Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Leerfasiliteerders help kinders met outismespektrumversteuring in hoofstroomskole
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Alec Basson]
Gepubliseer: 30/08/2021

Leerfasiliteerders speel 'n sleutelrol om kinders met outismespektrumversteuring (OSV) te help om in hoofstroomskole by te bly.

Dit is een van die vernaamste bevindings van 'n onlangse studie by die Universiteit Stellenbosch (US).

“Leerfasiliteerders is 'n noodsaaklike deel van inklusiewe onderrig vir kinders met OSV. Hulle lewer spesifieke dienste aan hierdie kinders wat dikwels aan angs ly en wie se leer en sosiale interaksie hierdeur bemoeilik word," sê Mignon Elliott, wat onlangs haar meestersgraad in Sielkunde aan die US verwerf het. Haar studieleiers was dr Bronwyne Coetzee van die US se departement Sielkunde en mnr Ben Truter van die Neurodiversiteitsentrum.

As deel van haar navorsingstudie, het Elliott met leerfasiliteerders in die Wes-Kaap onderhoude gevoer om 'n beter begrip te kry van hul ervarings wanneer hulle met kinders met OSV in hoofstroomskole werk. 

Elliott wys daarop dat kinders met probleme sedert die goedkeuring van die Witskrif oor Spesiale Onderwysbehoeftes: Die Vestiging van 'n Inklusiewe Onderwys- en Opleidingstelsel in 2001 by Suid-Afrika se hoofstroomskole ingesluit is. Sy voeg by dat hierdie kinders dikwels gespesialiseerde en individuele ondersteuning in die hoofstroom-klaskamer benodig (en/of vereis om te hê) en dit is hier waar leerfasiliteerders 'n waardevolle bydrae lewer.

“Ongelukkig weet ons baie min oor leerfasiliteerders se ondervinding, insluitende of hulle genoegsame opleiding vir hul belangrike rol ontvang het."

Volgens Elliott toon haar bevindinge dat hulle die emosionele, sosiale en akademiese funksionering van kinders met OSV in die klaskamer fasiliteer en ook gedurende pouse ondersteuning bied. Oor die algemeen werk leerfasiliteerders reg deur die hele skooldag met hierdie kinders.

“Leerfasiliteerders fokus daarop om angs by hierdie kinders te monitor en om die snellers raak te sien sodat hulle kan weet wanneer die kind nodig het om asem te skep. Hulle versterk ook goeie gedrag en prestasies, heronderrig die materiaal van die onderwyser se les in die klas, en lei die kind se aandag terug na die onderwyser of die taak waarmee die kind besig is.

“Leerfasiliteerders het die belangrikheid van kommunikasie en samewerking tussen alle professionele praktisyns wat betrokke is (die fasiliteerder, ouers, onderwysers, sielkundiges en spraak- en arbeidsterapeute) beklemtoon.

“Hul algemene ervarings het verskil. Die fasiliteerders wat 'n positiewer ervaring gehad het, was dikwels opgelei, het ondersteuning ontvang en het goeie verhoudings met ander praktisyns, veral die onderwyser, gekweek. Een of meer van hierdie goed het dikwels ontbreek by diegene wie se ervarings negatiewer was."

Elliott voeg by dat daar geen spesifieke opleiding vir leerfasiliteerders is nie en baie van die leerfasiliteerders wat aan haar studie deelgeneem het, het geen opleiding ontvang nie.

“Leerfasiliteerders benodig beslis meer opleiding, veral om meer oor OSV en ander neuro-ontwikkelingsversteurings te leer en hoe om daardie moeilike situasies wat moontlik in die klaskamer of in sosiale omgewings mag ontstaan, te hanteer.

“Hulle het hul verhouding met die onderwyser as die belangrikste een aangedui vir die suksesvolle insluiting van kinders met OSV en het ook daarop gewys dat professionele praktisyns soos sielkundiges meer betrokke by die skool moet wees. Hulle het ook 'n behoefte uitgespreek vir 'n ondersteuningsgroep waar hulle mekaar in hul vertroue kan neem en idees kan uitruil."

Sommige skole het nie 'n beleid rakende fasiliteerders, hul rol en verwagtinge nie. Dit kan skole baie help indien hulle dit sal hersien en 'n beleid vir leerfasiliteerders in werking sal stel, voeg Elliott by.

Sy sê dit is belangrik om te onthou dat daar geen eensoortige oplossing is wanneer dit kom by die fasilitering van die insluitingsproses van 'n kind met OSV in 'n hoofstroomskool nie. Elke kind het unieke behoeftes en vereistes; dus moet die fasiliteerder aanpasbaar en buigsaam wees in hulle rol.

Volgens Elliott het haar navorsing gehelp om nie net die rol van 'n leerfasiliteerder beter te verstaan nie, maar ook die opleiding wat hulle ontvang het (indien enige), hul hanteringsvaardighede en hoe hulle eise hanteer, en hul toegang tot bykomende hulpbronne en ondersteuning – iets wat noodsaaklik is vir die insluiting van kinders met OSV by hoofstroomskole.

“Om hul ervarings te verstaan, sal ons help om die gebiede van fasiliteringswerk wat ontwikkel moet word, beter te verstaan. Dit kan ook help om faktore wat verbetering op die lange duur sal bring, te beklemtoon deur te identifiseer hoe om die gehalte van leerfasilitering te verbeter. Dit sal uiteindelik tot die verskaffing van 'n beter inklusiewe omgewing vir kinders met OSV in hoofstroomskole lei."

SLEGS VIR MEDIANAVRAE

Mignon Elliott
E-pos: mignonelliott7@gmail.com

UITGEREIK DEUR

Martin Viljoen

Bestuurder: Media

Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking

Universiteit Stellenbosch

Tel: 021 808 4921

E-pos: viljoenm@sun.ac.za