Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Menseregte behoort ekonomiese besluitneming te rig
Outeur: ​Sandra Liebenberg
Gepubliseer: 07/10/2021

Suid-Afrika het 'n behoorlike beleids- en wetgewende raamwerk nodig om te verseker dat menseregte veral in moeilike tye ekonomiese besluitneming rig. Só meen prof Sandra Liebenberg, bekleër van die HF Oppenheimer-leerstoel in Menseregtereg by die Fakulteit Regsgeleerdheid, ʼn onlangse meningsartikel vir The Conversation.

  • Lees die gedeeltelik vertaalde weergawe van die artikel hieronder.

​Sandra Liebenberg*

Die rol wat menseregte in Suid-Afrika se ekonomiese beleid moet speel, was die afgelope jaar die middelpunt van 'n intense polemiek en debat. Dít nadat die ministerie van finansies bestedingsbesnoeiings te midde van di​e vernietigende COVID-19-pandemie in sy Mediumtermyn-begrotingsbeleidverklaring aangekondig het. 

Die verklaring sit die regering se beleidsraamwerk vir die ko​mende begroting en sy makro-ekonomiese planne en doelwitte vir die volgende drie jaar uiteen.

Daar word beplan om regeringsbesteding oor die verloop van drie finansiële jare vanaf 2021 met R300 miljard (sowat US$21 miljard) te besnoei. Dit sal 'n ernstige uitwerking op die begrotings vir onderwys, gesondheidsorg, grondhervorming en ander maatskaplike dienste hê.

Die regering sê die besnoeiings is nodig om 'n “skuldspiraal" – om geld te leen om verpligtinge na te kom – te voorkom. Omdat Suid-Afrika se kredietgradering onder beleggingsgraadis, moet dit 'n hoër rentekoers op nuwe skuld betaal. Daarby het die BBP in 2020 met 7% gedaal weens die uitwerking van COVID-19 op die reeds-sukkelende ekonomie.

Ekonome en die burgerlike samelewin​​g het hierdie plan gekritiseer. Hulle redeneer dit ondermyn baie benadeelde groepe se toegang tot sosio-ekonomiese regte. Die regering moet eerder ander opsies vir die mobilisering van hulpbronne ondersoek.

Sosio-ekonomiese regte word in die handves van regte uiteengesit. Dit sluit toegang tot grond en behuising, gesondheidsorg, voedsel en water, maatskaplike sekerheid en onderwys in.

Openbare deelname

Hoe kan die uitvoerende en wetgewende regering verseker dat menseregte in ag geneem word in ekonomiese beleidsbesluite?

Een manier is om menseregte-impakassesserings vóór ekonomiese hervormings te doen soos deur die VN aanbeveel word. Nog 'n manier is om 'n beleidsraamwerk te skep vir behoorlike deelname a​an besluite oor ekonomiese beleid en die begroting.

Openbare deelname is uiters belangrik omdat dit die uitwerking van beleide op kwesbare en benadeelde groepe kan beklemtoon. Dit kan ook maniere aan die hand doen om sulke uitwerkings te vermy of te versag.

Suid-Afrika was hoog geplaas op die 2019 Ope-begrotingpeiling ten opsigte van die deursigtigheid van sy begrotingsproses, maar laag ten opsigte van openbare deelname. Burgerlike organisasies het gekla dat die begrotingsproses ontoeganklik is vir arm gemeenskappe. Hulle sê dit bied nie betekenisvolle geleenthede vir deelname nie. 

Sonder hulpbronne is menseregte niks meer as woorde op 'n stuk papier nie. Suid-Afrika het 'n behoorlike beleids- en wetgewende raamwerk nodig om te verseker dat menseregte veral in moeilike tye ekonomiese besluitneming rig. 

*Lees hier verder wat prof Sandra Liebenberg is 'n uitgelese professor en bekleër van die HF Oppenheimer-leerstoel in Menseregtereg by die Fakulteit Regsgeleerdheid aan die Universiteit Stellenbosch, oor hierdie kwessie te sê het.