Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
"Niemand is veilig totdat almal veilig is nie” - Pleidooi vir inentingsolidariteit
Outeur: FMHS Marketing & Communications / FGGW Bemarking & Kommunikasie
Gepubliseer: 09/09/2021

Tydens die eerste golf het julle ons toegejuig.

Tydens die tweede golf het julle met ons gesimpatiseer.

Tydens die derde golf het julle ons geïgnoreer.

Tydens die vierde golf het ons opgegee.

Ons het geveg teen ʼn siekte waarin die helfte van die wêreld nie glo nie. Ons het geveg teen die wanhoop om julle stadig te sien sterf, hulpeloos om in te gryp. Ons het geveg teen die golwe van disinformasie, die onkunde, die arrogansie. Ons het vir julle geveg. Ons het vir ons gesinne geveg. Ons het vir onsself geveg. Ons het nie meer veel veglus oor nie.

Ons is gedaan en het julle hulp nodig. Laat julle inent. Keer die vierde golf."

Hierdie hartstogtelike pleidooi deur ʼn frontlinie-dokter eggo die stemme van personeel in die Covid-19-hoёsorgeenheid van die Tygerberg-hospitaal en vorm die hartklop van ʼn inentingsveldtog van die Universiteit Stellenbosch (US) se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW). ʼn Beroep word daarmee op alle Suid-Afrikaners, en veral die gesondheidsorggemeenskap, gedoen om deel te word van die stryd teen Covid-19 deur hulle te laat inent en familie, vriende en kollegas aan te moedig om dieselfde te doen.

Met die wekroep 'Niemand is veilig tensy álmal veilig is nie', wissel die koor van FGGW-stemme ter ondersteuning van die veldtog van die leiers- tot die studentekorps.

Dr Therese Fish, Vise-dekaan: Kliniese Dienste en Sosiale Impak, skets die lot van gesondheidswerkers sedert die begin van die pandemie en die noodsaak om hulle te ondersteun aangrypend: “Hulle het talle van hul kollegas verloor, soveel meer is geraak toe hulle self siek geword en talle het geestelik gely. Hulle werk onvermoeid om ons gesinne, vriende, kollegas en bure te help red."

In ʼn pleidooi vir dringende optrede om die las op hospitale te verlig, wys dr Paul Ciapparelli, Direkteur van Kliniese Dienste by die Tygerberg-hospitaal, op die bewese doeltreffendheid van Covid-entstowwe om ernstige siekte, hospitalisasie en dus die noodsaak van intensiewe sorg te voorkom.

“Dit help op sy beurt regtig om die Covid-las te verlig en stel ons in staat om meer sorg aan ons ander pasiënte – al die nie-Covid-gevalle – te bied.

“Ek pleit by al ons personeel, asook die algemene publiek, om hulle asseblief sonder versuim te laat inent. Dis verreweg ons beste wapen teen die pandemie."

Die FGGW-koor van stemme word aangevoer deur die Dekaan, prof Jimmy Volmink: “Ons doen ʼn dringende beroep op alle Suid-Afrikaners om al die bewysgebaseerde maatreëls om die oordrag van die Covid-19-virus te verminder en die risiko van ernstige siekte, hospitalisasie en die dood te verminder, heelhartig te omarm. Covid-19-inenting bied ons die beste hoop om die huidige bedreiging vir ons lewe en bestaansmiddele te bowe te kom. Doen asseblief die verantwoordelike ding en kry die inenting!"

Prof Soraya Seedat, uitvoerende hoof van die FGGW se Departement Psigiatrie, doen ʼn beroep op kollegas en studente in die gesondheidsorggemeenskap om magte saam te snoer vir entstofsolidariteit. “Tesame is ons sterker katalisators om die inentingsmomentum te verhoog en inenting in ons werkruimtes en daarbuite te 'normaliseer'. As ʼn gesondheidswetenskappefakulteit behoort ons aan die voorpunt te wees om inentingskoerse te verhoog op die kampus, onder personeel en pasiënte by die hospitale en klinieke wat ons bedien, asook in ons breër gemeenskap." 

