Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Ultramoderne US-laboratorium bestudeer die wetenskap agter meertaligheid
Outeur: Engela Duvenage
Gepubliseer: 30/09/2021

​*Ter viering van die geleenthede en moontlikhede wat meertaligheid skep, bied die Afdeling Leer- en Onderrigverryking op 30 September 'n Taaldagkonferensie aan. As deel van hierdie viering van meertaligheid, vestig ons die aandag op van die projekte wat tans by die Universiteit Stellenbosch aan die gang is.

By die Universiteit Stellenbosch (US) word meertaligheid nie net in beleid vasgelê en onder studente en personeellede aangemoedig nie – dit word ook in 'n ultramoderne laboratorium met vernuwende metodes en gevorderde toerusting bestudeer.

Die laboratorium vir meertaligheid en kognisie, oftewel die MultiCog-lab, in die Departement Algemene Taalwetenskap is die enigste van sy soort op die Afrikavasteland. Die navorsingsfasiliteit, wat bestudeer hoe verskillende tale in die brein georganiseer is en kognitiewe funksionering beïnvloed, is in 2018 met finansiering van die Nasionale Navorsingstigting en van die US self tot stand gebring.

“Taal is eie aan die mens. Geen ander spesie het so 'n komplekse en veelsoortige semiotiese stelsel van gebare en simbole ontwikkel om betekenis oor te dra nie," sê prof Emanuel Bylund, navorsingsleier by die MultiCog-lab. “Dít laat ontstaan vrae oor die menslike brein; oor hoe ons taal verwerf en verwerk, en die grondslag en potensiaal van ons taalvermoë." Die studie van hierdie kwessies raak selfs boeiender as 'n mens met meertalige persone werk.

Prof Bylund spits hom toe op die studie van taalontwikkeling en kognitiewe verwerking by mense in verskillende meertalige bevolkings, en het al met sprekers van Duits, Afrikaans, Spaans, Xhosa en Sweeds gewerk. “Die Taaldiversiteitsindeks bied 'n aanduiding van die waarskynlikheid dat enige nuwe persoon wat jy raakloop dieselfde moedertaal as jy sal hê. In die Verenigde Koninkryk is die waarskynlikheid 85%; in Suid-Afrika is dit 'n skrale 13%," verduidelik hy. “Dít maak Suid-Afrika, met sy klomp verskillende tale, die ideale omgewing om aspekte van meertaligheid te bestudeer."

Ironies genoeg is die meeste psigolinguistiese navorsing oor meertaligheid uit die hoek van die taalwetenskap, filosofie, sielkunde en antropologie tot dusver egter in Europa of Noord-Amerika onderneem, al is dié streke tradisioneel oorwegend eentalig. “As gevolg van hierdie sydigheid is die onderwerp van taal en die brein 'n betreklik onderontginde navorsingsgebied in Suid-Afrika, wat gevolge inhou vir ons kennis oor die psigolinguistiek van plaaslike tale," sê Bylund.

Juis daarom is die MultiCog-lab in Suid-Afrika tot stand gebring met die uitdruklike voorneme om meer gevallestudies, onderrigmateriaal oor taalwetenskap sowel as navorsing uit die globale suide te skep. “Ons het meer gelokaliseerde werk nodig oor hoe mense taal skep en verstaan, taalvaardighede verwerf, en oor hulle taalverwante kognitiewe funksionering," benadruk Bylund. Terselfdertyd is dit ook belangrik om na te gaan of bevindinge uit ander wêrelddele steeds op Suid-Afrika en ander meertalige streke in die globale suide van toepassing is. Indien nie, kan dít sekere implikasies hê vir wat ons as die waarheid oor taalontwikkeling by kinders en volwassenes aanvaar.

Die MultiCog-laboratorium is toegerus met oogopsporingstoestelle, klankdigte kamers en gevorderde sagteware om vas te stel hoe verskeie tale in die brein georganiseer word en wat die uitwerking daarvan op kognitiewe funksionering is.

Die oogopsporingstoestelle is byvoorbeeld gebruik ter voorbereiding van 'n referaat wat vroeër vanjaar in die Journaal van Neurolinguistiek  gepubliseer is.

Eerste- en tweedetaalsprekers van Engels in Suid-Afrika het 20 Engelse woorde ontvang, elk saam met 'n Afrikaanse woord, terwyl die EyeLink-toestelle hulle oogbeweging gemoniteer het. Die aanvangsklank van elke woordpaar het foneties ooreengestem: Die Engelse woord “lion" het byvoorbeeld saam met die Afrikaanse woord “laai" verskyn. Die woorde is op 'n skerm vertoon en ook oor deelnemers se oorfone gespeel. Die bevindinge het getoon dat Engels-tweedetaalsprekers, selfs dié wat heel vaardig is in die taal, oor die algemeen meer geneig was om vinnig na die Afrikaanse woord te kyk omdat dit dieselfde aanvangsklank as die Engelse woord gehad het – 'n praktyk wat as “kruistaalaktivering" bekend is.

Die referaat is deur die bestuurder van die MultiCog-lab​, dr Robyn Berghoff, saam met Jayde McLoughlin, 'n MA -student, en prof Bylund geskryf.

'n Ander MultiCog-studie ondersoek tans hoe 'n mens se waarneming van tyd begin verander sodra jy gevra word om spieëlbeeldskrif te lees (d.w.s. agteruit, van regs na links), terwyl 'n verdere projek probeer bepaal of die verskillende tale van 'n meertalige spreker die persoon verskillende besluite ten opsigte van moraliteit, risikoaanvaarding en verbruikersgedrag laat neem.

Toegang tot die jongste tegnologie is 'n groot voordeel, sê prof Bylund. Nietemin bly sy span se kosbaarste instrument die mense wat meer as een taal kan praat en bereid is om aan hulle navorsingsprojekte deel te neem. “Die vlak van taal- en kultuurdiversiteit in Suid-Afrika is ongeëwenaar in die omgewings waar navorsing oor taal en die brein gewoonlik onderneem word, wat ongelooflike geleenthede vir baanbrekersnavorsing bied," voeg Bylund by.

  • Prof Bylund en dr Berghoff is ook die stigters van die Vereniging vir Afrika-psigolinguistiek, wat as 'n saamtrekpunt dien vir vakkundiges van oor die hele vasteland wat die verband tussen taal en kognisie uit verskillende oogpunte bestudeer. Daarbenewens het die MultiCog-lab 'n internasionale raad met senior internasionale navorsers, waaronder proff Marianne Gullberg van die Universiteit van Lund (Swede), Panos Athanasopoulos van die Universiteit van Lancaster, en Guillaume Thierry van die Universiteit van Bangor (albei in die Verenigde Koninkryk). ​