Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Meertaligheid is deel van Suid-Afrikaners se DNS
Outeur: Daniel Bugan
Gepubliseer: 05/10/2021

​Akademici, studente en personeel van die Universiteit Stellenbosch (US) het onlangs maniere ondersoek om 'n meertalige ingesteldheid by leer, onderrig en assessering by die Universiteit te bevorder.

Hierdie besprekings was deel van Taaldag 2021 wat deur die Afdeling vir Leer- en Onderrigverryking aangebied is. Die tema van vanjaar se Taaldag was “Taal, leer, lewe! Implementering van meertaligheid by die US in akademiese en sosiale ruimtes".

Prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier van die SU, het gesê meertaligheid is deel van Suid-Afrikaners se DNS and daarom is die doel van die geleentheid om meertaligheid verder as die Universiteit se taalbeleid te implementeer.

“Ons fokus nie net op institusionele meertaligheid nie, maar ook op individuele meertaligheid. Met ander woorde, ons fokus byvoorbeeld nie net op die skepping van meertalige ruimtes by Stellenbosch deur byvoorbeeld vertaling en tolking nie, maar ons moet mense ook aktief aan om meer as een taal te gebruik, selfs al kan hulle net 'n paar woorde verstaan of praat. Meertaligheid is eerder 'n bate as iets waarvan 'n mens moet wegskram en dit moet omarm en gevier word."

Onderrig en leer

Die eerste paneel het die onderwerp, “Meertaligheid in (aangevulde afstands)onderrig, -leer en -assessering" ondersoek.

Prof Mbulungeni Madiba, Dekaan van die Fakulteit Opvoedkunde, het gesê studente is self 'n waardevolle hulpbron met betrekking tot meertaligheid in die hoëronderwyssektor.

Madiba het gesê die Universiteit moet met sy diverse studenteliggaam maniere vind om geleenthede vir studente te vind om 'n rol in die fasilitering van meertaligheid te speel. “Ons het gevind studente is die beste fasiliteerders wat tutoriale aan betref. Daarom moet ons hierdie platforms vir studente skep om te gebruik."

Madiba het byvoorbeeld voorgestel dat die konsep van e-tutors wat verskillende tale magtig is, ondersoek word. “Wanneer studente 'n probleem ondervind, kan hulle hierdie e-tutors nader wat dan aan hulle sleutel- en moeilike begrippe in hul huistaal sal kan verduidelik," het hy gesê.

Christine Joubert, portefeuljekoördineer vir die Aanlyn Tolking-potgooidiens by die US, het in aansluiting by Madiba gesê meertaligheid gaan nie net oor die billike toegang tot leer en onderrig nie, maar ook oor die skepping van 'n veilige ruimte waar studente in hul moedertaal kan deelneem.

Joubert het na die Inleiding tot die Geesteswetenskappe-module binne die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe se Uitgebreide Graadprogram verwys as 'n voorbeeld van hoe die hegte vennootskap tussen dosente en die tolkdiens 'n meertalige ruimte vir studente skep waarin hulle meer oor onderwerpe kan leer terwyl hulle ook meer oor wêreldsienings en die werklikhede van hul eweknieë leer.

“Onderwerpe en temas wat dikwels omstrede is, word bespreek, maar weens drietalige tolking het meer studente die vrymoedigheid om hul sienings te deel," het sy oor die module gesê.

Een van die paneellede en 'n US-student, Alyssa Kekana, het aan die hand gedoen dat die Universiteit stelsels moet ontwikkel wat meer tale as net Afrikaans en Engels kan akkommodeer.

“SUNLearn verskaf slegs 'n opsie om in Afrikaans (uit Engels) te vertaal en dit is in wese tweetaligheid en nie meertaligheid nie. Microsoft Teams is as 'n regstreekse platform baie afhanklik van vertaaldienste en indien jy nie toegang tot dit het nie, kan dit ietwat van 'n gesukkel wees. Dalk kan ons een van die funksies op Teams – regstreekse transkripsies – gebruik om vertalings aan studente te verskaf. Dalk kan dit uitgehaal, behoorlik vertaal en dan aan die studente beskikbaar gestel word."

Meertaligheid in admin

Die tweede paneel het die onderwerp, “Meertaligheid in administratiewe, sosiale en leefruimtes" bespreek.

Mbalenhle Shandu, 'n tweedejaarstudent in Rekenaarwetenskap en die verwelkomingsleier by die Erica-vrouekoshuis, het verskeie praktiese goed bespreek wat hulle in werking gestel het om hul pad deur 'n meertalige leef- en leerruimte te vind en dit aan die studente te bied.

“Ons het 'n tydgleuf vir inheemse speletjies geskep – speletjies waarmee ons grootgeword het in ons gemeenskappe of wat van een geslag na die volgende oorgedra is. Dit was ongelooflik om te sien hoe die nuwelinge met mekaar omgaan wanneer ons hierdie speletjies gespeel het. Mense uit verskillende uithoeke van die land het sommige van hierdie speletjies herken," het sy gesê.

“Ons het ook elke oggend afgeskop met 'n komiteelid wat 'n daaglikse groet in een van die Suid-Afrikaanse tale voorgehou het en wat dan die groet vir die dag was waarmee ons deur die loop van die dag erkenning aan mekaar gegee het."

Volgens Shandu het hierdie inisiatiewe studente aangemoedig om meer oor mekaar se tale te leer omdat hulle ontdek het hoeveel hulle gemeen het.​


Potgooie: US personeel praat oor meertaligheid
 
As deel van hierdie viering van meertaligheid, deel verskeie personeellede wat betrokke is by aktiwiteite gemoeid met meertaligheid, hul insigte oor veeltaligheid.  

  • Dr Kim Wallmach, Direkteur van die US Taalsentrum, deel haar taalreis en insigte rondom meertaligheid in hierdie potgooi
  • In hierdie potgooi bespreek prof Mbulungeni Madiba, Dekaan van die Fakulteit Opvoedkunde, sy menings rondom veeltaligheid in opvoedkunde. 
  • Sanet de Jager, 'n tolk by die US Taalsentrum, praat oor haar taal ervarings en wat meertaligheid vir haar beteken in hierdie potgooi