Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Dave Pepler en Science Café Stellenbosch maak TV-debuut by Woordfees
Outeur: Media & Communication, Faculty of Science
Gepubliseer: 27/09/2021

Die alombekende omgewingskundige, Dave Pepler, en Science Café Stellenbosch sal volgende week hulle debuutverskyning op TV maak as deel van die Toyota US Woordfees-pakket op DStv.

Dave bied sedert 2015 Science Café Stellenbosch, 'n gereelde trekpleister by die Woordfees, aan waarin onderwerpe bespreek word soos die menslike mikrobioom en swerm-intelligensie van termiete, die proe van heuningbostee, die skakel tussen suiker en stres, en die evolusie van velkleur.

Vanjaar bespreek Dave die klimaatsveranderingskrisis vanuit die perspektief van die oseane van die wêreld en spesifiek dié van die Suidelike Yssee – daardie wye en stormagtige, ononderbroke seegedeelte wat van die suidelikste punt van Afrika tot by Antarktika strek.

Sy gas is Alakendra Roychoudhury, 'n professor in mariene- en omgewingsbiogeochemie in die US se Departement Aardwetenskappe.

Die aanbieding bevat ook 'n skyfievertoning met animasie oor die hoofseestrome wat reg rondom die aarde vloei, en waarvan die Antarktiese sirkumpolêre stroom wat om Antarktika vloei, die grootste en sterkste is. Die styging in temperatuur wat wêreldwyd vanaf 1880 tot 2020 waargeneem is, word ook met behulp van animasie vertoon.

“Prof Roychoudhury draai nie doekies om nie," sê Dave. “Dit is verreweg dié belangrikste onderwerp wat ek nóg in 'n Science Café-gesprek onder die loep gaan neem."

Science Café Stellenbosch sal op 1 Oktober 2021 om 16:15 op DStv-kanaal 150 uitgesaai word (datums en tye is onderhewig aan verandering).

  • Vir die volledige Woordfeesprogramgids, klik hier.

Op die foto: Dave Pepler (links) in gesprek met prof Alakendra Roychoudhury tydens die opname van Science Café Stellenbosch by HomeBrew Films in Kaapstad. Foto: Wiida Fourie-Basson