Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Program vir toekomstige professore: Dr Margreth Tadie
Outeur: Corporate Communication and Marketing Division / Afdeling Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
Gepubliseer: 27/07/2021

Dr Margreth Tadie, 'n dosent in die Departement Prosesingenieurswese, is deel van 'n uitgesoekte groep personeellede van die Universiteit Stellenbosch (US) wat deelneem aan die program vir toekomstige professore (FPP), 'n inisiatief van die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding. Die FPP beoog om 'n getransformeerde volgende geslag Suid-Afrikaanse professore oor alle vakrigtings heen te ontwikkel. Ons vertel jou meer oor haar loopbaan.

 

Dr Margreth Tadie, 'n chemiese ingenieur, wil graag berge in die mynwese versit – berge mynafval. Dit is haar missie om ontslae te raak van die uitskothope en -damme wat myndorpe ontsier, en om terselfdertyd enige oorblywende waarde uit die afval te ontgin.

“Uitskot is wat oorbly nadat waardevolle minerale uit die erts ontgin en onttrek is," verduidelik dié dosent in die US se Departement Chemiese Ingenieurswese. “Wat oorbly, is 'n materiaalmassa wat verplaas is uit die omgewing waar dit hoort."

Dr Tadie konsentreer veral op uitskot van ouer as 60 jaar, toe tegnologie nog nie gevorderd genoeg was om gedurende die mynbouproses alle moontlike ekonomiese waarde te ontgin nie. “Ek kyk na hoe die materiaal herverwerk kan word sodat ons die oorblywende waardevolle metale daaruit kan onttrek. Dít skep 'n geleentheid om die grond en omliggende gebiede waar die uitskot lê te herstel, en bied gemeenskappe boonop 'n geleentheid om ekonomies daaruit voordeel te trek.

“Om die impak van uitskot te beperk is 'n enorme uitdaging wat volhoubare oplossings verg. Dit vereis dat ons nuut dink oor die doel van die materiaal, en met maniere vorendag kom om waarde te herwin én nuwe waarde te skep," voeg dr Tadie by.

Dít impliseer 'n verskuiwing van die gebruik van dikwels toksiese logingsmiddels, waaronder sianied, na meer ekologiese metodes om metale soos goud, koper en die platinumgroep te ontgin. “Dis vir my opwindend om nuwe prosesse te ontwikkel, bestaande prosesse te verstaan en te optimaliseer, en sake nuut te beskou," sê sy.

Haar navorsing strek ook verder as die tegniese sy van dinge: Sy herevalueer voortdurend die lewensikluskoste en omgewings- en maatskaplike impak van voorgestelde prosesse. “Maatskappye is al hoe meer bereid om iets aan uitskot te doen, deels omdat wetgewing hulle toenemend daartoe dwing. Hulle weet dit kan rampspoedige gevolge hê as hulle dit ignoreer, soos ons in 2019 in Brasilië gesien het toe 'n uitskotdam gebreek en die myn daar naby én die omliggende grond met miljoene liter toksiese modder oorstroom het. Dit het miljarde gekos om te herstel."

Loopbaan

Dr Tadie se huidige werk word deur die Royal Society se genootskapsprogram FLAIR (“Future Leaders African Independent Researchers") gefinansier, en sy was ook in 2020 deel van die eerste inname van die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding (DHOO) se program vir toekomstige professore (FPP).

Terwyl eersgenoemde haar navorsings- en akademiese werk deur 'n finansiële toekenning en opleiding ondersteun, is laasgenoemde uitsluitlik op haar ontwikkeling as akademikus gerig. Die FPP bied toegewyde mentorskap, portuurgesprekke én interaksie met toonaangewende akademici wêreldwyd. “Ek is baie bevoorreg om te kan deel wees daarvan," sê sy.

Sy het die afgelope jaar haar navorsingsfokus verskerp en haar loopbaan in oënskou geneem. Die ondersteuning van die FPP-span en haar medegenote was ook baie waardevol om haar die uitdagings te help trotseer wat die COVID-pandemie vir akademici inhou.

Sy geniet die gevoel van vryheid om met akademici van ander instellings en uit verskillende omstandighede en vakrigtings om te gaan, en om as kollegas ervarings uit te ruil. “Die FPP skep ook 'n veilige ruimte om oor jou loopbaan en jou sterk- en swakpunte na te dink én daaraan te werk as dit nodig is," voeg sy by.

Wil Afrika sien vorentoe beweeg

Toe sy as tiener oor 'n moontlike loopbaan moes begin dink, was die mynwese onderaan haar lys. “Ons het gedurende my kinderjare in Zimbabwe gereeld tussen myne rondgetrek, want my pa was 'n metallurg. Ek wou my vlerke so ver moontlik van mynbou af sprei," sê sy.

Sy het ná matriek die graad BIng in Chemiese Ingenieurswese met lof aan Zimbabwe se Nasionale Universiteit vir Wetenskap en Tegnologie verwerf, gevolg deur 'n MIng aan die Universiteit van KwaZulu-Natal in 2009 en 'n PhD aan die Universiteit van Kaapstad in 2015.

Algaande het sy besef dat die mynbousektor, ironies genoeg, presies is waar sy moet wees. Sy begryp nie net die behoeftes en vrese van myngemeenskappe baie goed nie, maar kan ook haar vaardighede gebruik om hulle omgewings- en ekonomiese probleme te help oplos.

Dr Tadie erken dat haar wetenskap aangevuur word deur 'n begeerte om mense te help: “Mynbou vervul 'n groot rol in Afrika. Ek kon my rug daarop draai, of ek kon myself relevant maak deur te werk op 'n gebied wat ek ken. Ek is werklik opreg lief vir Afrika en wil dit graag sien vorentoe beweeg. Ek wil hê dat ons die hulpbronne en minerale rykdom tot ons beskikking benut. Ek wil my talente tot voordeel van my vasteland, my tuiste, aanwend."