Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Moeg van COVID-19-variante? Jy kan hulle keer
Outeur: Hanél Sadie-Van Gijsen
Gepubliseer: 22/09/2021

Dit is dalk net ʼn kwessie van tyd voor ons te doen kry met ʼn nuwe COVID-19-variant waarteen die  entstowwe wat tans gebruik word oneffektief sal wees. Daarom moet ons almal onsself opnuut verbind tot die voorkoming van COVID-19-infeksie in onsself en in ander mense, skryf dr Hanél Sadie-Van Gijsen (Sentrum vir Kardio-metaboliese Navorsing) in ʼn meningsartikel vir Health24 (22 September 2021).

  • Lees die vertaalde weergawe van die artikel hier onder.

 Hanél Sadie-Van Gijsen*

Beta, Delta, Lambda. En nou C.1.2. Dis nie aldag maklik om by te bly met watter COVID-19-variant ons hierdie week oor bekommerd moet wees, en watter nuwe variante tans besig is om opgang te maak om ons opnuut in 'n inperking tydens die Kersvakansie te dompel nie.

Virusse soos SARS-CoV-2 (die virus wat COVID-19 siekte veroorsaak) muteer die hele tyd. Nie al hierdie mutasies is voordelig vir die virus nie, maar virusse met hierdie nie-voordelige mutasies vermeerder ook nie baie effektief nie, en dus sien ons hulle nie sommer nie, behalwe miskien in 'n laboratorium. Die mutasies wat werklik vir die virus voordelig is, vorm egter variante wat dominant raak in ons gemeenskappe, en dryf dus só hoër infeksiesyfers.

Die Netwerk vir Genomika Toesighouding in Suid-Afrika (Network for Genomics Surveillance in South Africa – NGS-SA)* bepaal die genoom-volgordes van SARS-CoV-2 virusse teenwoordig in pasiënt-toetsmonsters. Mutasies veroorsaak veranderinge in hierdie volgordes, en dus word nuwe genoom-volgordes vergelyk met die volgordes van ander gedokumenteerde variante van SARS-CoV-2, in 'n gekompliseerde vorm van die “soek-die-verskil" speletjie. Wetenskaplikes onderskei tussen “variante van belang" (waar mutasies geïdentifiseer is wat dalk virus-eienskappe soos oordraagbaarheid, diagnostiese akkuraatheid of erns van die siekte kan beïnvloed) en “variante van kommer", waar dit ongelukkig aangedui is dat die teenwoordige mutasies wel die virus kan versterk tot ons nadeel. Ongelukkig is dit so dat teen die tyd wat die titel “variant van kommer" wel aan 'n virus-stam toegeken word, dit reeds 'n sterk teenwoordigheid in die bevolking het. Ons moet dan ons voorkomings- en behandelingstrategieë terugwerkend aanpas, wat maande kan duur en dalk slegs gedeetelik suksesvol mag wees.

By die onlangse Akademiese Jaardag van Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (US-FGGW) het lede van die NGS-SA 'n gevallestudie aangebied van 'n MIV-positiewe vrou wat 216 dae lank aktiewe COVID-19 infeksie gehad het. Gedurende hierdie tydperk het sy altesaam nege positiewe COVID-19 toetse gehad. Sy het ook nie gehou by haar voorgeskrewe anti-retrovirale behandelingsprogram nie. Minder as 'n maand nadat sy uiteindelik effektiewe anti-retrovirale behandeling begin het, het haar MIV-virustelling na byna 0 gedaal, en haar tiende COVID-19 toets was uiteindelik negatief. Daar is egter gedurende hierdie 216 dae vyf nuwe variante van SARS-CoV-2 in haar toetsmonsters geïdentifiseer, waarvan die eerste een reeds binne die eerste week gevind is.

Persone met langtermyn-COVID-19-infeksie word tans as die bron van nuwe variante SARS-CoV-2 beskou. Dit is slegs 'n kwessie van tyd voordat 'n nuwe variant kop uitsteek wat bestand sal wees teen ons huidige entstowwe, wat basies laasjaar se entstowwe is. Ons was tot nou toe gelukkig dat hierdie entstowwe nog redelik effektief is teen die nuutste variante, maar iewers mag ons geluk opraak. Dit sal tyd neem om entstowwe aan te pas, of selfs nuut te ontwikkel, om nuwe variante te teiken.

Hoewel die moderne mRNA entstof-tegnologie wat gebruik is om die Pfizer/BioNtech en Moderna COVID-19-entstowwe te ontwikkel hierdie proses aansienlik sal bespoedig, sal dit nog steeds maande duur om te bepaal of 'n nuwe virus-stam wel 'n dominante variant sal word en sy “eie" entstof sal benodig. Dan moet die nuwe entstof nog ontwikkel, getoets, vervaardig en versprei word, en natuurlik teen hoë kostes toegedien word aan 'n publiek wat heel regmatig mag bevraagteken hoekom hulle juis daardie spesifieke entstof moet kry, as die volgende dominante variant dalk net om die volgende draai wag.

Dit is waarom ons almal opnuut onsself moet verbind tot die voorkoming van COVID-19-infeksie in onsself en in ander mense. Die idee dat “natuurlike" immuniteit ná infeksie beter is as entstof-gedrewe immuniteit is gevaarlik en roekeloos, en sal bloot die pandemie verder uitrek. “Ek is jonk en het 'n lae risiko, ek sal maar net my COVID-19-infeksie agter die rug kry" is nie 'n rasionele strategie nie, en sal jou eie gesondheid (dink aan “lang COVID-19"!) en dalk selfs jou lewe in gevaar stel, en kan potensieel almal in die wêreld bedreig.

Elke persoon loop die risiko om COVID-19 op te doen en ernstig siek te word daarvan. Deur nie jouself te beskerm nie, mag jy dalk net die oorsprong van die volgende super-variant wees wat al ons vordering met die huidige entstowwe kan uitwis. Asseblief, moenie. Beskerm jouself en ander mense teen COVID-19-infeksie deur middel van bewese voorkomingstrategieë soos inentings en sosiale afstandhouding. Anders mag ons dalk nog vir dekades lank 'n virus jaag wat nie sommer ingehaal sal word nie.  

​*Dr Hanél Sadie-Van Gijsen is verbonde aan die Sentrum vir Kardio-metaboliese Navorsing (CARMA) in die Afdeling Mediese Fisiologie by die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch.

*Die Netwerk vir Genomika Toesighouding in Suid-Afrika (Network for Genomics Surveillance in South Africa – NGS-SA) is 'n netwerk van laboratoriums, wetenskaplikes en akademiese instellings wat saamgespan het om te verseker dat die openbare gesondheidsorgbeleid in Suid-Afrika met betrekking tot COVID-19 toegang het tot die beste gehalte wetenskaplike data. Lede van die netwerk sluit in wetenskaplikes van vyf Suid-Afrikaanse universiteite (insluitende US-FGGW), die SA Mediese Navorsingsraad, die Nasionale Gesondheid Laboratorium Dienste en andere. http://www.krisp.org.za/ngs-sa/ngs-sa_network_for_genomic_surveillance_south_africa/