Die meeste studente wat 'n semesteruitruil onderneem, verwag om hulle horisonne te verbreed en te leer hoe om hulle weg deur verskillende sosiale omgewings te baan. Die uitbreking van die wêreldwye pandemie het egter die buitelandse studie-ervaring 'n algeheel nuwe dimensie gegee.
“Ons was vasbeslote om te reis, ondanks al die onsekerheid, en het voortgegaan met ons voorbereidings totdat ons die groen lig gekry het," sê Maëlle Barrere, 'n magisterstudent van SKEMA Bestuurskool in Frankryk. Sy was een van meer as 300 studente wat uiteindelik in 2021 vir 'n semesteruitruil by die Universiteit Stellenbosch (US) aangekom het nadat hulle 'n jaar lank moes wag vir hulle onderskeie lande se streng inperkings om opgehef te word sodat internasionale reis weer kon begin.
En dit was die wag werd, sê Maëlle, want sy het die heel meeste uit haar besoek gehaal, en selfs 'n internskap by US Internasionaal bekom. Ons het met haar oor haar ervaring gesels.
Verduidelik hoe jy gevoel het toe jy uitgevind het dat jy ná die streng inperking weer kon reis.
My eerste emosie was opwinding, al was daar nog heelwat onsekerheid. Frankryk het in daardie stadium nog 'n klokreël gehad, en die ambassades het nie ten volle gefunksioneer nie. En die spanning het stadig begin oplaai toe ons die nuus ontvang oor die toename in gevalle in Suid-Afrika. Maar omdat ons vasbeslote was om te reis, het ons eenvoudig voortgegaan met ons voorbereidings totdat ons die groen lig gekry het.
Wat was jou verwagtinge van die US? En het die instelling aan daardie verwagtinge voldoen?
Meer as enigiets anders het ek verwag om 'n ryke kulturele ervaring te hê, om nuwe mense te ontmoet, en om as gevolg van die ervaring te groei. En daar is beslis aan my verwagtinge voldoen, selfs met deurlopende COVID-19-beperkings en hibridiese werkswyses. Ek het nie verwag om sulke gawe kollegas te ontmoet, sulke beeldskone landskappe te sien, en sulke goeie herinneringe te skep nie.
Hoe het dit toe gebeur dat jy by US Internasionaal begin werk?
Met hibridiese leer en pandemiebeperkings was dit moeilik om nuwe mense te ontmoet en saam met hulle te kuier, maar ek was vasbeslote om dit te laat werk en steeds 'n manier te kry om by my nuwe omgewing in te skakel. So, toe ek die geleentheid ontvang om 'n internskap by US Internasionaal te voltooi, het ek dit dadelik aangegryp, en dit was uiteindelik een van die hoogtepunte van hierdie uitruilervaring.
Noudat jy al 'n rukkie hier is, hoe ervaar jy dit om by die US te studeer en te werk?
Wat die meeste vir my uitgestaan het, is die werksomgewing: Om as 'n intern by US Internasionaal te werk is heeltemal anders as om in Frankryk te werk. Hier geniet ek 'n oopdeur- en samewerkende werksbenadering, waar ek direk met my bestuurder kan praat en voel dat ek werklik tot die span bydra. My interaksie met my kollegas het op 'n manier daarvoor vergoed dat COVID die portuurskakeling en sosiale integrasie waarmee 'n uitruilervaring gewoonlik gepaardgaan, beperk het.
As jy jou US-ervaring moet verduidelik aan iemand wat nog nie hier was nie, wat sal jy sê?
Eerstens, as jy bekommerd is daaroor om na Suid-Afrika te reis omdat jy weet dit is nie die veiligste land ter wêreld nie, gee jou aankoms hier op Stellenbosch jou daardie geborge kokongevoel. Tweedens is die US beeldskoon – die landskappe, die kultuur. Ek wens regtig ek kon dit alles ten volle verken. Ek kon darem gedurende reses bietjie rondreis en die skoonheid van die land geniet. Wanneer jy Suid-Afrika besoek, moet jy minstens in Kaapstad en Durban 'n draai maak, die strande geniet, en beslis die Drakensberge sien. Ek hoop ook om voordat ek terugkeer nog die Kruger Nasionale Park te sien.