Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Gesamentlike rekeningkunde-skryfgeleentheid bevorder navorsingsamewerking tussen US en UK
Outeur: George Nel & Juan Ontong
Gepubliseer: 01/09/2021

​Dosente en navorsers van die Skool vir Rekeningkunde by die Universiteit Stellenbosch (US) en die Kollege vir Rekeningkunde by die Universiteit van Kaapstad (UK) het onlangs 'n driedaagse skryfskool by die Mont Fleur-konferensiesentrum naby Stellenbosch bygewoon.

Die doel van dié skryfgeleentheid was om navorsingsamewerking tussen US en UK te bevorder, terwyl deelnemers die geleentheid gehad het om hul aandag by hul eie navorsingsprojekte te bepaal. Prof Ruth Albertyn van die Departement Kurrikulumstudie by US het as skryfkonsultant en fasiliteerder opgetree.

Volgens prof Pieter van Wielligh, direkteur van die Skool vir Rekeningkunde, is dit die eerste gesamentlike skryfgeleentheid wat nog ooit deur die Skool en die Kollege vir Rekeningkunde aangebied is. “Navorsingsamewerking tussen ons instellings is besonder waardevol. Die inisiatief was só suksesvol, dat ek vele meer voorsien."

Deelnemers het saamgestem dat hul begrip van hul navorsingsvelde en hul navorsingsbenadering deur kruisbestuiwing verryk is, dat hul interaksie met ander akademici navorsing geïnspireer en met motivering gehelp het, en dat beide die insette en die terugvoer van die fasiliteerder tot die navorsingsproses bygedra het. Soos een van die deelnemers opgemerk het: “Dis 'n uitstekende benadering met praktiese waarde."

Dr George Nel, adjunkdirekteur van navorsing by die Skool vir Rekeningkunde, het ten slotte bygevoeg: “Hierdie soort skryfgeleenthede is besonder nuttig vir die skep van 'n atmosfeer van vertroue en veiligheid wat skryfwerk oor navorsing bevorder".

  • ​Fotobyskrif: Deelnemers het die beskikbare tyd by die skryfskool benut om aan artikels en navorsingsvoorstelle te werk en navorsingsidees uit te ruil. Sodoende is 'n atmosfeer geskep wat gunstig is vir toekomstige navorsingsamewerking en kwaliteitnavorsing.