Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Groot toename in studentegetalle in Upington
Outeur: FMHS Marketing & Communications / FGGW Bemarking & Kommunikasie – Susan Erasmus
Gepubliseer: 15/07/2021

Die kliniese opleiding van mediese- en gesondheidswetenskappe studente in Upington gaan volstoom voort, gedeeltelik danksy die ondersteuning van die Ukwanda-sentrum vir Landelike Gesondheid aan die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW). Ten spyte van die enorme uitdagings wat die Covid-19-pandemie vir gesondheidsdienste meegebring het, het die aantal studente wat hulle kliniese opleiding by hierdie perseel in die Noord-Kaap ondergaan het toegeneem van ses in 2018, tot 48 in 2020.

Sedert 2018 het die FGGW sy opleidingsplatform by die Dr Harry Surtie-hospitaal (DHSH) in Upington uitgebrei, en huisves nou studente uit vier verskillende programme – geneeskunde, arbeidsterapie, fisioterapie, en spraak-taal- en gehoorterapie.

Die aanstelling van dr Hans Hendriks as 'n huisarts by die DHSH het toenemende ondersteuning vir die studente meegebring, en dit komplementeer die uitstekende werk wat reeds gedoen word deur 'n toegewyde groep plaaslike klinici, gelei deur dr George Isaacs (Senior Kliniese Bestuurder), dr Brad Wentzel (Mediese Programkoördineerder) en me Elmarize du Plessis (Koördineerder van Rehabilitasieprogramme).

In 2019 het vier mediese studente in hul finale jaar ʼn aangepaste longitudinale geïntegreerde model-program (LIM) daar voltooi. In daardie jaar was daar 'n totaal 32 studente van drie verskillende programme (geneeskunde, fisioterapie, en arbesidsterapie) wat by die DHSH opleiding ontvang het. In 2020, het 48 studente van dwarsoor die FGGW kliniese opleiding daar ondergaan, met studente van die spraak-taal- en gehoorterapiedepartement wat by hulle aangesluit het.

Opleidingsperiodes by die perseel het ook langer geword, soos in die geval van die 12-weke geïntegreerde moeder- en kindergesondheid-rotasie, wat met sukses van stapel gestuur is.

Die uitbreiding is des te meer prysenswaardig as die effekte van die wêreldwye Covid-19-pandemie in gedagte gehou word.

"'n Globale pandemie het bykomende druk geplaas op 'n gesondheidstelsel wat reeds onder druk verkeer het, en het baie uitdagings meegebring op die gebied van voortgesette kliniese opleiding. Vir 'n nuwe inisiatief, soos hierdie een, was die bedreiging wat dit ingehou het, 'n groot een. As mens dit in gedagte hou, is dit wat die afgelope jaar bereik is, des te meer prysenswaardig," sê mnr Cameron Reardon, die Koördineerder van die Upington-uitbreidingsprojek.

Interprofessionele kultuur

Daar heers 'n sterk kultuur van interprofessionele samewerking by die perseel, en dit word weerspieël in die interprofessionele kultuur wat heers in die hospitaal self.

"DHSH het 'n sterk interprofessionele kultuur binne hulle rehabilitasie-departemente, en dit het daartoe bygedra om hoë vlakke van interprofessionele samewerking onder die studente te bevorder," volgens Reardon. "Baie van die interprofessionele leergeleenthede wat aan die studente gebied word vind plaas as gevolg van dit wat die huidige gesondheidsdiens aan hulle pasiënte bied."

Studente kry die geleentheid om op 'n interprofessionele manier pasiënte te hanteer, en om deel te hê in gesamentlike besluitneming en die formulering van gedeelde doelstellings tesame met pasiënte.

"Ek dink dis belangrik om te meld dat die opleiding wat by Ukwanda gebied word van die begin interprofessioneel van aard was," sê professor Ian Couper, Direkteur van die Ukwanda-sentrum vir Landelike Gesondheid.

Hy meld ook dat dit belangrik is dat alle studente wie se opleiding deur Ukwanda gefasiliteer word as 'n span moet saamwerk oor verskeie dissiplines heen. Hy voel sterk daaroor dat alle betrokkenes insette moet lewer.

Tydens 2021, is 'n bykomende interprofessionele opleidingsgeleentheid by die perseel aangebied – samewerkende-sorg gevallebestuursbesprekings. Ukwanda se samewerkende sorg koördineerder, Jana Muller, het ook 'n reeks werkswinkels op die internet gelaai om plaaslike gesondheidsorgpersoneel aan te moedig om samewerkende sorg te help ontwikkel. Du Plessis en haar span klinici het hierdie sessies gefasiliteer. Studente word 'n geleentheid gebied om aanbiedings te doen oor gevalle waarby hulle betrokke was, en om probleemoplossing aan die hand te doen binne die konteks van interprofessionele bestuursbeplanning.

Ukwanda se ondersteuning aan bestaande gesondheidsdienste en –personeel

Die Ukwanda-sentrum vir Landelike Gesondheid is nie net daarop gemik om met die opleiding van studente te help nie, maar ook om op 'n verskeidenheid van maniere ondersteuning te bied aan die bestaande plaaslike gesondheidsdienste en gesondheidspersoneel.

In toevoeging tot die vorige Discovery Uitgelese-besoekerstoekennings vir interne geneeskunde en chirurgie, wat voortgaande uitreiking ondersteun, was daar onlangs nuus oor twee nuwe besoekerstoekennings deur Discovery. Hulle is toegeken aan die DHSH, onderskeidelik in die velde van oftalmologie en noodgeneeskunde. Beide die toekennings sal fokus daarop om waarde toe te voeg aan die bestaande dienste, en om opleiding te bied aan plaaslike klinici.

Sedert die implementering van hierdie inisiatief, was Ukwanda betrokke by vier van hierdie Uitgelese-besoekerstoekennings:

  • interne geneeskunde (2019)
  • chirurgie (2020)
  • noodgeneeskunde (2021)
  • optalmologie (2021)

Hierdie toekennings maak dit moontlik vir spesialiste in die onderskeie velde om die DHSH in Upington te besoek, en om ondersteuning te bied aan plaaslike gesondheidsdienste deur middel van uitreiking en die bou van kapasiteit.

Die welsyn van studente in landelike plasings

Om byna 800km van die kampus te wees in 'n landelike omgewing bring uitdagings van sy eie op beide die akademiese en die sosiale front. Daar kan moontlik ook geestesgesondheidskwessies wees vir die studente. Dit beteken die implementering van bykomende ondersteuningstrategieë is nodig om die welsyn van die studente te bevorder.

"Die Sentrum vir Studentevoorligting en -ontwikkeling het aanlyn psigoterapiedienste beskikbaar gemaak, wat toegang tot dienste wat geestesgesondheid bevorder meer toeganklik maak vir studente wat ver van die kampus geplaas word," sê Reardon.

Lise Marie Goosen is op 'n tydelike grondslag aangestel as die welsyn-koördineerder in Upington. Sy bied ondersteuning aan alle studente wat in Upington geplaas word vir langer rotasies, insluitende die mediese-, fisioterapie- en arbeidsterapiestudente. Charlene Atkinson, SUNLOC (Universiteit Stellenbosch Logistiek vir die Kliniese Opleidingsplatform) koördineerder op die perseel, bied ook waardevolle ondersteuning aan die studente as gevolg van haar toeganklikheid en haar fisieke nabyheid aan die studente.

Die Landelike Gasheer-inisiatief wys ook 'n gasheergesin toe aan spesifieke studente – 'n program wat met groot sukses deur Gerda Viljoen begin is op die US se Worcester-kampus.