Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
’n Nuwe steunsentrum vir plaaslike entrepreneurs
Outeur: Nicolette Dirk
Gepubliseer: 19/07/2021

​As deel van sy verbintenis tot doelgerigte vennootskappe en inklusiewe netwerke, het die Universiteit Stellenbosch (US) ’n vennootskap aangegaan met die organisasie Ranyaka om kleinsakeontwikkeling in die Stellenbosse omgewing te ondersteun.

Die vennootskap sal aanleiding gee tot die opening van die Economic Hub, ’n ruimte wat plaaslike entrepreneurs toegang sal bied tot verskeie instrumente en tipes steun om hulle ondernemings te help ontwikkel. Die Economic Hub, ’n ruimte waar kreatiewe mense sy aan sy saamwerk, is die eerste van sy soort op Stellenbosch en sal geleë wees by Victoriastraat 7, ’n historiese gebou wat jare lank as ’n kliniek gedien het. 

Die Economic Hub is die jongste van ’n aantal entrepreneursinisiatiewe waarvoor die US die afgelope paar jaar met Ranyaka kragte saamgesnoer het. Ranyaka, ’n stadsbeplanningskonsultasiesaak sonder winsoogmerk, werk saam met inwoners, geloofsgebaseerde instellings, ondernemings, die regering, akademiese instellings en ander entiteite om plekke te skep waar mense deur ekonomiese ontwikkeling en groei kan gedy. 

Toe Ranyaka die Universiteit genader het om in die vestiging van ’n entrepreneursentrum te belê, het die US sonder aarseling sy steun aan die projek toegesê, sê Dr Leslie van Rooi, senior direkteur van Sosiale Impak en Transformasie. Die US het onder meer ’n finansiële skenking vir die opknapping van die Victoriastraatgebou gemaak. 

“Die US het gereageer, want die sentrum sal spesifiek in entrepreneurs en kleinsake op verskillende vlakke in die Stellenbosse omgewing belê. Die ou kliniekgebou waaruit die Economic Hub sal funksioneer, is ’n klipgooi van die Stellenbosse kampus, so die US het saam met ander vennote ingestem om met die opknapping te help, wat sal uitloop op die vestiging van die sentrum,” sê Van Rooi.

Volgens Van Rooi glo die US dat kleinsake met die steun van die Economic Hub se ruimtes en programme in groter ondernemings sal kan ontwikkel, en sodoende Stellenbossers se lewens sal kan verbeter. “Op dié manier kan die Universiteit voortgaan om entrepreneurs op verskillende maniere, sowel op as weg van die kampus, te ondersteun.” 

Marli Goussard, sakeontwikkelingskonsultant by Ranyaka, sê die Economic Hub is een van tien Ranyaka-programme in gemeenskappe wat entrepreneurskapsteun nodig het vir opheffing. “Baie kleinsake het die talent en produkte om hulle ondernemings buite hulle huidige handelsgebiede ten toon te stel, maar kort die finansiële hulpbronne om ’n kommersiële ruimte te huur,” sê Goussard. “Ranyaka kan help deur hulle van ’n sentrum te voorsien waaruit hulle kan werk totdat hulle ondernemings suksesvol genoeg is om onafhanklik te funksioneer.”

Van die entrepreneurs wie se produkte by die sentrum te sien sal wees, sluit in modeontwerpers, kunstenaars, skoonheidsdeskundiges, barbiere en bakkers – almal van Stellenbosch self. Personeellede en studente kan dus verwag om ’n paar bekende gesigte te sien. 

Goussard sê benewens ’n handelsruimte, sal entrepreneurs ook toegang hê tot skootrekenaars en WiFi om suksesvol sake te doen. Boonop sal entrepreneurs wat hulle in die Economic Hub vestig, nie huur hoef te betaal nie. 

“Kleinsake is ’n belangrike deel van die land se ekonomie, want hulle verskaf werk aan ander. Hierdie projek bied ’n platform om mense se waardigheid deur werkskepping te herstel,” sê Goussard.

Vir verdere inligting oor die Economic Hub, klik hier of e-pos admin@ranyaka.co.za.