Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Saam skep ons 'n nuwe handelsmerk vir die US
Outeur: Prof Hester Klopper Deputy Vice-Chancellor: Strategy, Global and Corporate Affairs / Viserektor: Strategie, Globale en Korporatiewe Sake
Gepubliseer: 04/10/2021
​Beste kollegas en studente

Die ontwikkeling van 'n nuwe handelsmerk vir die Universiteit Stellenbosch (US) vorder fluks. Kom ek bring jou op hoogte van al die ontwikkelings sedert my laaste kommunikasie.

Gebruik van die nuwe logo

Sedert die onthulling van die nuwe logo in April 2021 volg ons handelsmerkspan 'n uitvoerige projekimplementeringsplan. Ons het duisende handelsmerkbates. Daarom is dit noodsaaklik om te prioritiseer, so die nuwe handelsmerk sal in fases in werking gestel word. Ons handel tans die handelsmerkhandleiding af, waarna die eerste inwerkingstellingsfase sal begin. Intussen gaan ons voort om die huidige US- (Eeufees-)logo te gebruik.

Samehangende handelsmerkargitektuur

Die Rektoraat het op 14 Junie 2021 ons nuwe, eenvormige handelsmerkargitektuur goedgekeur, waaraan ons sedertdien verder skaaf. Die nuwe argitektuur sluit ál ons uiteenlopende US-entiteite in op 'n samehangende, kommunikeerbare manier, en verseker dat ons harmonies onder een handelsmerk bestaan, en ons terselfdertyd duidelik van ander rolspelers in die mark onderskei.

Seremoniële weergawe van die nuwe logo

Die Raad het op 27 September 2021 sy verbintenis tot ʼn eenvormige handelsmerk vir ons Universiteit bevestig deur ʼn aanbeveling van sy Uitvoerende Komitee te bekragtig om die huidige wapenskild met 'n seremoniële weergawe van die nuwe logo te vervang.

Die seremoniële weergawe sal vir formele seremoniële doeleindes en as ons geregistreerde akkreditasiemerk op graadsertifikate gebruik word. As 'n visuele en simboliese voortsetting van die nuwe logo, sal dit 'n samehangende boodskap uitdra oor ons verbintenis tot transformasie in nastrewing van Visie 2040.

'n Voorgestelde ontwerp sal by die Raadsvergadering van 2 Desember 2021 vir oorweging en goedkeuring dien. US-strukture soos die Rektoraat, Institusionele Transformasiekomitee, Visuele Regstellingskomitee, Institusionele Forum en Studenteraad sal egter eers behoorlik geraadpleeg word.

Inligtingsessies oor die nuwe handelsmerk

Die Afdeling Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking sal in die loop van Oktober 2021 met entiteite deur ons hele instelling in gesprek tree om vir die beplande implementering van ons nuwe handelsmerkidentiteit voor te berei. Hierdie gespreksessies sal handel oor die besonderhede van die nuwe handelsmerkposisioneringstrategie en handelsmerkidentiteit, die fynere punte van die samehangende handelsmerkargitektuur en visuele identiteite, en hoe inwerkingstelling en implementering sal werk.

Woordfeesadvertensies

Ons nuwe handelsmerkidentiteit maak in die week van 1 tot 7 Oktober 2021 sy televisiedebuut in 'n advertensie​ ​op Fees TV, die DStv-opwipkanaal vir die Toyota US Woordfees (kanaal 150). Dit het ook onlangs in ʼn koerantadvertensie in ʼn verbandhoudende bylaag verskyn.

Die geleentheid om met ons nuwe handelsmerkidentiteit te spog in wat Suid-Afrika se heel eerste televisiegebaseerde kunstefees sal wees, is 'n ideale geleentheid om ons belanghebbendes en die algemene publiek van ons historiese reis na 'n nuwe handelsmerk te vertel. Kom ons skakel almal in en deel in hierdie mylpaal. Klik hier vir verdere inligting.

Dankie

Noudat ons die laaste pylvak van ons handelsmerkreis nader, bedank ek graag elke lid van die Universiteitsgemeenskap wat tot ons nuwe handelsmerkposisionering en logo bygedra het.

Vriendelike groete

Prof Hester Klopper
Viserektor: Strategie, Globale en Korporatiewe Sake

As jy enige vrae het, nader gerus die handelsmerkspan by branding@sun.ac.za.