersoonlike verhoudings – en veral die konflik verbonde daaraan – te bestuur. Hulle het ook aangedui dat hulle kernkennis oor KGT bekom het rakende gedagtes, gevoelens en gedrag aangeleer, asook vaardighede om hul emosies, gedagtes en gedrag wat nie help nie, te bestuur.

Die navorsers sê dit was veral bemoedigend dat die kinders die vaardighede wat hulle in die program aangeleer het, maande later in dreigende situasies gebruik het soos om onder meer in die nag bang te wees vir misdadigers, spesifieke vrees vir diere, afknouery, om voor ander te praat, om vriende te maak en om konflik te hanteer. Hulle voeg by dat die kinders ook hul sibbe en ouers hierdie vaardighede geleer het om angs te bestuur en dat hulle dapper genoeg gevoel het om dinge uit te toets wat hulle angstig gemaak het.

Volgens die navorsers is die intervensie redelik veelsydig. “Die kort program kan nie net by skole, naskoolse- of gemeenskapsentrumprogramme geïntegreer word nie, maar bied ook die moontlikheid om opgeleide gemeenskapslede te gebruik om dit aan te bied."

Volgens hulle kan KGT-gebaseerde intervensies soos die I am BRAVE-program moontlik ook Suid-Afrikaanse kinders help om bestaande hindernisse te oorkom wat hulle in die verkryging van toegang tot geestesgesondheidsdienste ondervind en kan dit die las wat op geestesgesondheidsorgdienste met te min hulpbronne geplaas word, help verminder.

“Hierdie tipe intervensies is uiters belangrik aangesien die Wêreldgesondheidsorganisasie aandui dat kinderdae krities belangrik is vir lewenslange geestesgesondheid en dat 50% van geestesgesondheidstoestande teen die ouderdom van 14 jaar ontwikkel."

Volgens die navorsers dui die I am BRAVE-intervensieprogram op die potensiaal van so 'n benadering om angstigheid onder kwesbare kinders in Suid-Afrika se semi-landelike gebiede met min hulpbronne aan te spreek.

  • BRON: Myburgh, N; Muris, P & Loxton, H 2021: Promoting Braveness in Children: A Pilot Study on the Effects of a Brief, Intensive CBT-based Anxiety Prevention Programme Conducted in the South African Context, Child Care in Practice, DOI: 10.1080/13575279.2021.1902785