Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US navorsers en studente presteer by Afrika Fisiologie-konferensie
Outeur: Media & Communication, Faculty of Science
Gepubliseer: 05/10/2021

​​Nagraadse studente en navorsers van die Universiteit Stellenbosch het uitstekend presteer deur met ag van die 14 toekennings weg te stap gedurende die Fisiologie Vereniging van Suider-Afrika (PSSA) se onlangse jaarlikse konferensie, wat gehou is in samewerking met die Afrika Vereniging vir Fisiologiese Wetenskappe (AAPS).

Die toekennings sluit die Axiology Life Time Career toekenning in van prof Faadiel Essop, direkteur van die Sentrum vir Kardio-metaboliese  Navorsing in Afrika, in die  Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe. Die toekenning vereer 'n goed gevestigde fisioloog met 'n uitstekende nasionale navorsingsprofiel en 'n hoë vlak van internasionale erkenning.

Prof Essop is ook verkies as president van AAPS, terwyl dr Balindiwe Sishi van die Departement Fisiologiese Wetenskappe in die Fakulteit Natuurwetenskappe, verkies is as  tesourier vir die bestuurskomitees van AAPS en PSSA. Bykomend hiertoe, het dr Sishi ook die prys gewen vir die beste algemene plakkaat, vir haar plakkaat oor die identifisering van potensiële biomerkers van kardiotoksisiteit wat deur kanker en/of Doksorubisien-terapie veroorsaak word. Dr Bongekile Skosana, 'n senior dosent in die Departement van Mediese Fisiologie, het 'n tweede plek verwerf in die algemene plakkaatkompetisie vir haar werk oor histologiese veranderinge in reproduktiewe organe wat deur obesiteit veroorsaak word.

MSc-student David Evans het die Johnny van der Walt-toekenning ontvang vir die beste studenteplakkaat. Sy navorsing wat hy onder die studieleiding van prof Carine Smith in die Afdeling Kliniese Farmakologie in die Departement Geneeskunde doen, assesseer die in vitro-lewensvatbaarheid van 'n mens-makrofaag-gebaseerde geneesmiddelafleweringstelsel in sebravislarwes. MSc-student Maia Rawlins was in die tweede plek. Met prof Kathy Myburgh as studieleier, het sy die interindividuele veranderlikheid en die uitbreiding van die poel van satellietselle wat volg op hoë-intensiteit-intervaloefening, ondersoek. Prof Myburgh is die houer van die SARChI-navorsingsleerstoel in geïntegreeerde skeletale spierfisiologie, biologie en biotegnologie.

PhD-student Lesha Pretorius, met prof Smith as studieleier, het die prys gewen vir die beste/innoverendste metode wat gebruik is in haar navorsing oor prikkelbare dermsindroom​. Tesame met PhD-student Tracey Ollewagen, het hulle onderskeidelik tweede en derde gekom in die Wyndham Studente Mondelinge Voordragkompetisie. Tracey se werk fokus daarop om die sellulêre en molekulêre rolspelers wat bydra tot ultrastrukturele veranderinge in rumatoïede kageksia, te verstaan. Haar studieleier is Prof Smith, met prof Myburgh as mede-studieleier.

Die AAPS/PSSA aanlyn konferensie is bygewoon deur akademici en studente van elf Suid-Afrikaanse universiteite en sewe Afrika-lande (Egipte, Ghana, Malawi, Nigirië, Soedan, Zambië en Zimbabwe). Die gasheer vir die konferensie was die Universiteit van die Witwatersrand se Skool vir Fisiologie. Prof Willie Daniels, voorsitter van die plaaslike organiseringskomitee, het in sy verwelkoming gesê Afrika is besig om 'n groter voetspoor in global navorsing te maak, met samewerkingsvennote van verskeie lande, waaronder Oostenryk, België, Frankryk, Duitsland, Iran, Ierland, Switserland, die Verenigde Arabiese Emirate, Brittanje en die Verenigde State van Amerika.