Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Wetenskaplikes ontrafel die COVID-19-pandemie
Outeur: FMHS Marketing & Communications / FGGW Bemarking & Kommunikasie – Sue Segar
Gepubliseer: 31/08/2021

Suid-Afrika en Afrika kan ʼn kweekbed word vir nuwe SARS-CoV-2 variante as ons nie ligloop nie, het ʼn top bio-informatikus aan die Universiteit Stellenbosch (US) gewaarsku.

Tydens sy aanbieding by die US se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) se Akademiese Jaardag, het professor Tulio de Oliveira gesê dat anders as ander lande, het Suid-Afrika “baie verskillende golwe" van infeksie ervaar wat veroorsaak het dat die virus elke keer verder evoleer het.

De Oliveira het onlangs by die universiteit aangesluit om ʼn nuwe instituut te open wat ten doel het om epidemies en pandemies beter te verstaan en te beheer. Hy en sy span het onlangs internasionale erkenning ontvang nadat hulle ʼn nuwe variant van die virus in Suid-Afrika bespeur het. As ʼn professor in bio-informatika sal hy ʼn gesamentlike aanstelling in drie verskillende omgewings hê – die US se Skool vir Datawetenskappe en Rekenaardenke, die FGGW, en die Fakulteit Natuurwetenskappe. Vanaf hier sal hy ʼn nuwe nasionale instituut stig – wat voorloping die Sentrum vir Epidemiese Navorsing, Reaksie en Innovasie (SERI) genoem word – om die kennis oor epidemies in Afrika en die globale suide te bevorder.

In sy aanbieding getiteld Emergence and Spread of New Variants of SARS-CoV-2, het De Oliveira gesê dat die Netwerk vir Genomiese Waarneming in Suid-Afrika so vroeg as Maart al begin het om genome te vervaardig en het selfs die eerste geval in die land se volgorde rangskik. Die span het voort gegaan om genome te produseer deur die loop van die pandemie se verskillende golwe.

By wyse van navorsing het die span ook bevind dat langdurige infeksie in individue met gekompromitteerde immuunstelsels ʼn meganisme is vir die ontstaan van nuwe SARS-CoV-2 variante.

Hulle het ook bevind dat daar “multimutasie ontsnappingsvariante" is in individue met gevorderde MIV en langdurige mislukking van antiretrovirale terapie (ART), en dat die replisering van SARS-CoV-2 in die liggaam gestop het kort nadat daar met doeltreffende ART begin is.

Daarom het De Oliveira voorgestel dat mense met MIV doeltreffende ART moet neem, veral as hulle ook Covid-19 opgedoen het.

“Mense met MIV moet voorkeur kry vir Covid-19-inenting, en meer navorsing is nodig om inentingstrategieë te optimaliseer vir mense met gevorderde MIV en ander immuunonderdrukkende toestande," het hy gesê.

Dit is so belangrik om Covid-19-inenting te prioritiseer vir mense met MIV, dat hy en sy span die Suid-Afrikaanse president asook die minister van gesondheid hieroor ingelig het.

“Dit gaan ook baie belangrik wees om so gou as moontlik die ART-program en MIV-diagnose uit te brei," het hy beklemtoon.

De Oliveira het gesê dat die pandemie se eerste golf 16 nuwe stambome van SARS-CoV-2 in Suid-Afrika voort gebring het. Dit is meestal veroorsaak deur superverspreidingsgeleenthede in die land. Die span kon bepaal hoe die virus in die land aangekom en versprei het, en hoe variante ontstaan het.

“In November-Desember 2020 het ʼn nuwe stamboom ontwikkel wat infeksies in Suid-Afrika heeltemal oorheers het en al die ander stambome in die land vervang het. Hierdie stamboom het nie net alle infeksies oorheers nie, dit het ook baie vinnig versprei."

Insgelyks het die tweede golf ook groot getalle mutasies tot gevolg gehad wat aanleiding gegee het tot nuwe stambome van die virus wat dit meer oordraagbaar in mens sowel as diere gemaak het. Nuwe stambome het ook tydens die derde golf ontstaan. “Hierdie virus verras ons elke week."

De Oliveira het gesê dat daar nou veelvoudige gevalle in die literatuur is van langdurige infeksies in immuunonderdrukte individue.

“Ons het bevind dat SARS-CoV-2 baie vinnig evoleer in ʼn onderdrukte gasheer." ʼn Voorbeeld hiervan is gevind in ʼn artikel van ʼn geval in Boston in die Verenigde State oor ʼn individu met langdurige infeksie wat die virus vir ten minste 150 dae nie kon afskud nie, en met volgorde-rangskikking is daar ʼn ophoping van baie mutasies gevind wat kenmerkend was van verskeie variasies en mutasies. Daar was ʼn soortgelyke geval in die Verenigde Koninkryk wat glo die “alfa-variant daar veroorsaak het".

In Suid-Afrika het De Oliveira en sy span ʼn 36-jarige vroulike pasiënt bestudeer met Covid-19 en MIV met “baie swak nakoming aan ART". Sy het vir 216 dae positief gebly vir Covid-19, waartydens daar ʼn “enorme evolusie" van die virus was.

“In hierdie individu het ons gesien dat die virus nie net muteer nie, maar dat dit mutasies bykry en verloor. Dit dui daarop dat indien jy individue het wat vir ʼn lang tyd nie van die virus ontslae kan raak nie – veral as hulle immuunonderdruk is – hierdie virus baie vinnig gaan evoleer, wat nuwe variante kan veroorsaak."

Dit bring mens tot die slotsom dat daar goeie bewyse is dat langdurige infeksie in immuunonderdrukte individue een van die meganismes is vir die ontstaan van SARS-CoV-2 variante.

“As ons nie beide die MIV en SARS-CoV-2 epidemies in Suid-Afrika en Afrika ernstig opneem nie, loop ons die risiko dat Afrika ʼn fabriek kan word vir variante," het hy gesê.


Foto-erkenning: PIXABAY