Prof Wolfgang Preiser, hoof van die FGGW se Afdeling Mediese Virologie, besweer vrese oor die veiligheid en doeltreffendheid van die Covid-19-entstowwe.

“Mense is skepties oor die spoed waarteen die Covid-19-entstof ontwikkel is, maar dit was gebaseer op dekades van intensiewe wetenskaplike navorsing om entstowwe vir ander siektes te ontwikkel. Sedert die ontwikkeling daarvan is honderde miljoene Covid-19-entstofdosisse wêreldwyd toegedien en het ʼn uitstekende veiligheidsprofiel en baie goeie beskerming teen ernstige en moontlik fatale siekte getoon."

Hy voeg by dat hy self dosyne mense ken wat ernstige Covid-19 gehad het en minstens 20 wat daaraan gesterf het – “en honderde wat die entstof ontvang het en net ʼn dag of twee effens sleg gevoel het".

“Doen dit (ten eerste) vir jouself, maar ook vir jou gesin, vriende, kollegas en ander. Jy betreur waarskynlik die effek van die pandemie op die ekonomie, op skoolgaande kinders en veel meer (soos jy behoort). Die sleutel vir die gemeenskap om na (amper) normaal terug te keer, is in jou eie hande: Jy en al die res moet julle laat inent. Geen verskonings meer nie – gaan daarvoor en gaan nou!"

Dr Jantjie Taljaard, hoof van die FGGW se Afdeling Infeksiesiektes, simpatiseer met die publiek se onsekerheid oor die entstof – veral weens die stortvloed konflikterende inligting wat die ronde doen – maar pleit by mense om die groter prentjie te sien.

“Ons beleef nou 18 maande lank ʼn pandemie wat ʼn impak op elke aspek van ons gemeenskap het en nie net ons gesondheid raak nie, maar huishoudings en ekonomieë vernietig en niks en niemand ontsien nie. En die einde is nog nie in sig nie…"

Hy wys op twee bewese strategieë om die impak te versag: die eerste is nie-farmakologiese maatreëls soos inperkings; en die tweede is inenting. “Die eerste is doeltreffend, maar nie volhoubaar nie en het ʼn diepgaande impak op bestaansmiddele, industrieë, geestesgesondheid en onderwys. Aan die ander kant is dit nou bewys dat entstowwe veilig en doeltreffend is om hospitalisasie en sterftes weens Covid-19 te voorkom en dat dit die kanse om Covid-19 te kry aansienlik verminder.

“Dit is geensins die allerantwoord nie, maar is wel ʼn reuse-deurbraak om die talle euwels van die pandemie aan te pak. As jy die bedreiging van die pandemie wil help beëindig, laat jou inent en help jou gesin en vriende om dit ook te doen."

Prof Keymanthri Moodley, mediese etikus en Direkteur van die Sentrum vir Mediese Etiek en die Reg, plaas die kollig op individuele en maatskaplike verantwoordelikheid tydens die pandemie.

“Ons is dit aan onsself, ons gesinne, ons kollegas en ons pasiënte verskuldig om ons te laat inent, maskers te dra en veilig te wees. ʼn Openbare gesondheidsetiekbenadering gegrond op kollektiewe verantwoordelikheid en solidariteit is van deurslaggewende belang om lewens te red, die ekonomie te laat herleef en die pandemie te beëindig."

Proff Taryn Young en Portia Jordan, kampvegters vir openbare gesondheidsolidariteit, stem saam dat Suid-Afrikaners ʼn maatskaplike verantwoordelikheid het om seker te maak geen leed word aan ander aangerig nie.

“Ons word almal deur Covid-19 geraak. Niemand is ontsien nie en ons kan deur ons kollektiewe optrede ʼn verskil maak," sê Young, uitvoerende hoof van die FGGW se Departement Globale Gesondheid. “Ons word veilig vir masels, Duitse masels, polio, pampoentjies en talle ander siektes ingeënt en nou moet ons verenig en dit weer doen om die impak van Covid-19 te verminder."

