Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Bendes buit jongmeisies se kwesbaarheid uit om hulle te lok
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Alec Basson]
Gepubliseer: 14/09/2021

Bendes in die Wes-Kaap is nie kieskeurig wanneer dit kom by die werwing van nuwe lede nie. Hulle werf ook jongmeisies en vroue, sommige selfs so jonk as 12 jaar, om hul werk vir hulle te doen.

“Vroue speel verskillende rolle in bendes. Dit sluit in om inligtingdraers te wees, die versteking en hantering van smokkelware, die stel van lokvalle vir manlike lede van ander bendes, verkoop van dwelms en deelname aan rooftogte. Dit wys vroue is inderdaad deel van die kernaktiwiteite van bendes en nie net randfigure nie," sê Imanuella Muller, 'n geregistreerde berader, wat onlangs haar meestersgraad in Sielkunde aan die Universiteit Stellenbosch behaal het.

Muller het navorsing gedoen oor hoe jongmeisies en vroue in die Wes-Kaap deur bendes gewerf en ingelyf word, en wat hul rol en funksie in hierdie bendes is. Sy het ook probeer vasstel wat gedoen kan word om te voorkom dat hulle by bendes aansluit en hoe vroue wat bendes wil verlaat of wat dit reeds gedoen het, ondersteun kan word.

Muller het vroue ondervra wat op verskillende maniere by die bendekultuur betrokke was en wat aan 'n intervensieprojek deelgeneem het wat aan hulle ʼn kans op 'n nuwe lewe gebied het.

Sy sê haar bevindings toon dat sommige meisies deur sosialisering of deur met lede uit te gaan, mislei of verlei word om by bendes betrokke te raak. Bendes weet wat die behoeftes en kwesbaarhede van meisies in hul gemeenskappe is. Die bendelede gebruik dan hierdie kwesbaarhede om die meisies tot hul voordeel en gewin uit te buit, voeg Muller by.

“Bendes teiken soms vroue wat aan dwelms verslaaf is of wat uit gesiene en welgestelde gesinne in die gemeenskap kom ten einde die vroue se finansiële bronne en status tot voordeel van die bende aan te wend. 'n Algemene manier om in bendes te beland is deur 'n romantiese verhouding met 'n manlike bendelid aan te knoop. 

“Die maklike toegang tot en beskikbaarheid van dwelms kan ook jong vroue na bendes lok en daarby laat betrokke raak."

Volgens Muller gebruik bendes vrees en intimidasie om vroue en jongmeisies te werf en om hulle in bendes vasgevang te hou.

“Een van die deelnemers het genoem dat wanneer vroue sosiaal verkeer met bendelede en lede is van die bendes, word hulle aan baie inligting oor die bendes se aktiwiteite blootgestel. Om as 'n buitestaander hierdie kennis oor bendeaktiwiteite te hê, stel die bende in gevaar en daarom moet die meisies of vroue deel word van die bende as 'n bewys dat hulle vertrou kan word. Indien hulle hierdie druk probeer weerstaan, stel dit hulle en hul gesinne in gevaar."

Muller sê hoewel die deelnemers  nie 'n spesifieke inlywingsritueel genoem het nie, het hulle steeds beklemtoon hoe belangrik dit is dat hulle hul lojaliteit aan en verbintenis tot die bende bewys.

“Die stel van 'n lokval of om 'n manlike lid van 'n ander bende te verlei, is uniek aan vroulike bendelede. Hulle sal 'n manlike lid van 'n vyandige bende lok of verlei wat moontlik op hul bende se moordlys is, sodat dit makliker is vir hul bende om hom te vermoor.

“Die inlywing van 'n vrou by 'n bende simboliseer of stuur 'n boodskap aan bendelede dat sy vertrou kan word en haar lojaliteit bewys het."

​Muller sê dit is moeilik vir 'n vrou om 'n bende te verlaat, veral indien sy kinders by 'n bendelid het of finansieel afhanklik van 'n bendelid is.

“Hulle kan die bende verlaat indien hulle die nodige ondersteuningstelsel in plek het (byvoorbeeld 'n veilige plek om te bly, finansiële middele om hulleself en hul kinders te onderhou), hoewel dit ook soms beteken dat hulle hul tuistes en families moet agterlaat om 'n nuwe lewe in 'n ander dorp of stad te begin.

“Hierdie vroue het gekontroleerde en veilige ontspanningsklubs of groepe nodig waar hulle by opwindende maar steeds gesonde, opbouende aktiwiteite betrokke kan raak en 'n sin van aanvaarding en gemeenskap kan ervaar. Hulle benodig ook geestesgesondheidsdienste, berading en terapie, mentorskap en loopbaanvoorligtingsprogramme en onderwys- en befondsingsgeleenthede veral vir diegene wat hul hoërskoolopleiding wil voltooi, verder wil studeer, vaardighede wil aanleer en 'n werk wil kry."

Volgens Muller bied bestaande voor- en na-intervensie-inisiatiewe nie noodwendig volhoubare verandering vir sommige van die jongmeisies en vroue nie weens 'n gebrek aan geld.

Sy voeg by dat sommige programme ook nie holisties genoeg is om die uiteenlopende behoeftes van hierdie groep vroue aan te spreek nie.

“Dwelmverslawing is byvoorbeeld 'n algemene uitdaging onder vroue in bendes en hulle benodig gespesialiseerde behandeling en bestuur. In die afwesigheid van haalbare ekonomiese geleenthede bestaan daar 'n groot moontlikheid dat hulle weer na 'n bende sal terugkeer."

Muller sê voormalige vroulike bendelede, die regering, nieregerings- en gemeenskapsorganisasies, gemeenskapsleiers, skenkers uit die private sektor en multidissiplinêre spanne (geregistreerde beraders, sielkundiges, psigiaters en maatskaplike werkers) moet by voor- en na-intervensie-inisiatiewe betrokke wees.

SLEGS VIR MEDIANAVRAE

Imanuella Muller

E-pos: muller.imanuella@gmail.com

UITGEREIK DEUR

Martin Viljoen

Bestuurder: Media

Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking

Universiteit Stellenbosch

Tel: 021 808 4921

E-pos: viljoenm@sun.ac.za