Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
​ Beste AgriWetenskappe eerstejaars kry erkenning
Outeur: Engela Duvenage
Gepubliseer: 16/09/2021


Drie studente in die Fakulteit AgriWetenskappe se harde werk op akademiese gebied is erken deurdat hulle aangewys is van die beste eerstejaars in 2020 aan die Universiteit Stellenbosch.

Kelsey Dellar en Lize Theunissen was die fakulteit se top studente in die hoofstroomprogram. Albei is besig met die BSc in Voedselwetenskap-program. Kondwani Ngulube, wat besig is met 'n BScAgric in Plant- en Grondwetenskappe, het erkenning ontvang as die uitblinker-student in die verlengde graadprogram.

Dellar, wat in Pietermaritzburg grootgeword het, het aan St John's Diocesan School for Girls gematrikuleer. Theunissen kom van Caledon, en het skool voltooi aan Hoër Meisieskool Paarl. Ngulube het in Zambië grootgeword en skoolgegaan.

Die drietal is saam met topstudente in ander fakulteite vereer tydens 'n virtuele geleentheid wat aangebied is deur prof. Deresh Ramjugernath, vise-kanselier: leer en onderrig aan die US.

By die geleentheid is die belangrike bydrae wat dosente maak tot die akademiese sukses van studente ook erken. Die topstudente het elk kans gehad om een lektor te nomineer wat hulle reken 'n wesenlike bydrae tot hul sukses gemaak het. Dellar het vir prof. Pieter Gouws van die Departement Voedselwetenskap genomineer, Theunissen vir dr. Marietjie Lutz van die Departement Chemie en Polimeerwetenskap en Ngulube vir me. Marisca Coetzee van die US Taalsentrum.

Die drie AgriWetenskappe-studente is geluk gewens deur prof. Maret du Toit, vise-dekaan vir leer en onderrig in die Fakulteit AgriWetenskappe: “Ek weet elke student se reis gedurende 2020 was baie moeilik. Nie net moes hulle daarby aanpas om vir die eerste keer 'n student te wees nie, maar hulle moes ook aanlyn-studies baasraak, byvoorbeeld. Ten spyte van hierdie uitdagings het die studente die geleenthede aangegryp, en akademies uitgeblink. Dit weerspieël hul sterk karakters, en hoe gemotiveerd hulle is om groot hoogtes te bereik."