Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Tuberkulose steeds 'n dringende prioriteit in die tyd van Covid-19
Outeur: FMHS Marketing & Communications / FGGW Bemarking & Kommunikasie – Michelle Galloway
Gepubliseer: 30/09/2021
 


Die Covid-19-pandemie het die bereiking van die Verenigde Nasies (VN) se doelwit vir die uitroei van tuberkulose (TB) met ʼn geraamde vyf jaar teruggesit. Ondanks Covid-19 se reuse-uitdagings is daar derhalwe steeds ʼn dringende behoefte om TB-dienste en -navorsing te prioritiseer, sê navorsers van die Immunologienavorsingsgroep in die Afdeling Molekulêre Biologie en Mensgenetika van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe, Universiteit Stellenbosch.

Sowat 10 miljoen mense kry elke jaar TB. In 2019 het 1,4 miljoen mense daaraan gesterf, wat beteken dit was die negende grootste oorsaak van sterftes wêreldwyd. Daar is elke jaar sowat 500 000 nuwe gevalle in Suid-Afrika en bykans 60 000 mense het in 2019 daaraan gesterf.

Gedurende die Covid-19-inperkings in 2020 is TB-dienste beperk. Daar was ook minder toegang tot vervoer na gesondheidsfasiliteite. Dit beteken minder mense is getoets en het behandeling ontvang.

“In 2020 het aanmeldingskoerse drasties met 25% tot 50% gedaal," sê prof Gerhard Walzl, Hoof van die Afdeling Molekulêre Biologie en Mensgenetika. “Daar was dus ʼn drastiese afname in TB-gevalle omdat minder mense getoets word – nie omdat TB verdwyn het nie."

Geïnfekteerde individue wat nie weet hulle is besmet nie, kan ander besmet. “'n Enkele TB-geval kan 10 tot 15 mense per jaar besmet," sê Walzl. “Hierdie mense sal waarskynlik eers vir toetse gaan wanneer hulle baie siek word. Teen daardie tyd sal hulle ʼn groter bakterielading hê en meer aansteeklik wees. Die verhoogde oordrag sal oor ʼn jaar of wat manifesteer. Dit het dus die potensiaal om ʼn reuse-uitwerking op die doelwit van TB-uitwissing te hê."

“Die STOP-TB-vennootskap het in 2020 geraam dat Covid ons vyf jaar teruggesit het wat betref die Verenigde Nasies se Volhoubare Ontwikkelingsdoelwit vir die uitroei van TB teen 2030," sê prof André Loxton, Adjunk-direkteur van die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad (SAMNR) se Sentrum vir TB-navorsing.

Inperkings en die kanalisering van hulpbronne na die stryd teen Covid-19 het ook ʼn impak op die navorsingsgroep se aktiwiteite gehad. Kreatiwiteit en vindingrykheid was nodig om projekte aan die gang te hou.

“Die meeste van ons navorsing word deur internasionale subsidies gefinansier," verduidelik Walzl. “Hierdie projekte het streng spertye en spesifieke resultate word vereis. Om daarvan weerhou te word om deelnemers in gesondheidsorgsentrums te sien, het ʼn ernstige rimpeleffek gehad. Die verlies van toekennings weens ʼn onvermoë om ons teikens te haal, gaan ʼn groot impak op die groep hê. Die meeste personeellede word byvoorbeeld deur subsidies betaal. Hulle is hoogs opgeleide individue met vaardighede wat ten duurste bekom is. Om hulle te verloor sal ʼn verwoestende uitwerking hê op ons vermoë om te funksioneer en sal jare van die bou van kapasiteit en infrastruktuur vernietig."

Die projekte kon voortgesit word danksy onderhandelings met befondsers en ʼn uitgebreide fokus om Covid-19 in te sluit.

Dit was veral belangrik om die effek van Covid-19 op TB te verstaan. “Vroeë navorsing het daarop gedui dat mense met latente TB swak uitkomste kan hê as hulle Covid-19 kry," verduidelik Walzl. “Die immuunreaksie op TB en Covid-19 verskil en ons het nie geweet wat die uitwerking van Covid-19 op TB-behandelingsuitkomste sou wees nie."

Navorsing word gedoen om TB vroeg saam met Covid-19 te diagnoseer. Vrae sluit in of TB- versorgingspunttoetse, wat immuunstelsel-proteïenmerkers meet, valse positiewe resultate in die teenwoordigheid van Covid-19 lewer, asook om die impak van besmetting met Covid-19 op die uitkoms van TB-infeksie en -behandeling te verstaan.

“Ons het gereageer op versoeke van befondsers om Covid-19-navorsing te onderneem, maar het ook gekyk hoe ons Covid die TB-ruimte kon binnebring – hoe ons ons kennis en ervaring op die nuwe bedreiging kon toepas sonder om te ver van ons reikwydte te beweeg," sê Loxton.

Al het Covid die TB-stryd verder na die agtergrond verskuif, het dit ook globale interafhanklikheid beklemtoon en gewys dat sommige probleme nie deur geïsoleerde kolle navorsing opgelos kan word nie.

“Daar is ʼn groter bewustheid van potensiële epidemies en die behoefte om vinniger met aangepaste, vaartbelynde reaksies te reageer," sê Walzl. “Maar daar is tegelyk groter skeptisisme en waninligting oor gesondheidsorg, wat ʼn impak sal hê op mense se gewilligheid om hulp vir siektes soos TB te soek."

“TB word nog as ʼn probleem van die ontwikkelende wêreld beskou. TB-navorsing kry ʼn breukdeel van die befondsing vir siektes soos MIV/vigs. Ons moet dit verander," sê Loxton. “Ons het groter projekte nodig wat vinniger beweeg om meer sensitiewe, spesifieke diagnostiese toetse, nuwe middels en meer entstofopsies te ontwikkel. Ons het politieke wil, fondse en samewerking van alle belangegroepe nodig. Hopelik kan die momentum wat deur Covid-19 geskep is, ook vir TB gebruik word."


  • Gerhard Walzl is ʼn uitgelese professor en is die hoof van die Immunologienavorsingsgroep, asook die Afdeling Molekulêre Biologie en Mensgenetika. Hy is ook die uitvoerende hoof van die Departement Biomediese Wetenskappe aan die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe by die Universiteit Stellenbosch.
  • ​André G. Loxton is ʼn professor en spesialiswetenskaplike by die SAMNR. Hy is ʼn hoofondersoeker van die Immunologienavorsingsgroep en die adjunk-direkteur by die SAMNR se Sentrum vir TB-navorsing.