Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
'SciMathUS het my gehelp om in my drome te glo'
Outeur: Fundeka Ndyoki, SciMathUS Class of 2009
Gepubliseer: 02/08/2021

Fundeka Ndyoki sê SciMathUS het haar gehelp om in haarself en haar drome te glo. Hierdie Matie-alumna, wat onder meer ʼn MSc Voedselwetenskap graad aan die Universiteit Stellenbosch behaal het, help deesdae met die opleiding en begeleiding van personeel en eksterne werkers vir die tydige en suksesvolle voltooiing van kwalifikasies en programme.

Ek is Fundeka Ndyoki en ek is gebore in die klein dorpie Qumbu, in die Oos-Kaap. Ons het na Kaapstad verhuis toe ek in graad 6 was en ek het my skoolloopbaan in Mitchell's Plain voltooi. In 2008, my matriekjaar, het ons fisiese wetenskappe-onderwyser ons vertel van 'n program wat deur die Universiteit Stellenbosch aangebied word wat jou die geleentheid bied om jou wiskunde- en wetenskappunte te verbeter ten einde toegelaat te word aan ʼn universiteit. Ek was die enigste persoon in die klas wat die aansoek voltooi het, omdat ek besef het dat my punte nie goed genoeg was om toelating tot siviele ingenieurswese te verseker nie.

Wat my altyd sal bybly van my SciMathUS-jaar was beslis die ondersteuningstelsel wat ons gehad het – in die studentehuise van ons mentors (Tshego ek sal jou nooit vergeet nie sis!), en in die klaskamer van ons fasiliteerders (Dr Elza Lourens is steeds n goeie vriendin van my).  

SciMathUS het my gehelp om in myself en my drome te glo; ek het besef dat ek alles kon doen en wees wat ek wou. Selfs as ek 'n toets sou druip of verkeerd antwoord in die klas het die ondersteuning van ons fasiliteerders gehelp om perspektief te kry en in onsself en ons vermoëns te glo. Ek het aan die einde van my SciMathUS-jaar my wiskunde punte verdubbel van 32% tot 66% en my uitslag in fisiese wetenskappe met 15% verbeter (45 tot 60%).

.Jy is gedwing om diep te grawe en te dink! 

Ons het daagliks klas van 08:00 tot 16:00 gehad. Die werklading sou soms swaar voel, maar dit het my ook deeglik voorberei op my studies. Ek het besef dat net ek verantwoordelik was vir die bestuur van my tyd en dat ek verstandig daarmee te werk moes gaan.

Ek werk tans in die voedselbedryf (vleisbedryf om meer spesifiek te wees) in Gauteng. My werk behels die opleiding en begeleiding van personeel en eksterne werkers vir die tydige en suksesvolle voltooiing van kwalifikasies en programme wat verband hou met slaghuise - van higiëne, vleissnitte en -verwerking - tot programme waar personeel opgelei word om bestuurders te wees. Ek geniet dit regtig om kennis te deel en met mense te kommunikeer.

Ek sal ander aanraai wat nie weet wat om te doen of waarheen om te gaan nie, om vir SciMathUS aansoek te doen –  hierdie program verbeter nie net jou punte nie, maar ook jou as persoon.

Aan al my mede-SciMathUS alumni – kom ons help om ʼn verskil te maak.  Al is dit net met ʼn klein donasie (of groot!). In ons lewens was daar mense wat gewaag het om ons en hierdie inisiatief te ondersteun het omdat hulle geglo het in die positiewe verandering wat dit kan meebring. Laat ons dus ook nou van hierdie geleentheid gebruik maak om terug te gee en sodoende jong mense se lewens te verander.