Strook die regering se beëindiging van die Covid-19-verligtingstoelaag van R350 en sy versuim om dit gedurende die huidige inperkingsfase weer in te stel met die Grondwet? Dít is die vraag wat prof Sandra Liebenberg van die HF Oppenheimer-leerstoel in Menseregtereg probeer beantwoord het in ʼn meningsartikel vir Daily Maverick (12 Julie 2021).
- Lees die gedeeltelik vertaalde weergawe van die artikel hieronder.
Sandra Liebenberg*
Toe president Cyril Ramaphosa aangekondig het dat vlak-4 inperkings vanaf 28 Junie 2021 sou geld om die verwoestende derde golf van Covid-19 te hanteer, het hy niks oor maatskaplike hulpverlening gesê nie. Op Sondag 11 Julie is vlak 4 (met enkele aanpassings) met ʼn verdere twee weke verleng. Hierdie keer het president Cyril Ramaphosa die verwoestende uitwerking van die pandemie op lewensonderhoud erken en aangekondig dat die tydelike werkgewer-/werknemersverligtingskema (TERS) vir diegene wat ʼn werk het, hervat sou word vir sektore van die ekonomie wat geraak is.
Daar is egter niks gesê oor die spesiale R350-toelae vir die verligting van maatskaplike nood nie (oftewel, Covid-19 Social Relief of Distress grant – SDR). Hierdie toelaag is met ingang Mei 2020 ingestel as deel van 'n reeks maatskaplike- en ekonomiese verligtingsmaatreëls om die impak van die harde inperking wat vir die eerste keer in Maart 2020 ingestel is, te verminder. Dit was uitbetaal aan diegene ouer as 18 wat geen inkomste uit werk of enige ander maatskaplike toelae verdien het nie.
Hierdie Covid-19-toelaag het gepaard gegaan met die aanvulling van 'n aantal maatskaplike toelaes en die instelling van 'n tydelike versorgerstoelaag van R500 per maand vir primêre versorgers van kinders (die “Versorgerstoelaag"). Namate die inperksmaatreëls in Suid-Afrika verslap is, het die regering einde Oktober die aanvullings tot maatskaplike toelaes en die versorgerstoelaag beëindig.
Die toelaag van R350 is einde April 2021 gestaak, ondanks die feit dat Suid-Afrika steeds in 'n nasionale ramptoestand verkeer het. Ten spyte van 'n aktiewe veldtog deur die burgerlike samelewing en die minister van maatskaplike ontwikkeling, Lindiwe Zulu, se versoek aan die tesourie om die toelaag te verleng, is daar steeds geen teken dat dit gebeur nie.
Die vraag moet gevra word: strook die beëindiging van hierdie toelaag en die regering se versuim om dit gedurende die huidige fase van inperkings weer in te stel met die Grondwet, veral met die reg van elke persoon om toegang tot sosiale sekerheid te hê soos in artikel 27 van die Grondwet uiteengesit?
Die Konstitusionele Hof het gesê die regte in ons Handves van Regte moet in hul historiese en sosiale konteks geïnterpreteer moet. Dit is dus belangrik om die impak van die Covid-19-SRD-toelaag te oorweeg in die lig van ons historiese nalatenskap en huidige konteks van armoede, ongelykheid en werkloosheid. Lees hier wat *prof Sandra Liebenberg, bekleër van die HF Oppenheimer-leerstoel in Menseregtereg by die Universiteit Stellenbosch, verder oor hierdie kwessie te sê het.