Sy word ondersteun deur Jordan, hoof van die FGGW se Departement Verpleeg- en Verloskunde: “Ons moet inenting aktief bevorder en gemeenskappe, familielede en kollegas aanmoedig om hulle te laat inent. Doen die regte ding: Laat jou vandag inent en deel net die waarheid oor die veiligheid en voordele van inenting."

As verteenwoordiger van die Tygerberg-studentegemeenskap pleit Jessica Davies, ʼn vierdejaarstudent, by haar mede-studente om ingeënt te word, omdat almal van hulle op die een of ander manier met pasiënte interaksie het of in nabye kontak kom met ander studente wat sulke interaksie het. 

“As ons verantwoordelike gesondheidsorgpraktisyns wil wees en die gedrag wil toon wat ons by ons pasiënte, vriende en gesinne wil sien, moet ons voor in die ry staan om ingeënt word. Om seker te maak alle pasiënte kry die beste sorg en die stelsel word nie oorlaai nie, het ons ingeënte gesondheidsorgwerkers én ingeënte pasiënte nodig."

In ʼn laaste, kragtige boodskap, verwoord Dr Fish die hunkering na ʼn terugkeer tot nabye menslike kontak en die noodsaak van inenting om dit te verwesenlik.

“Ons as gesondheidsorgpraktisyns ondersteun inenting al eeue lank. Ons is almal ingeënt, ons kinders word almal ingeënt en ons weet entstowwe werk. Ek moedig almal aan – gesondheidsorgwerkers, ons gesinne, ons gemeenskappe en godsdienstige leiers – om saam te staan oor hierdie saak. Ons land het dit nodig.

“Ek verlang na die dae wanneer ons mekaar ʼn drukkie kan gee, en dit gaan net gebeur as ons almal ingeënt is."

 

 

Die volgende personeellede van die FGGW en Tygerberg-hospitaal toon hulle ondersteuning deur die verklaring te onderteken:

