Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Dr Erna Blancquaert ontvang beurs om Wynmeester te word
Outeur: Engela Duvenage
Gepubliseer: 08/10/2021

'n Wingerdboukundige en navorser van die Universiteit Stellenbosch, dr Erna Blancquaert, is een van slegs twee ontvangers wêreldwyd van die 2021 Taylor's Port Golden Vines Diversity Scholarships. Die beurs, wat 55 000 Britse pond beloop, stel haar in staat om die gerekende internasionale Wynmeester-program (MW) aan die Institute of Masters of Wine in die Verenigde Koninkryk te volg.

Die ontvangers is aangekondig by die niewinsgewende Golden Vines Toekenningsgeleentheid en dinee. Dis op 7 Oktober 2021 aangebied by Annabel's Private Members Club, Londen se toonaangewende private klub.

Dr Blancquaert is verbonde aan die US Departement Wingerd- en Wynkunde en die Suid-Afrikaanse Instituut vir Druif- en Wynnavorsing.

“Sy is 'n natuurlike leier met hoë integriteit. Ek wens haar elke sukses toe," het die voorsitter van die beoordelaarspaneel, Jancis Robinson MW, gesê.

Robinson en haar mede-beoordelaars sal voortgesette mentorskap verskaf aan dr Blancquaert en mede-ontvanger Angela Scott, 'n Amerikaanse prokureur wat tans in Nieu-Seeland gebaseer is.

Dr Blancquaert sê sy is in die wolke oor die geleentheid wat aan haar gebied word om weer 'n deeltydse student te word, en om die gesogte MW-kwalifikasie te behaal. Dit word algemeen in die wynbedryf beskou as een van die hoogste standaarde van professionele kennis.

Altesame 42 aspirant-studente van swart en etniese minderhede uit 23 lande het aansoek gedoen vir die beurse met die oog daarop om deel te wees van die Master of Wine (MW) of Master Sommelier (MS) programme.

Volgens die organiseerders erken die niewinsgewende Golden Vines-toekennings die “uitblinker-sterre van die edelwynbedryf". Die funksie, georganiseer deur die wynnavorsing- en inhoudproduksie-maatskappy Liquid Icons, het fondse ingesamel vir die Gerard Basset Stigting wat meer diversiteit en inklusiewe wyn-opvoedingsprogramme befonds.

Die beurse dek die ontvangers se kursusgeld, reis- en eksamen-kostes volledig, sowel as moontlike inkomste-verliese tydens hul werkplasing-internskappe. Die internskap-program sluit gediversifiseerde werkondervinding in met sommige van die wêreld se bekendste wynkelders insluitend Château Cheval Blanc, Liber Pater, Château Smith Haut Lafitte, en Château d'Yquem in Bordeaux; Dom Pérignon en Ruinart in Champagne; Domaine Baron Thenard, Domaine des Lambrays en Domaine Laroche in Boergondië; Weingut Egon Müller in Duitsland; Symington Family Estates en Taylor's Port in Portugal; Colgin Cellars, Lawrence Wine Estates  en Opus One in Kalifornië; Klein Constantia en Vilafonté in Suid-Afrika; Bodega Catena Zapata in Argentinië; Lapostolle Clos Apalta en Vina Vik in Chili; en die Macallan distilleerdery in Skotland.

Onder die opwindende geleenthede wat op dr. Blancquaert wag is 'n Meestersklas met Marc Almert (2019 se ASI Beste Sommelier wêreldwyd)), 'n tweedaagse spesialis-kurkkursus by Amorim, werkplasing by Annabel's Private Members Club en The Birley Clubs, sowel as akademiese kursusse aan UC Davis se Departement Wyn- en Wingerdkunde, die WOW Wine School (Porto), die Kedge Wine School, en die Internasionale Organisasie vir Wingerd en Wyn (OIV).

Dr Blancquaert, oorspronklik van die Paarl, was die eerste swart vrou uit Afrika om 'n PhD in Wingerdkunde te behaal.

Haar navorsing fokus op abiotiese stressors (klimaatverandering) en die impak daarvan op die metaboliete van die druifkorrel, volhoubaarheidspilare geassosieer met wingerd- en wynproduksie en die gebruik van infrarooi-tegnologie om presisie-wingerdbou te implementeer. Sy is 'n Fulbright Alumna en koördineer vir die Universiteit Stellenbosch die  Global Network for Agricultural Sciences and Viniviticulture konsortium met sewentien ander internasionale wynproduserende vennoot-universiteite.

Haar fokus is om internasionalisering tussen die vennoot-universiteite te bevorder en 'n leer-ondervinding vir toekomstige geslagte in die wêreldwye wyn-gemeenskap te skep.

Begrip van die wingerdstok is wat haar inspireer. “Goeie wyne word in die wingerd gemaak" en “die bewys lê in die proe" is onder haar twee groot sêgoed.

Sy jaag kennis na terwyl sy terselfdertyd kennis wil deel deur haar onderrig en haar interaksie met studente en diegene wat sy mentor.

Wanneer sy nie klasgee, navorsing doen of wyn proe nie, geniet dr Blancquaert die buitelug, kook en reis en is stil-stil 'n digter en fotograaf. Vir haar begin 'n perfekte dag met 'n stappie in die Stellenbosse berge, of 'n wandeling op die strand met haar man, Maarten, en hul sesjarige seun, Josh.