Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
‘Wees altyd vriendelik’, glo nuwe SR-voorsitter
Outeur: Corporate Communication and Marketing Division/Afdeling Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking - Sandra Mulder
Gepubliseer: 20/09/2021

“Wees altyd vriendelik" – dit is die lewensmotto van Viwe Kobokana, die nuutverkose voorsitter van Stellenbosch Universiteit (US) se Studenteraad (SR).

Kobokana is vroeër vandeesmaand tot die amp verkies na afloop van die verkiesing van die nuwe SR. Vir Kobokana het die werklikheid nog nie ingesink dat sy deur haar portuurgroep verkies is as die leier van die studente-organisasie nie. Sy sê egter sy is baie opgewonde om die uitdaging aan te pak.

Kobokana, oorspronklik van Qonce (King Williams Town), is tans besig met haar finale jaar in BSc Menslike Lewenswetenskappe. Hierdie sal nie die eerste keer wees wat sy betrokke is by studenteleierskap nie. Sy het in 2020/2021 as die SR se Transformasiebeampte gedien. Gedurende hierdie tydperk het sy en die SR se Transformasiekomitee werkswinkels ontwerp wat op onderwerpe soos die dekolonisering van die hoëronderwyssektor, geslag, seks en seksualiteit, rasseverhoudinge, anti-geslagsgebaseerde geweld en geestesgesondheid gefokus het.

Hierdie werkswinkels sal aan die nuwe SR as deel van hul inleiding aangebied word en verder uitgebrei word na die res van die US se studente. Een van Kobokana se hoofprioriteite is om op transformasie te fokus en merkbare veranderinge te verseker.  

"Die Universiteit het ʼn wonderlike raamwerk vir transformasie, en die transformasieplan sit dit baie duidelik uiteen. Ek dink egter die uitdaging is om die plan te laat realiseer. Ek weet dat klein veranderinge en resultate uiteindelik tot langtermynveranderinge sal lei. Dit is juis daardie klein veranderinge wat ek graag wil sien," sê Kobokana. Verder wil sy hê alle SR-lede moet transformasie as deel van hul SR-portefeuljes insluit, en hoop sy dat die hele SR transformerend sal werk.

Sy sien ook uit daarna om saam met personeellede van die Universiteit aan verskeie studente-projekte te werk.

"Baie personeellede wil saam met studenteleiers werk en hulle help om maniere te vind om studente te help en te ondersteun. Dit is iets wat ek graag wil bevorder en daarom sal ek my span help om relevante personeellede te vind om hul projekte en werk te institusionaliseer," sê Kobokana.

Terwyl sy daarop gefokus is om die SR te lei, is haar ander prioriteit die voltooiing van haar graad. Sy glo die feit dat sy die afgelope drie jaar by studenteleierskap betrokke was, het haar geleer om 'n balans tussen haar akademiese verpligtinge en buitemuurse aktiwiteite te handhaaf.

Sy sê om georganiseerd te wees, is wat haar help om kop bo water te hou.

Die volgende studente is tot die SR verkies:         

  • Philip Visage (Ondervoorsitter)
  • Alysa-Abby Kekana  (Sekretaris-generaal)      
  • Zander Niemand         
  • Almé Engelbrecht           
  • Ilan Meintjes     (Tesourier)
  • Takadiwa Chipfumbu    
  • Chris Briel
  • Precious Nhamo

    Vir meer inligting oor die SR, klik hier.