Ons treur oor die afsterwe van mev Marian Clift op Vrydag 16 Julie 2021.
Marian het haar in 2015 by die Universiteit Stellenbosch (US) aangesluit as 'n tolk by die Taalsentrum. Sy is in 2021 as 'n dosent in Engels in die Fakulteit Opvoedkunde se Departement Kurrikulumstudie aangestel.
Nietemin het Marian nog lank voor haar aanstelling 'n indruk op die Fakulteit Opvoedkunde gemaak. As 'n HonsBEd-student het sy nie net in haar studie uitgeblink nie, maar ook haar medestudente hulle skryfvaardighede help verbeter. Sy het doelgerig gewerk en dadelik met haar magisterstudie begin, en sodoende diep respek vir haar werksetiek en geesdrif by haar kollegas afgedwing.
Sy het haar magistergraad cum laude verwerf. Een van haar eksaminatore het selfs opgemerk dat haar tesis soos 'n speurroman lees: 'n Mens kan dit eenvoudig nie neersit nie. Weliswaar 'n seldsame kompliment! Haar tesis het haar ook die Rektorstoekenning vir Uitnemende Prestasie vir 2020 besorg.
Terwyl sy vir die Taalsentrum gewerk het, het sy vir die eerstejaars in die Fakulteit Opvoedkunde begin Engels gee. Hier het sy belangrike bydraes gelewer om studente se akademiese geletterdheid, konseptuele begrip en studievaardighede in die algemeen te verbeter. Haar uiteindelike aanstelling as 'n akademikus was dus byna onafwendbaar.
Ten tyde van haar afsterwe het sy reeds in portuurbeoordeelde vaktydskrifte begin publiseer en haar vir PhD-registrasie begin voorberei.
As 'n Universiteitsgemeenskap, is ons diep bedroef oor die verlies van ons kollega en dosent, en betuig graag ons opregte medelye met haar familie, vriende, medewerkers en studente.
In hierdie hartseer tyd herinner ons kollegas aan die bystand tot hulle beskikking. Raadpleeg gerus die webblad van Werknemerwelwees vir kontakbesonderhede.
Studente wat ondersteuning nodig het, word genooi om in verbinding te tree met die Eenheid vir Psigoterapeutiese en Steundienste in ons Sentrum vir Studentevoorligting en -ontwikkeling (supportus@sun.ac.za / 021 808 4994, op weeksdae van 08:00 tot 16:00) of die voltydse nooddiens wat die Universiteit in samewerking met ER24 voorsien (010 205 3032).