Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US-houtkundiges help bou aan tweede Afrika-viool
Outeur: Engela Duvenage
Gepubliseer: 04/08/2021

​Houtkundiges aan die Universiteit van Stellenbosch (US) het dit weer gedoen: hulle het gehelp om nog 'n viool te skep uit inheemse Afrika-hout. Dis slegs die tweede instrument van sy soort in die wêreld. Die werk is voltooi met die hulp van 'n luitmaker van Durbanville in die Kaap.

Knysna Swarthout van die boom Dalbergia melanoxylon is gebruik vir die voorkant. Die rug is gemaak van Hardepeer (Olinia ventos), 'n immergroen boom wat aangetref word in woude van die Kaap tot in KwaZulu-Natal. Die hout is verskaf deur Stander Houtwerke in Knysna.

Hout van die Sapele-boom (Entandrophragma cylindricum) uit Wes-Afrika, wat toenemend gewild raak in die maak van kitare, is gebruik vir die nek en ribbe. Die vingerbord is van 'n rooierige Kershout. Hierdie spesie word aangetref van die Kaapse Skiereiland tot in KwaZulu-Natal.

Die nuwe viool het nie die tipiese glim van ander viole nie, aangesien die span besluit het om dit nie te vernis nie. Dit word eerder behandel met byewas en borrie, 'n geheime resep van luitmaker Hadley Duminy van Durbanville, wat die viool uit verskillende dele saamgestel het.

“My 10-jarige dogter Alexandra speel dit daagliks. Dit het 'n vol klank en het 'n bietjie sagter klank as die eerste een. Ek dink dit werk perfek vir jazz, maar klassieke musiek klink ook goed," verduidelik projekleier prof. Martina Meincken, 'n deskundige van hout en materiale van die Departement Bosbou en Houtkunde aan die Universiteit Stellenbosch (SU).

Haar werk behels die bestudering van die eienskappe van houtgebaseerde materiale wat gebruik word in 'n wye reeks toepassings, soos bouwerk, in die maak van meubels en vir energieopwekking.

Die twee viole vorm deel van 'n groter navorsingsprojek wat sy ontstaan in 2019 gehad het, en poog om die akoestiese eienskappe van inheemse houtspesies te verstaan. Een van die eerste stappe in die projek was vir 'n honneursstudent in Houtwetenskap, Keenan Nefdt, om te evalueer of inheemse boomspesies enigsins geskik is vir die gebruik as toonhoute. Sulke hout beskik oor sekere tonale eienskappe, wat dit geskik maak om akoestiese snaarinstrumente mee te maak.

Die oefening om die viole te maak het gedien as opleidingsprojek vir finalejaarstudente wat die program BSc Houtwetenskap aan die US neem. Daardeur het hulle eerstehandse ondervinding gekry in die programmering en gebruik van gerekenariseerde numeries-beheerde (CNC) snymasjiene wat in die Departement Bosbou en Houtwetenskap beskikbaar is.

Prof. Meincken het reeds 'n eerste navorsingsartikel ingedien by 'n vaktydskrif oor navorsing wat in die proses voltooi is. Dit is gedoen in samewerking met US-kollegas prof. Thomas Niesler van die Departement Elektriese Ingenieurswese en dr. Gerhard Roux van die Departement Musiek. Daarin word die verskille in klank tussen die eerste viool wat in 2020 uit Afrika-hout deur die professionele luitmaker Hannes Jacobs vervaardig is, vergelyk met 'n ander een wat hy uit tradisionele toonhoutsoorte gemaak het. Gretna Heynike, 'n violis wat besig is met haar honneursgraad in die US Departement Musiek, het die kontroleviool verskaf en albei instrumente gespeel sodat die nodige opnames geanaliseer kan word.

“Gretna is ook Alexandra se vioolonderwyseres, en saam werk hulle nou aan duette wat hulle kan uitvoer op die twee Afrika-viole. Hopelik sal hulle kans kry om dit voor 'n gehoor te speel wanneer die inperking verby is," vertel prof. Meincken.

“Ek het viole gekies omdat hulle die moeilikste vorm het van alle snaarinstrumente. Oral is kurwes in elke moontlike rigting. 'n Kitaar, by voorbeeld het net 'n plat voorkant," vertel sy oor haar keuse om viole te maak en te bestudeer.

Die eerste viool uit Afrika-hout is verlede jaar deur Jacobs, 'n ervare luitmaker van Pretoria, vervaardig. Die voorkant is van geelhout (Podocarpus latifolius), die rugkant, ribbes en nek van Wes-Afrikaanse Sapele-hout en diebykomstighede soos die vingerbord en kenrus is van kommersieel beskikbare ebbehout. Hierdie instrument het gewys dat mens nie net viole en ander snaarinstrumente vir orkeste hoe te maak uit tradisionele houtsoorte soos spar en esdoorn nie. Kitare word uit alle soorte hout, insluitend Sapele, gemaak.

Werk aan die tweede een het in 2020 begin voor die eerste inperking. Dit is 'n driekwart-viool en kleiner as die eerste, omdat prof. Meincken een wou hê wat haar dogter, wat viool speel, kon gebruik. Daarom het sy baie van die werk privaat befonds.

Nie een van die luitmakers waarmee sy al saamgewerk het het egter vorms van die regte grootte gehad nie – maar dit het haar nie gekeer nie. Daar is toe besluit om die vorms en al die vioolonderdele intern by die Departement Bosbou en Houtkunde te vervaardig.

Prof. Meincken het die vorm geskep waarom die ribbes gevorm is, terwyl twee BSc Houtkunde-studente, Michiel Rust en Mario Liebenberg, begin het om die plate, nek en vingerbord te maak as deel van hul finalejaar-projek. Onder andere moes hulle die vorms  van die verskillende dele programmeer met die hulp van 'n 3D konstruksie-sagtewareprogram, sodat dit deur 'n CNC masjien gesny kon word.  

Selfs met die hulp van tegnologie was dit steeds nie 'n maklike saak nie, en het heelwat handearbeid geverg. Prof. Meincken moes behoorlik daelank werskaf om seker te maak die verskillende dele is die regte grootte.

Omdat soveel mense aan die verskillende dele gewerk het, het dinge nie altyd glad geloop nie. Dit het veroorsaak dat luitmaker Hadley Duminy behoorlik sy storie moes ken toe hy begin het om die viool uit die verskillende stukke op te bou.

“Die probleem was dat ons almal in parallel gewerk het, en dat die stukke nie presies in mekaar gepas het nie. Hy moes op plekke baie paswerk en wegsnywerk doen aan die hout. Daarom het niemand regtig gedink dat die viool 'n goeie klank sou hê nie, maar verbasend genoeg klink regtig eintlik heel goed," erken prof. Meincken.

Die eerste note wat Duminy op die nuwe viool gespeel het was 'n vrolike Bourree-dans deur Johan Sebastian Bach.

“Ons gaan nie nog enige viole bou nie, maar ek hoop om al die ebbehout-onderdele in die eerste viool te vervang met bykomstighede van inheemse hout. Vier BSc Houtkunde-studente in hul finale jaar – Jean-Ryno Muller, Arno Schwarz, Mikal Theron en Rovenco Visagie – werk tans aan die projek, en elk is besig om 'n spesifieke deel te voltooi. Ek hoop hulle sal hierdie keer meer sukses behaal in die programmering van die CNC-masjien sodat die vorms perfek uitgesny word en geen handearbeid met afwerking nodig is nie."