Prof Jimmy VolminkDekaan
Dr Therese FishVisedekaan: Kliniese Dienste en Sosiale Impak
Prof Nico Gey van PittiusVisedekaan: Navorsing en Internasionalisering
Prof Susan van SchalkwykWaarnemende Visedekaan: Leer en Onderrig
​Dr Matodzi Mukosi
Tygerberg Hospital Hoof Uitvoerende Direkteur
Dr Paul CiaparelliTygerberg Hospital Direkteur: Kliniese Dienste
Dr Andre MullerTygerberg Hospital Bestuurder: Mediese Dienste
Dr Granville MarinusTygerberg Hospital Bestuurder: Mediese Dienste
Dr Kurt MaartTygerberg Hospital Bestuurder: Mediese Dienste
Dr Roshni MistryTygerberg Hospital Bestuurder: Mediese Dienste
Dr Simon MoetiTygerberg Hospital Bestuurder: Mediese Dienste
Prof Sean Chetty Uitvoerende Hoof: Departement Anestesiologie en Kritieke Sorg
Prof Gerhard WalzlUitvoerende Hoof: Departement of Biomediese Wetenskappe
Prof Karin BaatjesHoof: Afdeling Kliniese Anatomie
Prof Hans StrijdomHoof: Afdeling Geneeskundige Fisiologie
Dr Elize ArcherWaarnemende Hoof: Sentrum vir Gesondheidsberoepe Onderwys
Prof Bob MashUitvoerende Hoof: Departement Huisarts- en Noodgeneeskunde
Prof Heike GeduldHoof: Afdeling Noodgeneeskunde
Prof Taryn YoungUitvoerende Hoof: Departement of Globale Gesondheid
Prof Rene EnglishHoof: Afdeling Health Gesondheidstelsels en Openbare Gesondheid
Prof Xikombiso MbhenyaneHoof: Afdeling Menslike Voeding
Prof Vikash SewramDirekteur: Afrika Kankerinstituut
Prof Gubela MjiDirekteur: Sentrum vir Gestremdheids- en Rehabilitasiestudies
Prof Kathryn ChuDirekteur: Sentrum vir Globale Chirurgie
Prof Sarah Skeen Mede-direkteur: Instituut vir Lewensloopgesondheidsnavorsing
Prof Mark TomlinsonMede-direkteur: Instituut vir Lewensloopgesondheidsnavorsing
Prof Ian CouperDirekteur: Ukwanda Sentrum vir Landelike Gesondheid
Prof Quinette LouwUitvoerende Hoof: Departement Gesondheid- en Rehabilitasiewetenskappe
Prof Conran JosephHoof: Afdeling Fisioterapie
Prof Nicola PlastowHoof: Afdeling Arbeidsterapie
Ms Gouwa DawoodHoof: Afdeling Spraak-Taal- en Gehoorterapie
Prof Richard PitcherUitvoerende Hoof: Departement Mediese Beelding en Kliniese Onkologie
Prof James WarwickHoof: Afdeling Kerngeneeskunde
Prof Hannah SimondsHoof: Afdeling Stralingsonkologie
Dr Chris TrauernichtHoof: Afdeling Mediese Fisika
Prof John AkuduguHoof: Afdeling Radiodiagnose
Prof Helmuth ReuterUitvoerende Hoof: Departement Geneeskunde
Prof Keymanthri MoodleyDirekteur: Sentrum vir Mediese Etiek en die Reg
Dr Neshaad SchreuderHoof: Afdeling Algemene Interne Geneeskunde
Dr Willie VisserHoof: Afdeling Dermatologie
Dr Ankia CoetzeeAfdeling Endokrinologie
Dr F BassaHoof: Afdeling Hematologie
Dr Jantjie TaljaardHoof: Afdeling Infeksiesiektes
Prof Anton DoubellHoof: Afdeling Kardiologie
Prof Razeen DavidsHoof: Afdeling Nefrologie
Prof Jonathan CarrHoof: Afdeling Neurologie
Prof Elvis IrusenHoof: Afdeling Pulmonologie
Dr Riette du ToitHoof: Afdeling Rumatologie
Prof Portia JordanUitvoerende Hoof: Departement Verpleeg- & Verloskunde
Prof Hennie BothaUitvoerende Hoof: Departement Verloskunde en Ginekologie
Prof Mariana KrugerUitvoerende Hoof: Departement Pediatrie en Kindergesondheid
Prof Anneke HesselingDirekteur: Desmond Tutu TB-sentrum
Prof Mark CottonDirekteur: Familie Klieniese Navorsingseenheid
Prof Andrew WhitelawUitvoerende Hoof: Departement of Patologie
Prof Johan SchneiderHoof: Afdeling Anatomiese Patologie
Dr J VersterHoof: Afdeling Geregtelike Geneeskunde
Dr Zivanai C. ChapandukaHoof: Afdeling Hematologiese Patologie
Prof Wolfgang PreiserHoof: Afdeling Geneeskundige Virologie
Prof Soraya SeedatUitvoerende Hoof: Departement Psigiatrie
Prof Heinrich GrobelaarUitvoerende Hoof: Departement Sportwetenskap
Prof Elmin SteynUitvoerende Hoof: Departement Chirurgiese Wetenskappe
Prof Jacques JansonHoof: Afdeling Kardiotorakale Chirurgie
Prof Ian VlokHoof: Afdeling Neurochirurgie
Prof Linda VisserHoof: Afdeling Oogheelkunde
Prof James LoockHoof: Afdeling Oor-, Neus- en Keelheelkunde
Prof Jacques du ToitHoof: Afdeling Ortopedie
Prof Wayne DermanDirekteur: Instituut vir Sport- en oefengeneeskunde
Dr Alex ZuhlkeWaarnemende Hoof: Afdeling Plastiese en Rekonstruktiewe Chirurgie
Prof B BanieghbalHoof: Afdeling Pediatriese Chirurgie
Prof Andre Van der MerweHoof: Afdeling Urologie

 

*Klik hier vir die verklaring deur die Suid-Afrikaanse Komitee van Mediese Dekane oor die aanbeveling van verpligte COVID-19-inenting vir alle gesondheidswetenskappestudente en gesondheidsorgwerkers.​