Sal die regering se distriksontwikkelingsmodel genoeg wees om disfunksionele munisipaliteite reg te ruk? Dít is die vraag wat dr Harlan Cloete van die Skool vir Publieke Leierskap probeer beantwoord het in ʼn meningsartikel vir Cape Times (21 Julie 2021).
- Lees die gedeeltelik vertaalde weergawe van die artikel hieronder.
Harlan Cloete*
In Suid-Afrika gaan daar skaars 'n dag verby sonder dat daar gerapporteer word oor verraderlike onthullings van bedrog en korrupsie, vermorsing, agteruitgang in infrastruktuur, en munisipaliteite wat die vertroue verloor het van die gemeenskappe wat hulle moet dien. Die gebrek aan vertroue kom soms tot uiting in gewelddadige “diensleweringsproteste" wat deur die armes gedryf word. Die jongste verslag van die ouditeur-generaal (OG) bevestig dat sommige munisipaliteite eenvouding disfunksioneel geraak het omdat ongebreidelde plundering en onbevoegdheid hoogty vier.
Dit is nie verbasend dat munisipaliteite se verslagdoening oor hul prestasies selfs slegter was as hul finansiële verslagdoening nie. Minder as 'n kwart van ons munisipaliteite kan kwaliteitsprestasieverslae lewer om geoudit te word, terwyl net minder as die helfte van hulle voortgaan om onbetroubare inligting oor prestasies te publiseer wat min verband hou met wat hulle in hul strategiese beplanningsdokumente (die Geïntegreerde Ontwikkelingsplan en werksvaardigheids- en gelykheidsplanne) belowe het om te doen.
Die distriksontwikkelingsmodel (DOM) is die jongste reaksie van die regering om die ineenstorting van munisipaliteite aan te spreek. Die DOM is gebou op 'n stel leidende beginsels. En beginsels verander nie. Soos die spreekwoord lui, “Wat opgaan, moet afkom". Die leidende beginsels van die DOM bepleit 'n gesamentlike “Een Plan" wat uitgevoer word deur middel van 'n reeks samewerkende en diep geïntegreerde beplanningsessies waar daar besin word oor navorsing, bewyse, oplossings en innovasiegedrewe dialoog gebaseer op elke distrik / metro se eie dinamika, uitdagings en geleenthede.
Dit gaan nie oor die tiek van bokse of voldoening (compliance) nie, maar eerder om ʼn gewenste toekoms voor te stel en die strategieë en ingrypings te identifiseer wat verandering en impak moontlik sal maak. Een van die uitdagings wat die DOM die hoof wil bied, is die afwesigheid van 'n outomatiese stelsel vir DOM-bedrywighede, -verslagdoening, -monitering en -bestuur omdat daar geen gesentraliseerde stoorplek vir data is wat die regering in staat stel om die visie van gekoördineerde beplanning en begroting te verwesenlik nie.
Die institusionele werktuig vir die DOM is die distriksentrum. Dié middelpunt word op sy beurt deur drie werkstrome bestuur: die geïntegreerde beplanning- en implementeringstroom wat navorsing oor dienslewering en ontwikkeling onderneem en/of koördineer; die stroom vir kapasiteitsbou wat toesig hou oor die implementering van kapasiteitsbou; en die moniteringstroom wat inligting en data oor die basislynmonitering sal ontwikkel om te verseker dat dienslewering plaasvind.
Maar wag ʼn bietjie, het ons dit nie al voorheen gesien nie? Dit is baie gevra om diegene wat verantwoordelik is vir die mislukking van plaaslike regering te vertrou om dit te herbou. Diegene wat ons deur hierdie tiek van bokse en voldoening tot in hierdie gemors regeer het.
Die afgelope twee dekades was daar soveel inisiatiewe, planne en strategieë en selfs direkte ingrypings deur die nasionale en provinsiale regering, met baie min impak, soos bevestig deur die kantoor van die OG. Watter hoop is daar dan dat die DOM die wondermiddel sal wees vir die euwels in plaaslike regering?
Lees hier verder wat *dr Harlan Cloete van die Skool vir Publieke Leierskap aan die Universiteit Stellenbosch oor die kwessie te sê het.