ʼn Spelbreker wat ʼn omwenteling in die voortgesette wêreldwye stryd teen tuberkulose (TB) kan meebring, is in die vooruitsig danksy ʼn reuse navorsingstoekenning aan die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) vir die ontwikkeling van ʼn slimfoon-toepassing wat die geluid van ʼn TB-hoes van ander soorte hoesgeluide sal kan onderskei.
Die European and Developing Countries Clinical Trials Partnership (EDCTP) het €2 891 456 (meer as R48 miljoen) toegeken aan prof Grant Theron, Hoof van die Kliniese Mikobakteriologie en Epidemiologie-groep (CLIME) in die FGGW se Afdeling Molekulêre Biologie en Mensgenetika, vir sy geoutomatiseerde, slimfoongebaseerde hoesoudio-klassifikasieprojek vir snel- TB-siftingstoetsing (TB-hoes-oudiosifting of CAGE-TB).
Die EDCTP het ten doel om die maatskaplike en ekonomiese las van armoedeverwante siektes in ontwikkelende lande, veral in Afrika suid van die Sahara te verminder deur die kliniese ontwikkeling van doeltreffende, veilige, toeganklike, gepaste en bekostigbare mediese ingrypings vir MIV/vigs, TB, malaria en afgeskeepte aansteeklike siektes.
Volgens dr Byron Reeve, CLIME-projekbestuurder verantwoordelik vir die CAGE-TB-projek, is CLIME baie bevoorreg om die kurator van Europese belastingbetalers se geld te wees. “Die toekenning sal ons in staat stel om 1 700 pasiënte te werf (genoeg vir deeglike toetsing), die beste toerusting te bekom, ʼn groot span aan te stel vir die pasiёnt-opnames, -onderhoude en -toetse, terwyl top data-analiste en -ingenieurs die hoesgeluid sal ontleed."
CAGE-TB is ʼn vierledige vennootskap tussen die US se FGGW en Departement Elektriese en Elektroniese Ingenieurswese, die Universiteit van Makerere in Uganda, asook medewerkers in die Amsterdam Institute for Global Health in Nederland en die Universiteit van Gottingen in Duitsland. Theron is die hoofondersoeker – “die akademiese brein agter die projek wat seker maak die vier vennote dans in harmonie saam".
CAGE-TB se doelwit is die ontwikkeling van ʼn siftingstoepassing om vas te stel of iemand met TB besmet is en om diegene te identifiseer wat verdere laboratoriumtoetsing moet ondergaan. “Preliminêre data bestaan wat daarop dui dat TB ʼn unieke 'handtekening' het – ʼn klank wat spesifiek aan ʼn TB-hoes is vergeleke met ander soorte hoes soos ʼn rokershoes," verduidelik Reeve. “Ons gaan TB-hoesklanke insamel deur pasiёnte te vra om in hul fone te hoes. Hierdie klankopnames gaan uiteindelik in ʼn toepassing verpak word.
“Deelnemers sal ook gevra word om ʼn slymmonster te verskaf vir laboratoriumtoetsing wat sal bepaal of hulle TB het. Hul hoes-oudio sal deur US-ingenieurs ontleed word en die resultate hiervan en van die laboratoriumtoetse sal vergelyk word.
“Ons probeer nie om TB onteenseglik te diagnoseer nie. Die toepassing is bedoel vir die sifting van baie pasiënte (triage) en om vas te stel wie die waarskynlikste TB het en meer uitgebreide slymtoetsing moet ondergaan. Hierdie is ʼn baie kragtige stap in die Afrika-konteks, want pasiënte vra dikwels eers hulp wanneer omvattende skade reeds aangerig is. Ons hoop ʼn eenvoudige hoes in hul fone sal dít verander," verduidelik Reeve.
“Streng taal sal vermy word," benadruk by. “Die toepassing sal mense bloot vra om kliniek toe te gaan of die versekering gee dat hulle gesond is en oor die volgende stappe inlig. TB-stigmatisering is ʼn groot probleem en ons hoop die toepassing sal dit aanspreek."
Al die pasiёntwerwing en klankopnames sal in Suid-Afrika en Uganda gedoen word. Die US-ingenieurs sal verantwoordelik wees vir die hardeware wat die klanke sal opneem en ontleed en die Duitse medewerkers sal seker maak die toepassing is gebruikersvriendelik met duidelike instruksies. “Nadat die ander vennote seker gemaak het die toepassing werk op ʼn wetenskaplike vlak, sal ons medewerkers in Nederland terugvoer van deelnemers oor hul ervaring daarvan insamel – data om te illustreer dat dit werk. Dít is van kardinale belang vir internasionale goedkeuring en om die aandag te trek van die Wêreldgesondheidsorganisasie en regerings wêreldwyd, met inbegrip van ons eie regering en Departement van Gesondheid.
“Die toepassing sal met 'n reuse internasionale spanpoging in die internasionale kollig geplaas word en die manier verander waarop ons vir TB sif. Die hele wêreld gebruik al dekades lank dieselfde siftingsmetode en hierdie nuwe stukkie tegnologie sal ʼn spelbreker wees wat ʼn omwenteling in sifting sal meebring," sê Reeve. “Probleme soos tydrowende individuele onderhoude om die kliniese geskiedenis te bekom en huiwering by pasiënte sal opgelos word deur ʼn toepassing wat selfs in die privaatheid van jou eie huis gebruik sal kan word."
Volgens Reeve spreek die EDCTP-toekenning boekdele oor die uitstekende voortgaande werk van die projekleier, Theron, gegrond op jare se navorsing. “Theron het agtergekom ons kan beter sif. Die Fakulteit het ʼn omgewing vir uitstekende TB-navorsing geskep en beskik reeds oor die nodige infrastruktuur en ʼn reuse internasionale navorsingsnetwerk wat oor verskeie dissiplines strek.
“Een mens beskik nie oor al die nodige vaardighede vir hierdie projek nie. Dis ʼn kwessie van verskillende intellekte wat in ʼn klein blokkie op jou selfoonskerm byeenkom vir drie stappe: 1. Hoes in jou foon se luidsprekers. 2. Kry die resultate. 3. Ondergaan gespesialiseerde sorg.
“Ek meen hierdie is ʼn ontbrekende legkaartstuk – ʼn innoverende TB-siftingsbenadering wat die US in die kollig sal plaas wat betref nuwe mobiele oplossings vir Afrika-gesondheidsprobleme soos TB," sluit Reeve af.
Foto-erkenning: Unsplash